Foto: Erkenning aan Hester Hattingh (Sel.: 0723056132)

Tuesday, February 15, 2011

E-PREEK No.1 - Lk 12:1-59 : DIE LES VAN DIE RYK DWAAS

Derduisende mense dring om Jesus saam om te hoor wat Hy sê. Hy waarsku hulle teen skynheiligheid en huigelary — die suurdeeg van die Fariseërs (12:1-3).
Dan spreek Hy 'n kwelvraag aan wat in baie van Sy luisteraars leef: ons durf nie teen die Fariseërs en die godsdienstige sisteem draai nie — ons sal vervolg word. En hierdie godsdiensleiers se onverdraag-saamheid teenoor jukskeibrekers blyk duidelik uit hulle latere hantering van Jesus. Dis waarom die Here dan vanaf v.5 met die mense begin praat oor Sy hemelse Vader se liefdesorg vir mense wat ter wille van Sy Seun vervolg word. En dis hoekom Hy voornemende dissipels waarsku om Hom nie te verloën nie (9-10).
Terwyl die Here Jesus egter besig is met hierdie ernstige lering, val 'n man Hom kru in die rede. In plaas van diep nadenke oor die Here se woorde, is hierdie kêrel met iets heel anders behep: sy en sy broer se getwis oor erfgeld (13).
Jesus ontken nie dat dit 'n ernstige probleem kan wees nie. Maar daarvoor is daar 'n regstelsel. Hierdie man het egter 'n dieper en groter probleem: hebsug! En na aanleiding hiervan vertel Jesus dan die gelykenis. In die proses spreek Hy iets aan wat deur die eeue, maar in die besonder ook vandag, die lewe uit groot dele van die kerk uitwurg en ontelbaar baie kerkmense die ewige saligheid kos.

DIE GELYKENIS IN 'N NEUTEDOP

'n Ryk man het 'n geweldige oes gehad. Hy het 'n probleem wat meeste mense dikwels wens hulle kan hê: sy skure is te klein. Dan doen hy die voor die hand liggende en bou groot genoeg stoorruimte. Daarmee klaar, sit hy by wyse van spreke vergenoegd agteroor en klop homself op die skouer: "Ou bulperd, uiteindelik het jy genoeg om af te tree. Daar is genoeg om jou oudag sorgeloos tegemoet te gaan. Jy het goed gedoen vir jouself. Nou is dit vir alles waaroor jy nog altyd net gedroom het. Jy het hard gewerk; geniet nou jou lewe!"
Dis waaroor ons samelewing droom, nie waar nie; dis waarvoor miljoene hulleself afsloof.
Maar daardie nag sterf die man onverwags. En hy kan nie 'n sent, nie 'n kriesel, nie 'n rafel saamneem die ewigheid in nie.
Die ergste het egter nog gewag. Niks kan erger wees as God se beoordeling van hom nie: "Jou dwaas!" Bulperd het één lewe en één kans gehad — maar dit verspeel. Al wat nou oorbly, is onuitspreeklike smarte tot in die verste ewigheid.

WAAROM IS HIERDIE MAN 'N DWAAS?

Wat is dwaasheid? Dis die weiering om die wêreld om jou te sien en te beoordeel vir wat dit werklik is. Dis om met 'n vals maatstaf te meet; dis om verkeerde prioriteite na te jaag; dis om jouself wys te maak die goeie is sleg en die slegte goed; dis om jouself te bluf.
Hierdie man is 'n dwaas, omdat hy met twee stelle beskouings werk wat baie ver van die waarheid is. En dit gaan nie oor sekondêre sake nie; dit gaan oor sake wat tot in alle ewigheid gewig dra.
Sy beskouing oor besittings slaan die bal op 'n bedenklike wyse totaal mis.
En Sy siening op wat ware lewe is, hou noodlottige gevolge vir hom in.

Wat besittings betref, dwaal hy op 4 maniere:

• Eerstens maak hy homself wys dat sy aardse besittings aan hóm behoort — dat hy dus volle seggenskap daaroor het. Dit blyk daaruit dat hy praat van sy oes, sy skure, sy graan, sy goed, sy siel. Maar hy bedrieg homself. In die absolute sin is niks syne nie. Op wie se grond het sy gewasse gedra? Wie het die reën gestuur? Selfs, wie het hom wysheid en vaardigheid en krag gegee? Wat het ons wat ons nie ontvang het nie?
Waarlik, as die Here gee, en as Hy neem, doen Hy dit as soewereine Eienaar — en wie kan dit betwis? Ons is net diensknegte, rentmeesters — uiters bestuurders, in die Here se diens.

• Tweedens maak hy homself wys dat sy besittings noodwendig vir altyd sal hou — in elk geval "vir baie jare" (19). Maar brande breek soms in pakskure uit, aardbewings vernietig huise, aandelebeurse tuimel inmekaar.

• Derdens maak hy homself wys dat sy besittings daar is vir sy plesier — om van hierdie wêreld 'n lekker plek te maak. Maar die Here gee vir ons besittings om daarmee te woeker — in Sý belang, vir Sý eer, Sý evangelie, Sý kerk, Sy armes.

• Vierdens maak hy homself wys dat sy besittings sy siel kan bevredig. Dis immers sy siel wat hy aanspreek as hy dink aan al die lekker wat op hom wag (19). Maar 'n mens se siel kan nie biefstuk eet, of goeie wyn waardeer nie. Die vrede van jou siel is nie afhanklik van goue ringe en syjaponne nie. Adrienalienopwellings het 'n siel nog nooit bevredig nie.

Wat die lewe betref, dwaal hy op 3 maniere:

• Wat die lewe hier en nou betref, dink hy net aan 'n liggáámlike bestaan. Al spreek hy sy siel aan, wil hy dit bloot beloon met lyflike bevrediging: rus, eet, drink, plesier. Die innerlike mens en sy geestelike welstand kry geen plek op sy voorkeurlys nie. Maar dis die mens se gees wat eintlik belangrik is. Dís die deel van ons menswees wat onvernietigbaar en blywend is.

• Voorts lewe hy asof hierdie lewe al is wat daar is. Hy leef, soos die Prediker sê, "onder die son." Hy berei homself hoegenaamd nie voor op die hiernamaals nie. Hy vee hom af aan die feit dat daar 'n intieme verband bestaan tussen ons lewe hier, en ons lewe hierna — dat ons lewe nóú bepaal waar en hoe ons die ewigheid gaan deurbring.

• En, derdens, soos dit met almal gaan wat soos hierdie man lewe, weier hy om rekening te hou met die komende dood. As hy van tyd tot tyd daarmee gekonfronteer word, skreeu hy vir homself dat sý heengaan so ver in die toekoms lê dat dit so goed soos nooit sal plaasvind nie.

So is 'n dwaas. Hy jaag die verkeerde dinge na. Hy leef in sy eie sprokieswêreld. Hy werk net met daardie realiteite wat hom pas. Hy kies altyd die weg van minste weerstand.

OM RYK TE WEES IN GOD

Lees mens die gelykenis oppervlakkig, lyk dit asof Jesus hierin 'n waarskuwing rig, maar niks positief in die plek daarvan stel nie. Maar die trefreël lê in die laaste vers (21). Met hierdie gelykenis plaas die Here 'n onontkombare en radikale keuse voor ons. Dit sny regdeur tot in die hart van ons bestaan. Wil jy skatte vergader, óf wil jy ryk wees in God?
As mens deur al die opsies van hierdie lewe gewaad het, bly daar uiteindelik één groot en finale keuse oor wat jy móét maak: gáán jy vir hierdie wêreld, of gáán jy vir die lewe hierna? En 'n kompromie is nie moontlik nie. Jy gaan óf vir die een, óf vir die ander. Dis wat Jesus sê.
En dis hieroor wat Hy dit het in die res van die hoofstuk. Ons tyd is te beperk om in besonderhede daarna te kyk. 'n Oorsigtelike benadering sal egter ook nuttig wees — om 'n geheelbeeld te kry.

• Eerstens sê Jesus dat Sy dissipels nie bekommerd hoef te wees oor hulle versorging as hulle dit najaag om ryk in God te wees nie (22-34). Dis mos so dat hierdie wêreld se kompensasies amper altyd te doen het met geld en besittings. Sal mens dus nie krepeer as jy nie met alle ywer opgaar nie? Nee, sê Jesus, julle Hemelse Vader sal tot in die fynste besonderhede na julle omsien — mits, natuurlik, julle allesbeheersende gerigtheid die koninkryk van God is (31).
Daarom, sê Jesus, moenie vergader nie, maar wees uitbundige uitdelers (33). Nie alleen is dit die manier om die suigkragte van hierdie wêreld te smoor nie, dis ook 'n wonderlike manier om in die hemel te belê, en dus ryk in God te wees.
Onthou, sê die Here ten slotte, alles gaan oor die gerigtheid van jou hart — en dis 'n onontkombare wetmatigheid: waar jou skat is, sal jou hart wees (34).

• Tweedens, sê die Here, moet ons verstaan dat Hy nie hier van 'n stokperdjie praat nie — iets waaraan mens net nou en dan aandag gee as jy tyd en lus het (35-48). Nee, nee! Hy praat van 'n ywer en 'n afwagting wat elke dag uitkoop vir die eer van die Here en die koms van Sy koninkryk. Dis soos 'n slaaf wat weet sy baas kan enige dag terugkeer, en daarom sorg dat alles dag na dag deur 'n ring getrek kan word. Niks is vir hom belangriker as om sy baas tevrede te
stel nie.
Anders as die ryk boer wat nou agteroor wil sit en die lewe geniet, lewe Jesus se dissipels dus met enkelhartige toewyding in die lig van die ewigheid.

• Derdens, hou so 'n lewenstyl en -gerigtheid gewigtige implikasies in (49-53). Dit bring jou in stryd met die mense en waardes van hierdie wêreld. En hierdie sondegevalle wêreld is alles behalwe verdraagsaam teenoor stroomop-lopers — teenoor mense wat 'n appél op hulle gewetens maak.
Jesus se dissipels moet daarom weet dat die lewe meestal die teenoorgestelde vir hulle sal oplewer as wat die ryk boer met sy groot oes op hoop. Hulle belê immers in die hemel en nie hier op aarde nie.

• Die Here Jesus sluit dan hierdie lewensbelangrike stuk lering in die vierde plek af met 'n verwyt en 'n dringende oproep (54-59).
Waarom is hulle blind vir die belangrikheid van die oomblik? Waarom besef hulle nie dis die langverwagte Messias wat met hulle praat nie? Waarom dring dit nie tot hulle deur dat God se ryk met radikaal nuwe waardes en prioriteite op hulle gedaag het nie? Waarom wil hulle aangaan soos nog altyd? Waarom wil hulle steeds op die tromslag van hierdie gevalle wêreld bly voortmarsjeer?
Kom, roep Jesus die mense op, oordeel self. Is wat Ek sê nie in pas met wat God se Woord nog altyd leer nie? (57). Maak dit nie sin nie? Natuurlik! Natuurlik!
Daarom moet mense dringend besin en nie uitstel om kwaliteitsbesluite te neem nie. Niemand weet hoe lank hy of sy nog het om uit hierdie wêreld se gelid te breek nie. En om in die hiernamaals op te daag sonder 'n belegging in die hemel, is té skrikwekkend om te bedink. Om nakend voor God se regbank te moet verskyn — omdat al jou besittings in die graansuiers van hierdie wêreld lê en verrot — sal erger wees as enigiets wat in hierdie lewe met jou kan gebeur. Uit die tronk van God se oordeel sal jy nooit weer kom nie!
Een woord wat eendag, wanneer ons voor die Here se regterstoel verskyn, weer en weer deur die hofsaal sal eggo, is die vyfletterwoord: Dwaas! Dwaas! Dwaas!
Waarlik, niks, maar niks, is in hierdie oomblik vir jou en my belangriker as om die woord van Koning Jesus glashelder duidelik te hoor, en om daadkragtig daarvolgens te leef nie!