Foto: Erkenning aan Hester Hattingh (Sel.: 0723056132)

Sunday, March 1, 2020

SKRIFTUUR EN NATUUR - BEIDE REG VERSTAAN - IS NOOIT IN DISHARMONIE NIE


Skriftuur en Natuur
— beide reg verstaan —
is nooit in disharmonie nie

'n Getuienis

Nico van der Walt

Romeine 1:17-21

Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar, uit geloof met die oog op geloof, soos geskryf is: "En hy wat uit die geloof geregverdig is, sal lewe." Want die toorn van God word uit die hemel geopenbaar oor alle goddeloosheid en ongeregtigheid van mense wat die waarheid in ongeregtigheid onderdruk, omdat dit wat van God geken kan word, vir hulle bekend is, want God het dit onder hulle bekend gemaak. Want sy onsienlike dinge word van die skepping van die wêreld af in dit wat gemaak is, begryp en raakgesien, sowel sy ewige mag as sy goddelikheid, sodat hulle sonder verontskuldiging is, omdat, alhoewel hulle God geken het, hulle Hom nie as God geëer of gedank het nie, maar dwaas was in hulle redenasies en hulle insiglose hart  verduister is.



Inleiding

Oor baie geslagte heen in ons westerse wêreld is teologie as die "koningin van die wetenskappe" beskou. Dit was díé bron van gesag en die maatstok waarmee min of meer alles gemeet is. Die Bybel was nie net in die wakis nie, dit is gelees en was die fondament van geloof en die hart van lewensoortuiging en -gerigtheid van baie.
             Maar in die moderne era het die natuurwetenskappe sewe-myl-treë vooruit gegee. Geleidelik het dit oorgeneem as die sentrale riglyn vir meeste mense se lewens- en wêreldbeskouing. Beheersend oor amper die volle spektrum van filosofie en skeppingsleer is die leer van ateïstiese evolusionisme. En in die gesekulariseerde wêreld van ons dag gee dit steeds die toon aan.
          Dit alles het meegebring dat daar tragiese verwarring onder selfs Christene ontwikkel het oor die betroubaarheid van die Woord van God. Want, so word gedink, reeds deur die heel eerste twee van die Bybel se 1189 hoofstukke trek die alwetende en almagtige wetenskap van ons dag 'n minagtende en grynslaggende swart streep: die Bybel is 'n fabel! Ons kry die boodskap in die media, in die skole, in die universiteite — noem maar op.
          Hoe hanteer ware Christene dit? Hoe maak hulle hul kinders groot? Wat sê hulle vir jongmense wat na hulle eerste universiteitsjaar nie meer wil saamgaan kerk toe nie? Wat maak hulle van Jan Publiek se skeptiese oë en meewarige glimlaggies as hulle probeer evangeliseer?
          Uiteraard moes ek ook maar met hierdie vrae worstel. En in wat volg deel ek met beskeidenheid my oortuigings oor hoe ek die verhouding tussen die Boek van die Skriftuur en die Boek van die Natuur verstaan. Party geleerdes — selfs dalk Christene — sal my aanslag en argumente soms as naïef en oningelig afmaak. En baie konserwatiewe Bybelgelowiges sal my as Bybelkrities afmaak. Maar dit weet ek, ek hoef nóg in die kring van Christengelowiges, nóg midde-in die mees bitsig-ongelowige wêreld, my hoed oor my oë te trek.
          Laat ek sommer dadelik met die deur in die huis val. Vir baie jare reeds is ek oortuig van 'n ou skepping — met ander woorde veel, veel ouer as 6000 jaar. Ek kon sien dat dit heeltemal versoenbaar is met die Skrif, spesifiek ook met Gen 1-2. Maar my insig was nog naïef, nie eksegeties behoorlik begrond nie. In 'n baie vol en bedrywige lewe het 'n behoorlike bestudering van die saak net nooit vóór genoeg in die prioriteitstou gestaan nie. My omstandighede het egter verander. Meer tyd vir so 'n fassinerende studie het gekom. En spyt is ek nie! Dalk is dit wat ek vorentoe skryf voortydig. Baie meer studie is nodig en lê nog voor, gegee lewe en gesondheid. Maar om te skryf help my om my gedagtes te orden. En, wie weet, dalk, net dalk, kan dit nou al party mense help.


Drie aanhalings, 'n belydenis, 'n verduideliking en 'n getuienis

'n Eerste aanhaling

Die groot Nederlandse geleerde en staatsman, Abrahan Kuyper (1837-1920), het gesê (ek kwoteer dit asof my eie woorde): "Al die skrywers van die Bybel is beweeg en gestuur deur die Heilige Gees sodat elke bladsy van God se Woord só onveranderlik en foutloos neergeskryf is dat dit so goed soos 'n direkte skepping van God is. ... Die Skrif is God se Woord, sowel in sy geheel as in sy dele. Dit is woordeliks geïnspireer, nie meganies deur 'n influistering in 'n mense-oor nie, maar organies — deur die woorde te laat ontspring vanuit die betrokke skrywer se eie bewussyn en deur gebruik te maak van daardie woorde wat voorhande was in die skrywer se denke en gees." (Uit 'n toespraak van Kuyper: "De hedendaagsche Schriftcritiek in hare bedenkelijke strekking voor de Gemeente des levenden" — Litterarische Fantasieen and Kritieken XV, 167).

'n Belydenis

As ek na die natuur kyk, des te meer in die lig van die nuutste natuurwetenskaplike ontdekkings, sien ek tot só 'n oorbluffende mate die vingerafdrukke van 'n ewige, onveroorsaakte Oorsaak en almagtige Skeppergod, dat, as dit sou blyk dat die Drie-enige wat Hom in Jesus Christus aan ons geopenbaar het, níé die ware Outeur is nie (ondenkbaar!), sal ek van voor af na 'n ánder Skepper begin soek. Want dis oorweldigend en onontkombaar seker dat Hy ís!

'n Verduideliking

Ek het geen ambisie om nuwe dinge te sê nie. Dit probeer nie om 'n geleerde studiestuk, 'n akademiese verhandeling te wees nie. Dis bloot 'n uiteensetting van hoe ek dinge verstaan; van hoe ek die Skriftuur en die Natuur met mekaar rym. Dis 'n getuienis, 'n belydenis, 'n credo. Dis 'n beskrywing van hoe ek vrede in my gemoed verkry het, en van hoe ek vrymoedig met sowel gewone Christengelowiges (en baie geleerde teoloë), asook met natuurwetenskaplikes (gelowig én ongelowig) kan gesels.

'n Tweede aanhaling

"Op hierdie terrein (die van die natuur) moet nie te haastig iets in stryd met die Skrif geag word nie, en moet 'n mens nie saampraat, voordat jy nie ernstige studie gemaak het nie — anders kan jy jouself deur jou onkunde belaglik maak in die oë van die ongelowige wetenskap." (Aurelius Augustinus, 354-430 nC: De genesi ad litteram).
          As dit 1500 jaar gelede woorde van groot wysheid was, is dit vandag 'n honderd maal meer die geval.

'n Derde aanhaling

Vir seker sal party van my Bybelgelowige broers en susters wat lees wat ek vorentoe skryf, bekommerd raak oor my geloofsregsinnigheid. Daarom haal ek 'n paar sinne aan uit Charles Hodge (1797-1878) se drie-volume Systematic Theology (gepubliseer in 1872/73). Hodge was een van die heel grootste teoloë in die geskiedenis van die kerk. Hy was 'n onkreukbaar regsinnige Bybelgelowige en was reeds 'n eeue-en-'n-half gelede vas oortuig dat wetenskap en Bybel, reg verstaan, nie in disharmonie is nie. Vanselfsprekend was hy gekonfronteer deur Charles Darwin se On the Origen of Species (1859) en het baie duidelik daarmee geworstel. Dit het hy, anders as sovele ander, met groot intellektuele en akademiese integriteit gedoen. So het hy, in 'n tyd toe amper deur die bank geglo is dat die aarde net 'n paar duisend jaar oud is, nooit paniekerig of selfs venynig gereageer toe geoloë, byvoorbeeld, begin verkondig het dat die aarde baie, baie ouer is nie. So skryf Hodge dan: "It will (one day)[1] be found that the first chapter of Genesis is in full accord with the facts, and that the last results of science are embodied on the first page of the Bible. It may cause the church a severe struggle to give up one interpretation and adopt another, as it did in the seventeenth century[2], but no evil need be apprehended. The Bible has stood, and still stands in the presence of the whole scientific world with its claims unshaken" (Hodge 1872, p.171).

          +          Miskien kan ek hier noem dat ek my standpunt oor 'n ou skepping deel met talle uitstaande en regsinnige Bybelgelowiges in die resente geskiedenis, asook in die teologiese en kerklike wêreld van ons dag. Almal wat ek noem is predikers en teoloë.
          Ek noem 'n paar bekende en gerespekteerde name: B.B. Warfield, R.A. Torrey, C.S. Lewis, Francis Schaeffer, Billy Graham, J.I. Packer, Wayne Grudem, Millard Erickson, Norman Geisler, William Lane Craig, Alvin Plantinga, Walter Kaiser, John Piper, Tim Keller.[3]
          Natuurlik is ek goed bewus daarvan dat ander ewe bekwame en beroemde teoloë 'n sewe kalenderdae skepping huldig. Ek haal bloot bogenoemde name aan om te toon dat daar vir seker ook 'n sterk saak uitgemaak kan word vir 'n ou skeppingsbeskouing, sonder om die algehele betroubaarheid van die Skrif onder verdenking te plaas.
          Wat my wel die hoenners in maak, is as aanhangers van sewe kalenderdae almal wat in 'n ou skepping glo onder verdenking plaas deur te suggereer dat hulle ewolusie aanhang (per implikasie ongeloofsewolusie) — want dit is alles behalwe waar.
          Les bes is die ou skeppingsbeskouing, anders as die sewe dae beskouing, nie belas met die aanklag dat dit feitlik die ganse natuurwetenskaplike konsensus geringskat nie.

'n Getuienis

Hierdie studie was en bly vir my 'n wonderlike bydrae tot my groei in Godskennis. Om te dink dat hierdie aarde wat iewers op die rand van die heelal lê — 'n stoffie in die sonnestelsel, wat 'n stoffie in die melkweg is, wat 'n stoffie in die heelal is, wat 'n stoffie in die ewig-ongeskape Skepper se handpalm is — in die hart is van sy plan om Homself te verheerlik! Kan dit wees dat ek, 'n stoffie op hierdie stoffie wat ons aarde noem, bevoorreg is om Hom te ken en lief te hê en te verheerlik!
          Die ontdekkingstog waaroor ek hier met stamelende woorde probeer skryf, het my geloof in, my lof vir, en my aanbidding van die Drieenige God wonderlik verryk — want al drie Persone van die Godheid is betrokke by die skepping en instandhouding van die heelal. Keer op keer droog my woorde op as ek in oorstelpte verwondering en liefdesaanbidding in sy teenwoordigheid verkeer.
          Ek het allermins in hierdie ontdekkingstog gearriveer, inteendeel. As ek die lewe en gesondheid behou, hoop ek om nog talle kere verras en verryk te word met nuwe insigte. Daarom is dit wat ek vorentoe skryf nie in beton gegiet nie. Daar sal seker nog baie aanpassings, regstellings en byvoegings kom — en selfs dalk belydenisse.
          Les bes, wat volg mag dalk net 'n paar medegelowiges help in húlle soeke na klarigheid oor 'n saak wat baie aktueel geword het. Dalk mag dit studerende jongmense help om perspektief te behou onder die geklank van ongeloofskateders. Mag dit 'n hupstoot verleen aan ons roeping om lig en sout te wees in 'n ontnugterde samelewing waarin die kerk meermale die pad byster is — en soms ook skuldig is aan dit waarteen Augustinus hierbo waarsku. Dalk mag dit ouers help in die koersgewing van hulle kinders in 'n gesekulariseerde wêreld (sommige wat hier lees sal dalk dink dit sal 'n hulp vanaf die wal tot in die sloot wees. Maar ek verstout my om eerder te hoop dat dit 'n hulp vanuit die sloot tot bo-op die wal sal wees.)


Persoonlike geloof, oortuigings en uitgangspunte

Ek gee onderstaande paragrawe nommers ten einde vorentoe maklik te kan terugverwys.

1.       Wat ek skryf, skryf ek skaamteloos, vanuit sterk oortuigings — Christelike en Bybelse oortuigings. Maar ek weet ook dat daar oor dit wat ek vorentoe gaan aanspreek, uiteenlopende oortuiginge bestaan. En dikwels word hierdie standpunte gerugsteen deur sterk en vurige opinies. Ongelukkig is dit dikwels niks méér as net 'n opinie nie.
          Maar elke leser moet in die finale analise self besluit wat hy of sy maak van wat ek probeer oordra. Dis immers elkeen se prerogatief en verantwoordelikheid — onontkombaar.

2.       Maar dit gaan oor meer as oortuigings. Dit gaan oor méér as die intellektuele. Ek is 'n Christen, 'n dissipel van die Here Jesus Christus. In Hom alleen skuil ek vir lewe en dood, vir tyd en ewigheid. Al vir amper vyftig jaar. Dis die hart van my bestaan. Niks is belangriker nie. Dit hou uiteraard in dat ek 'n Bybelgelowige is. Ek glo die Bybel is die geïnspireerde Woord van God — van Gen 1:1 af tot en met Op 22:21. En uiteraard het dit enorme en lewensbepalende implikasies vir my.

3.       Vir Christene is waarheid uiters belangrik. Ons is mense van die waarheid. Geen waarheid kan ons daarom ooit bedreig nie. Nóóit hoef ons waarheid te vrees nie! Nooit nie!
          As ons dan inderdaad in Christus is, is ons veranker in Hom wat die weg die waarheid en die lewe is. En as dit wat navorsing in die natuurwetenskappe aan die lig bring dan inderdaad die waarheid is (dit bly natuurlik altyd die vraag), kan dit ons en ons geloof in die Skeppergod en sy waarheidswoord nóóit bedreig nie — net verryk. En dit kan ons net dieper inlei in die summum bonum van ons bestaan: om God steeds beter te ken — sodat ons Hom steeds meer lief kan hê — sodat ons Hom steeds meer kan verheerlik!
          Een stel waarhede kan nooit 'n ander stel waarhede kanselleer of verplaas nie — net bevestig en ondersteun. Waarheid én waarheid is altyd in harmonie. Christene hoef die natuurwetenskappe nooit te vrees nie — nie as dit die geskapene reg verstaan nie!

4.       Nog iets speel noodwendig 'n groot rol in my lewe.
          Ek het meer as 'n dekade se universiteitstudie agter die blad, min of meer gelykop verdeel tussen die natuurwetenskappe en ingenieurswese, enersyds, en die klassieke tale (so 'n blerts daarvan) en teologie, andersyds. Nou mag dit vir party mense klink of ek 'n geleerde man is. Glad nie! Daarvoor is daar nog veels te veel wat ek nie weet of verstaan nie. Daar is baie wat ek só graag beter wil begryp, maar keer op keer vind dat ek eenvoudig verstandelik nie bykom nie.
          Ek is egter nuuskierig en ek hou van verstaan. En ek het 'n passie vir die waarheid. Ek het veral 'n hartstog vir die regte verstaan van God se selfopenbaring aan ons. Ten alle koste wil ek nie 'n pypiekyker wees nie! Dit kon ek nog nooit regkry nie. Ek raak maklik benoud as dinge te eng en bekrompe raak (dit het my al meermale ernstig in die moeilikheid laat beland!).
          Les bes het die Here Jesus Christus my baie jare gelede geroep om Hom en sy waarheid so goed ek kan te ken en te verstaan en om dit dan so wyd moontlik te verkondig — óf deur die gesproke óf deur die geskrewe woord.
          Gegee my agtergrond en my nuuskierigheid, is dit seker nie verbasend dat ek gefassineer is deur die skepping nie (die makroskepping meer as die mikroskepping, moet ek sê). My heel diepste hartstog is die Woord van God — nee, eintlik die Gód van die Woord. Daarom wy ek my al vir dekades aan die verkondiging van Bybelwaarheid — deur sowel prediking as skryfwerk.

5.       Ek is absoluut oortuig daarvan dat God se besondere openbaring in die Heilige Skrif en Sy algemene openbaring in die mikro- en makroskepping, mekaar nie weerspreek nie. As ons beide reg verstaan, sal die twee openbaringe in volkome harmonie wees. As skriftuur en natuur nog uit pas is in ons verstaan daarvan, is dit omdat ons óf die een óf die ander óf beide nog nie reg begryp nie. Dit staan vir my aksiomaties vas! Waarom? Vir my lyk die antwoord voor die hand liggend en onontkombaar. Dis omdat die enige, ware, lewende en almagtige Skeppergod die Maker en Gewer van beide is!
          Ek stel dit hierbo doelbewus negatief. Want die twee openbaringe se aard is verskillend en hulle het grootliks uiteenlopende gerigthede. Hulle praat grootliks oor verskillende sake. Daar is nie baie oorvleueling nie. En tóg is daar wel raakpunte. Dis met die eerste oogopslag maar gering, maar soos mens meer daaroor nadink, meer daaroor oplees en meer insig verkry, kom jy agter dat die oorvleuelings kardinaal belangrike sake aansny — wesentlike en lewensbelangrike sake.
          Dis waarom dit so belangrik is om Gen 1-2 reg te verstaan!

6.       Hierdie harmonie tussen skriftuur en natuur het ten diepste te doen met die verheerliking van ons Skeppergod (die summum bonum van ons bestaan), die egtheid, meer nog, die gespierdheid van ons Bybelgeloof, en die outentisiteit van ons getuienis in 'n grootliks Godvervreemde samelewing. 'n Verkeerde verstaan van hierdie verhouding tussen skriftuur en natuur — weerspreking in plaas van omhelsing — het al derduisende verlei om die Woord as onbetroubaar te verwerp (want dis uiters dwaas om die oorweldigende, oorkruisbevestigende, en 'n duisend keer oorgetoetse bevindinge van die natuurwetenskappe sommer so maklik-maklik af te maak as verkeerd). En dit dwing my om by te voeg dat die skuld dikwels gedebiteer moet word teen die rekening van onkundige en fundamentalistiese Christene wat die Bybel deur 'n halstarrig-konserwatiewe bril lees, daarop aandring om omtrent alles in die Bybel letterlik te verstaan en weier om óók na die wonderskone en Godverheerlikende musiek van die algemene openbaring te luister. Dis niks anders nie as 'n volstruisbenadering. En dit doen baie skade!
          Wat ek in die vorige paragraaf sê, gaan al hoe meer belangrik raak. Ons beleef 'n ontploffing van die mens se verstaan van die mikro- en makrokosmos. Soos ek reeds hierbo gesê het (en Charles Hodge lank voor my) hoef hierdie nuwe insigte in die algemene openbaring Bybelgelowiges nie te bedreig nie. God se besondere openbaring staan vaster as die berge. Waarheid is waarheid, klaar gepraat!
          Wat die skeppingsmusiek steeds mooier en aangrypender maak as ooit vantevore, is die huidige ontdekking ná ontdekking van die natuurwetenskappe wat die lewende Skepper se lof al hoe duideliker besing. En elke keer word nóg 'n spyker ingeslaan in die doodskis van ateïstiese Darwinistiese ewolusionisme. Waarlik, om 'n gelowige in hierdie dae te wees, is 'n uitnemende voorreg. Na baie jare se intimiderende en intellektuele aggressie teen Christene se Bybelgeloof, word van die mees gesofistikeerde en verstommende ontdekkings in ons dae kragtige bondgenote van ons geloofsgetuienis.
          As 'n ouer kan jy egter jou kop op 'n blok sit dat jou kinders wat in die natuurwetenskappe en filosofiese dissiplines gaan studeer met ongelowige Darwinisme van baie slim dosente te doen gaan kry. As sulke kinders op hoogte is met die wonderlike harmonie tussen skriftuur en natuur — en veral met ontwikkelinge hieroor die afgelope paar dekades — sal dit hulle harnas in die geloof wat hulle in die huis geleer het (dit mag hulle dalk ook ongewild maak by wetenskaponderwysers en -dosente wat nog vasgeval rondmaal in dit wat hulle dertig jaar gelede geleer het). En uiteraard moet ons kinders en kleinkinders alreeds so gespierd móóntlik wees as hulle grootoë op kampusse aankom.
          Tragiese skade word gedoen aan talle jongmense wat opgevoed word in tradisionele Christenwaardes, maar dan gekonfronteer word met allerlei geleerde en indrukwekkende ongeloofstandpunte as hulle die ouerhuis verlaat. Dit lei daartoe dat talle die geloof versaak.
          Maar nie almal draai hulle rug op die Here en sy Woord nie; hulle raak net ontnugter. Hulle begin waggel tussen geloof en twyfel. En 'n onsekere Christen word 'n louwarm Christen. En oor diesulkes spreek die Here homself in geen onduidelike terme uit nie (Op 3). En uiteindelik doen sulke "Christene" meer skade aan die eer van die Here en die welsyn van die kerk as selfs die uitgesproke godloënaars. En kerke sit vol sulke lidmate.
          Waarlik, baie nodig het ons ouers, dosente en onderwysers wat die harmonie tussen skriftuur en natuur behoorlik en met wysheid, takt en insig aan hulle kinders, leerlinge en studente kan oordra. Dis 'n wonderlike manier om 'n deur vir die evangelie oop te maak.

          +          Ek het onlangs te doen gehad met twee gelowige en begaafde jongmanne
 wat soos feitlik almal van ons groot geword het met die tipiese verstaan van Genesis 1 — 'n skepping in sewe kalenderdae — en dis dit! Hulle gaan studeer toe in die natuurwetenskappe — en word onmiddellik gekonfronteer met dosente wat Darwinistiese ewolusionisme voorstaan en doseer — in elk geval 'n kosmos van dermiljoene jare. Dit was nie net 'n dilemma vir hulle nie, maar het hulle in iets van 'n geloofskrisis gedompel.
          'n Regte verstaan van Genesis sou hulle bewaar het van die probleem. Hulle sou ook medestudente met dieselfde probleem kon help. En dit sou vir hulle 'n deur wyd oopgemaak het om vir die Bybelwaarheid te getuig.
          Ek glo graag dat die vorige paragraaf nou 'n werklikheid is in hulle lewens.

7.       Teenoor bogenoemde is die situasie anders in meeste gevorderde akademiese kringe, veral natuurwetenskaplike kringe. Dáár dink ek persoonlik ek hoor die doodsklok vir Darwinistiese ewolusionisme lui. Al hoe meer top wetenskaplikes kom tot die oortuiging en verklaar dit openlik dat ontdekkings oor die afgelope dekade of twee, drie soos klokslag daarop dui dat daar sonder enige twyfel 'n onbeskryflik magtige en intelligente Ontwerper en Skepper vir die ontstaan van sowel die mikro-kosmos as die makro-kosmos verantwoordelik is. Eintlik het die proses al, baie stadig, 'n honderd jaar gelede begin met Einstein se formulering van sy relatiwiteitsteorie, en ander ontwikkelings kort daarna. Dit het onteenseglik bewys dat die kosmos nie ewig is nie (soos vantevore geglo is in meeste ongelowige natuurwetenskaplike kringe), maar 'n ontstaan gehad het En dit is natuurlik net 'n halftree weg van die vrae: Wie het dan die kosmos geskep? Hoe is dit veroorsaak? Waar kom dit vandaan? Maar soos dit maar met dié soort ding gaan, vat dit lank om deur te suur tot op straatvlak. Want fanatiese Darwinistiese ewolusioniste doen alles in hul vermoë om die proses te stuit.
          Dit beteken nie dat alle ateïstiese wetenskaplikes dadelik tot 'n Bybels-Christelike geloof begin kom nie. Maar die nuwe insigte is bloot 'n skeurploeg wat in God se genade party denkers se ongeloofsharte begin omdolwe het. En inderdaad het heel party top wetenskaplikes reeds die ateïsme afgesweer en die Christelike geloof omhels. Maar helaas kom baie nie verder as die Deïsme[4] of agnostisisme[5] nie. Dit was volgens aanduidings die geval met Einstein. En in ons dag verklaar Michael Denton, die bekende skrywer van die grondbrekende boek, "Evolution — A Theory in Crisis" (waarin hy "Intelligent Design" verdedig), dat hy steeds 'n teruggeglye Christen en op die rand van agnostisisme is.
          Maar ek wil graag glo en vertrou dat meer van hierdie mense uiteindelik wél tot 'n Bybelse en evangeliese geloof sal kom. Sommige het al. Waarom nie meer nie?

8.       Uiteenlopende, selfs vurige oortuigings oor die verstaan van veral Genesis 1-2 waarna ons wil kyk — en ook die natuurwetenskaplike aanhangsels later — is aan die orde van die dag onder Christene. En dikwels kry mens die indruk wanneer daaroor gedebatteer word dat daar meer hitte as lig is. Ek praat van "hitte", want meermale ontaard 'n gesprek oor die saak in 'n onverkwiklike, bitsige en Godonterende gestry. So hoort dit nie tussen Christene nie! Daarmee wil ek egter nie sê dat ons tema 'n eenvoudige en onbelangrike saak is nie, allermins.

9.       Wat ek vorentoe skryf, skryf ek in nederigheid. Dit beteken nie ek sal tentatiewe opinies aan die leser voorhou nie. Indien wel, sal ek dit sê. Want alles is nie klinkklaar nie — allermins in my gemoed, maar ook nie in ons verstaan van die skriftuur en die natuur nie. Maar wat ek skryf is my oortuigings. Ek is oud genoeg om te weet dat, soos meer lig op mens daag, oortuigingverstellings soms onafwendbaar is. Soms is dit nie maklik nie, maar wanneer dit wel gebeur, staan jou voete op hoër grond. In my lewe is sulke "reformasies" nie onbekend nie — en vir seker nie sonder dankbare vrug nie.
          Wat ek daarom vorentoe gaan skryf, giet ek nie in beton nie. Want benewens mens se begrip en wysheid wat hopelik voortdurend toeneem, raak natuurwetenskaplike ontdekkings al hoe meer verbysterend. En die tempo daarvan neem toe. Sou die Here talm om te kom, gaan mense oor vyf, ses dekades in 'n wêreld leef waarvan ons oueres tans geen benul het nie (dink maar vyf, ses dekades terug!). Wetenskap en tegnologie gaan grootliks daarvoor verantwoordelik wees. En laat ons nie té seker wees dit gaan nie verdere copernikaanse omwentelings bring nie. Dit waarby die wetenskaplike wêreld vandag staan en val, mag nog weer radikale verstellings ondergaan. En ons kleinkinders sal meewarig glimlag oor oupa en ouma se naïwiteit.
          Maar ek sê weer. Moenie vrees dat dit God se Woord van die tafel sal afvee nie. Ek is oortuig daarvan dat dit net die waarheid van die Woord meer en meer sal bevestig. Dit mag wel ons nageslag laat teruggaan Bybel toe om te kontroleer of oupa en ouma dinge reg verstaan het (hier dink ek spesifiek aan die dubiis et nonneccessariis, want ek glo die neccessariis staan so vas soos die berge!)[6]. Sou hulle dan vind dat ons opinies nie heeltemal in fokus was nie, sal die onder hulle wat wysheid het vir mekaar sê: húlle mag dalk nie al ons insig gehad het nie, maar laat ons steeds onthou, óns staan op hulle skouers — en ons het die voordeel van verdere wetenskaplike ontwikkeling!

10.     Dit is helaas so dat ons as mense dikwels maar té geneig is om klippe te gooi oor sake wat ons nooit werklik deurdink of nagevors het nie. My waarneming is dat die meeste gelowiges nog nooit in diepte oor ons onderwerp nagedink of nagevors het nie.       Ek was al meermale in gesprek met gelowige en gevorderde natuurwetenskaplikes oor ons onderwerp, maar min van hulle het 'n ingeligte, verantwoordelike en gewortelde standpunt oor die verhouding tussen die wetenskap en die geloof. En ek is bevrees, dieselfde geld ook van té veel teoloë.  
          En vir baie van die wat wel al daaroor gewonder het, is 'n volstruisbenadering uiteidelik die beste oplossing waartoe hulle kan kom. Hulle besluit om hulle liewers nie moeg te maak oor kwessies wat hulle grysstof te veel uitdaag nie. Dis soveel makliker om sulke dinge maar so gou as moontlik te vergeet. "Ek het besluit wat ek sal glo — moenie my deurmekaarmaak met 'n klomp feite nie!
          Natuurlik, ek verstaan dit goed, nie alle Christene het 'n aptyt vir die dinge waarmee ek stoei nie. Dis goed so. Maar moet jou dan nie aanmatig om vurige standpunte uit te spreek oor dit wat jy nie behoorlik onder die knie het nie. Nederigheid is deel van die vrug van die Gees. Nog meer, ek het 'n oom geken wat altyd gesê het: 'n toe bek is 'n heel bek! As jou pypie leeg is, hou maar jou teppie toe.
          Maar nadat alles hierbo gesê is, bly ek oortuig daarvan: dis belangrik, baie belangrik, dat Christengelowiges (en -wetenskaplikes) hulle eendjies in 'n ry moet kry.

11.     Let op my aanslag in wat volg. As Christen, maar ook as Bybelleraar, is dit vir my belangrik om eerste met die Skriftuur te begin. Ek is geen Hebraïkus nie — nie eers naastenby nie — maar ek sal my bes probeer om so verantwoordelik moontlik met die teks van Gen 1-2 en met die talle fundamentele vertolkingsvrae om te gaan.
          'n Eksegese van Gen 1-2 word nie maar so tjoeftjaf onder die knieë gekry nie. Onder meer moet mens duidelikheid probeer kry oor vrae soos díé hieronder:
          Wat is die verhouding tussen Gen 1:1 en 1:2? Hoe moet dit vertaal word? En wat is die verhouding tussen hierdie twee verse en die "dag-verse" in 1:3-2:3? Praat dit van 'n bedeling vóór die eerste skeppingsdag, of is dit net die inleiding?
          Wat is die "uitspansel" (OAV), die "gewelf" (NAV), die "expanse" of "canopy" (ESV) in 1:6? Waarom word die verskillende uitdrukkings gebruik?
          Wat moet mens maak oor die skepping van lig op die eerste dag (1:3-5) én die "ligte" eers op die vierde dag?
          Hoe moet ons die refreine, "dit was aand en dit was môre, die soveelste dag" vertolk? Wat moet ons maak van die afwesigheid van hierdie frase op die sewende dag? Praat ons van 24-uur-dae, of van beeldspraak vir lang tydperke?
          Ek sal poog om van hierdie kwessies so goed ek kan aan te spreek — natuurlik met die hulp van Bybels (ook Hebreeus en Grieks), kommentare, woordeboeke, konkordansies en dik en geleerde ander boeke, waarvan ek helaas nie altyd alles verstaan nie. Dis met die skryf hiervan gestapel op my lessenaar ('n agtstoel eetkamertafel), op die vloer om my, en op 'n gemakstoel agter my. En die internet sal geen geringe rol speel nie — hoewel mens dit met versigtige onderskeiding moet lees, en dikwels met 'n knippie sout.
          As ek dan uiteindelik tevrede is dat ek 'n verantwoordelike Bybelse begrip het van Gen 1-2, sal ek enkele fundamentele natuurwetenskaplike perspektiewe probeer aanspreek — perspektiewe waaroor daar min of meer universele en verantwoordelike konsensus in geleerde kringe bestaan.
          Die leser moet maar oordeel hoe goed ek in my doel slaag. Ekself hou maar my hart vas oor jou opinie — veral as jy 'n geleerde is!

12.     Onthou asseblief, hierdie wil nie 'n wetenskaplike referaat wees nie, al sal ons sake aansny wat talle en talle proefskrifte kan vul (natuurlik baie meer diepsinnig as waartoe ek in staat is). Daarom gee ek min dokumentêre verwysings (waaroor ek nou spyt is, maar om sulke dokumentêre inligting weer op te spoor na baie opleeswerk oor 'n lang tyd, is te veel gevra vir my. Ek het nie meer 'n benul waar ek alles gelees het nie). Ek beveel wel hieronder 'n paar baie goeie boeke en webwerwe aan wat weer en weer lig vir my gegee het.


'n Klompie moeitewerd boeke, webwerwe en skrywers om te raadpleeg

Soos reeds gemeld, het ek wyer gelees as onderstaande boeke en artikels. En soos ek tyd kry sal ek seker nie ophou lees nie. Ek noem nie eintlik teologiese kommentare en woordeboeke nie. Elkeen moet maar raadpleeg wat hy of sy beskikbaar het. En moenie die internet vergeet nie. Uiteraard is nie alles wat mens dáár kry betroubaar nie. En vir seker moet mens ook nie elke skrywer vir soetkoek opeet nie (natuurlik ook nie elke teoloog nie!). Maar daar is wel op die internet 'n ontsaglike bron van kennis wat mens ernstig kan opneem.
            Ek sou heelwat kon noem, maar enkele "ou-skepping-skrywers" en webwerwe het my veral baie gehelp in my soeke na meer begrip oor die verhouding tussen God se Besondere Openbaring en sy Algemene Openbaring, asook oor my verstaan van Gen 1-2.
            Ek noem net 'n paar:

#          Paul Copan; Tremper Longman III; Christopher L. Reese; Michael G. Strauss (General Editors): Dictionary of Christianity and Science; Zondervan; 2017; 691pp.
            'n Ensiklopedie en skitterende naslaanwerk. Dis sy aansienlike gewig in goud werd en 'n móét vir elkeen wat meer wil insak in hierdie onderwerp. Dit bevat meer as 450 artikels, geskryf deur 140 vooraanstaande en internasionale geleerdes — sowel teoloë as natuurwetenskaplikes.
            Wat besonder waardevol is, is dat, waar daar uiteenlopende standpunte in die liggaam van Christus is, 'n skrywer van elke beskouing dan sy besondere standpunt uiteensit — kernagtig maar duidelik. Dit geld sowel ou as jongskepping standpunte en stel elke leser in staat om behoorlik ingelig te wees, te vergelyk, en self te besluit wat hy of sy aanvaar en glo. En dit stuur mens weg van almal van ons se neiging om pypiekykers te wees.
            Dis ongelukkig 'n duur boek (amper R1000), maar wel beduidend goedkoper by Good Neighbours Bookshop in Johannesburg (T: 011-704 1857; www.goodneighbours.org.za), asook by Augustine Bookroom in Pretoria (T: 012-9934606; www.augustine.co.za).

#          C. John Collins: Science and Faith - Friends or Foes?; Crossway Books; 2003; 448pp. Nog 'n waardevolle boek van hom is: Genesis 1-4 — A Linguistic, Literary, and Theological Commentary; P&R Publishing, 2006; 318p.
            Collins is 'n Ou Testament professor aan die Covenant Theological Seminary in St. Louis, VSA. Hy het ook 'n meestersgraad in elektriese ingenieurswese aan die wêreldwyd-geagte Massachusetts Institute of Technology behaal. Sy doktorsgraad het hy in Hebreeus verwerf.
            Collins is nie 'n liggewig teoloog nie. Wat hierdie boeke besonder waardevol maak, is die Bybels-eksegetiese uitgangspunt. Ook Collins is van 'n ouskepping oortuig, maar benader die Bybelteks van Gen 1-2 met groot teologiese vaardigheid en integriteit. Die boeke is nie altyd ewe maklik om te verstaan nie (dis hier en daar taamlik tegnies), maar ek het baie daaruit geput.

#          John C. Lennox: God's Undertaker - Has Science buried God?; Lion Books; 2009
            John C. Lennox: Seven Days that Divide the World; Zondervan; 2011.
            Díé emeritusprofessor in Wiskunde aan die Universiteit van Oxford is al vir meer as 60 jaar 'n toegewyde Christen. Hy het heelwat méér as net bg. boek geskryf (dit sluit Bybeluitleg in). Sy aanslag is redelik populêr en verteerbaar.
            Hy het in onlangse tye bekend geraak a.g.v. talle televisiedebatte met veral ongelowiges. Google hom, jy sal hom geniet — soos ek.

#          Norman L. Geisler & Frank Turek; I don't have enough faith to be an Atheist; Crossway; 2004. Die boek is stimulerend en insiggewend. Dis populêr geskryf en lees gevolglik relatief maklik.

#          Prof. S. du Toit: Bybel, Skepping Evolusie, Voortrekkerpers, 1964
            Die boekie is 50 jaar gelede geskryf deur 'n baie geagte Ou Testament professor aan die Gereformeerde Kerk se Teologiese Skool in Potchefstroom. Ook hy verdedig op Bybelse gronde 'n ou skepping. Sy eksegetiese perspektiewe is steeds waardevol. Daarbenewens verwys ek hier na 'n skrywer wie se regsinnigheid bo alle verdenking was, om sekere lesers wat dalk nog bedenkinge mag hê oor my regsinnigheid, gerus te stel. Sover ek kan vasstel, is dit bes moontlik die eerste teologiese werk in Afrikaans met hierdie standpunt.
            Uiteraard is die boekie al vir dekades uit druk. Ek het dit 45 jaar gelede uit my pa se boekery gegaps nadat hy oorlede is.

#          John Gilchrist; Designed for a Purpose; Christian Resource Ministries, 2012.
            Hierdie Suid-Afrikaner bring interessante perspektiewe na vore, en is beslis die moeite werd om te lees (dis nie moeilik nie). Bogenoemde boek kan by hom persoonlik bekom word: Kleinstraat 28, Lakefield, Benoni, 1500; Tel 011 894 1830.

#          J.B. Stump: Creation, Four views on Evolution and Intelligent Design; Zondervan; 2017.
            Hoewel die boek soms taamlik tegnies is, is dit 'n goeie inleiding en oorsig oor vier verskillende beskouinge oor ons tema. Dis 'n boek vir diegene wat die onderwerp meer in diepte wil bestudeer.
            Leidende figure oor elkeen van vier beskouinge sit sy betrokke standpunt kortliks uiteen, dit word dan deur die ander drie bydraers gekritiseer en uiteindelik lewer die inleier weer sy repliek. Die vier debatsvoerders is Ken Ham (jong aarde skepping); Hugh Ross (progressiewe skepping); Deborah B. Haarsma (ewolusionêre skepping) en Stephen C. Meyer (intelligente ontwerp). Ingeligtes sal hierdie vier dadelik herken as voorloperfigure in die hele debat wat die afgelope klompie jare hoog brand.
            Die 4 bydraers is almal natuurwetenskaplikes (Ross is wel ook 'n pastor) en mens moet dus nie te veel teologie verwag nie. Al vier is Christene.
            Die boek is ook digitaal op internet teen 'n redelike prys beskikbaar.

#          Wayne Grudem: Systematic Theology; Inter-Varsity Press; 1994. Hoofstuk 15; p.262-314. Ongelukkig is die boek al 26 jaar gelede gepubliseer. Maar die inhoud bly nogtans waardevol.

#          Wat webwerwe betref, bevat die onderstaandes meer kos as wat mens in 'n leeftyd kan verteer. Let op dat nie al die bydraers uitgesproke Christelik is nie (hulle aanvaar wel die feit van 'n Skepper en verwerp Darwinistiese ewolusionisme). Mens moet dus met onderskeiding daarna kyk. As 'n bepaalde webwerf jou nie aanstaan nie, groet hom dan gewoon. Baie mense sal die inhoud van meeste of selfs álmal te uitdagend vind. Laat dit jou vir geen oomblik kwel nie en vergeet van die webwerwe. Nie almal van ons hoef ons oor hierdie dinge druk te maak nie. Al wat immers in die finale analise nodig is, is om met 'n kinderlike geloof enduit in Christus te skuil. Maar as jy nie redelik kundig oor ons tema is nie, bly dan tog maar beskeie en moenie te vinnig praat nie. Om te luister en te beoordeel, is gewoonlik meer wys as om te praat.

            +          network.asa3.org .: American Scientific Affiliation. Hier is honderde artikels met 'n Christelike uitgangspunt, party weliswaar effens verouderd. En hou in gedagte dat nie almal dieselfde vertrekpunte het nie (weliswaar huldig almal 'n ou skepping).

            +          www.biologos.org  :  The Biologos Foundation. Hierdie organisasie aanvaar dat God onder meer teïstiese ewolusie (te onderskei van ateïstiese of Darwinistiese ewolusionisme) gebruik het in die skepping van die heelal. Dit beteken egter nie dat die van ons wat nie daarmee saamstem nie (ek is een van hulle), nie tog ook op so 'n webwerf iets kan vind wat insiggewend is nie. Gaan kuier gerus daar; daar is baie interessanthede.
            Persoonlik het ek 'n sagte plek vir die stigter van hierdie organisasie, Francis S. Collins, gewese hoof van die Human Genome Project, wat beskou word as een van die wêreld se leidende wetenskaplikes. Hy is 'n toegewyde Christen. Sy baie bekende boek, The Language of God, is die moeite werd om te lees.

            +          www.cis.org.uk  :   Christians in Science

            +          www.veritas.org  :   The Veritas Forum

            +          www.discovery.org :   The Discovery Institute — Where Science and Faith converge.

            +          www.reasons.org :  Reasons to believe
           

Belangrikste Bybeluitsprake oor die skepping
Ou Testament                                            Nuwe Testament
Gen 1-2; 9:1-17                                                                     Luk 8:22-25
Job 38:1-42:17                                                                      Joh 1:1-18
Ps 8; 19; 104; 148                                                                 Hand 17:16-34
Spr 8:22-36                                                                           Rom 1:18-20; 8:18-30
Jes 40:9-31; 65:17-25                                                           Kol 1:15-20
                                                                                              Heb 1:1-14; 11:1-
                                                                                              2Pet 3:3-16
                                                                                              Op 21:1-8


'n Nadere kyk na Genesis 1:1-2:3


Wat van die verstaan van enige Skrifgedeelte geld, is ook waar van Gen 1-2. Daar is ten minste 4 elemente wat mens in ag moet neem: eerstens, die historiese konteks, tweedens, die genre of literatuursoort, derdens, die struktuur en uitleg van die teks; vierdens, wat sê dit vir ons, mense van die een-en-twintigste eeu?
      Ons is baie geneig om die eerste twee elemente af te skeep en direk met nommers drie en vier aan te gaan. Maar dit sal baie maklik die gevolg hê dat ons verklaring onverstaanbaar sou wees vir die oorspronklike lesers. Sekerlik sou dit antieke Israel nie toegerus het om die heidense mitologieë van hulle dag te ontkom nie.
      Of eenvoudiger gestel, eerstens moet ons die vraag vra, wat het die teks destyds vir die lesers beteken? Maar vir seker moet ons dan voortgaan met die vraag, wat beteken dit vir ons?


Eerstens, die historiese konteks

Wie het die Pentateug geskryf — en dus Gen 1-2?

#   Dit word algemeen aanvaar dat hierdie eerste 5 boeke van die Bybel in ongeveer die jaar 1440 voor Christus geskryf is, en wel tydens die uittog uit Egipte. Daar is wel ook mense wat dink in terme van 1260 vC.

#   Sowel die Joodse geloof as die Christelike kerk glo dwarsdeur die kerkgeskiedenis, van die eerste eeue af, dat Moses die pentateug geskryf het. Dit word algemeen aanvaar dat dit ook Gen 1-3 insluit.
      Die vanselfsprekende uitsondering is ten minste Deutronomium 34, wat oor Moses se dood en begrafnis handel, waar dit ook verklaar word dat God self hom in 'n onbekende graf begrawe het. Dit sluit ook nie uit nie dat Moses, ten minste vir sommige gedeeltes, van bronne en oorgelewerde tradisies gebruik gemaak het; ons kan dit trouens bo enige twyfel aanvaar. Maar, en hierdie kwalifikasie staan vas vir 'n Bybelgelowige, dit het onder die verligtende en inspirerende leiding van die Heilige Gees geskied.
      In 'n antieke geskrif word gesê dat God die spreker was en dat Moses dit bloot neergeskryf het. Dis 'n té ongekwalifiseerde uitspraak. Persoonlik sou ek dalk wel so 'n siening van Gen 1-3 kon aanvaar. Sekerlik moet soiets min of meer geld van Gen 1:1-2, asook die gedeelte oor die skeppingsdae — toe daar nie menslike getuies was nie. Sou mens dít nie aanvaar nie, moet jy noodwendig aanneem dat die Bybel se skeppingsbeskrywing net oorgelewerde volksfantasieë en -legendes was. En dis vir Bybelgelowiges onaanvaarbaar — en wat my betref, sou dit 'n studie soos hierdie feitlik geheel-en-al irrelevant maak. Dan vegeet jy gewoon van die Bybel en luister nét na die natuurwetenskappe.
     Daar is inderdaad sterk Bybelse getuienis dat Moses die outeur van die pentateug was. Niemand in daardie tyd was meer kundig en dus gekwalifiseerd om dit te skryf nie. Sekerlik was hy, te danke aan die voorregte van sy opvoeding in Egipte, die mees geleerde man onder die Israeliete — wat die vermoë om te skryf ingesluit het (Hand 7:22). En die inhoud van Eksodus tot Deutronomium sou hy alles vanuit eie ervaring kon beskryf.
     Daar is heelwat teksgetuienis in die pentateug dat Moses dikwels oor ervaringe en gebeure geskryf het (Eks 17:14; 24:4; 34:27; Num 33:2; Deutr 31:19; 31:24-26). Dat hy ten minste sekere dinge opgeteken het, word reeds deur Joshua bevestig (Jos 1:7; 8:30-31).
     Ook die Nuwe Testament aanvaar Moses se outeurskap sonder meer (Joh 1:17; Rom 10:5; 2 Kor 3:14-15).

Onthou vir wie Moses geskryf het — vir hulle én vir ons.

Vir die mense van sy tyd

#        Genesis is geskryf vir mense met 'n lewensuitkyk en kultuur van daardie tyd. Calvyn het dit korrek gesien. Hy skryf iewers: "Die Bybel is 'n boek toeganklik vir elkeen, en Moses het daarom sy skryfwerk by algemene gebruik aangepas."
          Wie dit nie voortdurend voor oë hou nie, dwaal onvermydelik kort voor lank in sy verstaan van Gen 1-2.

#        As die klomp Israeliete die woestyntog aanpak na die land toe wat aan Abraham beloof is, het hulle reeds 400 lang jare in Egipte agter die rug. Al Godsopenbaring wat hulle het, sover ons weet, is mondelinge oorleweringe van dit wat die aartsvaders eeue vantevore ontvang het — ook maar uiters beperk in vergelyking met wat ons vandag het. Voeg daarby dat hulle waarskynlik grootliks ongeletterd en ongeleerd is — eintlik net 'n slawegespuis. Daar kan min twyfel wees dat hulle lewenstyl min verskil van die heidenvolkere om hulle. Van die lewende Verbondsgod weet hulle bloedweinig. Selfs die geleerde Moses moet weer en weer lewensveranderende ontmoetings met Jahweh ervaar — om hom voor te berei om sy mense te leer, as 't ware van voor af.
          Maar dit het nie net oor begrip gegaan nie. Bes moontlik het die Israeliete al grootliks verval in die heidense aanbidding van die Egiptenare. Mens sien dit byvoorbeeld in die insident van die goue kalf, wat soortgelyk was aan die praktyke van die vrugbaarheidskultusse in Egipte (Eks 32:1-6).
          As die Israeliete by Horeb aankom verskil hulle wêreldbeeld, lewenstyl en aanbidding
beswaarlik dus van díé van die heidenvolkere rondom hulle. Die vyf boeke van Moses moes instrumenteel wees om die Hebreërs 'n volk van God te maak, met 'n Godgegewe Godsbeeld en aanbiddingskultuur.
          Dis vir hierdie mense wat Gen 1-2 in die eerste instansie geskryf is!
          As ons dit uit die oog verloor, gaan ons ons hoofstukke verkeerd vertolk — dinge daarin lees wat dit nooit wou sê nie.

#        Daar het 'n formidabele taak op Moses gewag. Die volk moes radikale veranderings ondergaan. Godsdienstig moes daar 'n totaal nuwe gerigtheid en Godsbegrip gevestig word. 'n Nuwe roepingsbewustheid moes by hulle posvat, en 'n gans nuwe kultuur. Hulle sou ware aanbidding en moraliteit moes aanleer. Hulle is uit Egipte gehaal, maar Egipte moes nog uit hulle gehaal word.
          Die ongeveer 'n jaar wat Israel by Sinai gestaan het hierin 'n sentrale rol gespeel. Dit moes daar in die afsondering van die woestyn gebeur. In Gosen met sy rugbrekende slawediens en al sy afgodery en ander invloede sou die vestiging van so 'n radikaal nuwe ingesteldheid menslik gesproke onmoontlik gewees het. In elk geval moes Egipte en alles waarvoor dit gestaan het eens en vir altyd in vergetelheid agter hulle gelaat word.
          Maar méér was nodig. Die radikale verstellings wat by Sinai plaasgevind het, moes ook in stand gehou word. En presies dit was die funksie van die pentateug. Moses se vyf boeke moes van die Israeliete die volk van God maak en hulle die volk van God hou.

Vir ons wat in die 21ste eeu leef

Laat ons dit nooit vergeet nie: die Bybel is óók vir alle geslagte geskryf. Dis nie net tydgebonde nie; dis ook tydloos. Die Bybel is nie net deur 'n gewone mens, Moses van destyds, geskryf nie; dit is ook bonatuurlik deur die Heilige Gees geïnspireer, sodat dit steeds relevant bly vir mense wat 'n duisend maal meer van die skepping weet as destyds se Israeliete. Die Here God het vir seker geweet dat mense van die een-en-twintigste eeu óók die skeppingsverhaal gaan lees en sal wonder hoe dit versoenbaar is met wat húlle van die skepping weet.
          Dis noodsaaklik om beide bogenoemde waarhede vas te hou!


Tweedens, die literatuursoort van Gen 1-2

#        Die boek is oorspronklik in Hebreeus geskryf en die heel eerste woord daarvan is meteen ook die naam van die boek — die enkele Hebreeuse woord wat ons vertaal, "In die begin". Die naam "Genesis" is gegee deur die eerste vertalers van die Ou Testament in Grieks — dis Grieks vir "oorsprong".
          Dit sinspeel reeds daarop dat wat gaan volg geskiedenis is wat regtig gebeur het. Maar ek sal poog om te toon dat dit betroubare en werklike geskiedenis is wat veral in die twee hoofstukke waarna ons kyk tot 'n groot mate in poëtiese taal vertel word.

#        Watter literatuursoort tref ons in Gen 1-2 aan? Prosa of poësie? Geskiedenis of gelykenis?
          Probeer mens hierdie vraag antwoord, bespeur jy onmiskenbaar 'n dubbele karakter, veral in hoofstuk 1. Dis prosa — dis geskiedskrywing. Maar dis eweneens poësiedaar is beeldspraak en simboliek.

          +          Die twee hoofstukke vertoon duidelik die trekke van prosa en geskiedskrywing. Dis iets wat regtig gebeur het. Sien ons dit nie steeds dag en nag rondom ons nie?
          Dit lê byvoorbeeld in die tydsaanduidings: "en dit was aand en dit was môre". Dis te sien in die stelselmatige voortgang van gebeure: "die eerste dag", "die tweede dag" ensovoorts. Mens sien dit in die herhaalde, "En dit was so."
          Mens sien die kronologiese ook in die feit dat Gen 1:1-2 duidelik voorafgaande is aan die ses skeppingsdae wat in Gen 1:3-31 beskryf word (hierdie orde word vorentoe gemotiveer).
          Duidelik loop die skeppingsgebeure ook uit op 'n klimaks — die skepping van die mens, waaraan verreweg die meeste aandag gegee word.
          Sonder twyfel volg dag 7 na dae 1-6.
          C. John Collins skryf daarom: "Genesis is offering us the true story of mankind's past."[7]

          +          Tog is dit nie nét prosa nie. Die twee hoofstukke vertoon meteen onmiskenbare poëtiese trekke. In hoofstuk 1 is daar alliterasie en 'n patroonmatige manier om die gebeure te beskryf. Neem as voorbeeld die oor-en-oor refreine, "en dit was so"; en "toe sien God dat dit goed was"; "Laat daar ...". Ensovoorts.
          Mens vind ook antropomorfismes (segwyses wat God voorstel asof Hy 'n mens is). God praat, sien, werk, rus. Dit geld ook hoofstuk 2 waar Hy 'n tuin aanlê, asook hoofstuk 3 waar Hy in die tuin wandel.
          Ek sê meer oor die poëtiese karakter hieronder.

#        Vir 'n verantwoordelike vertolking van die gedeelte is bogenoemde dubbele karakter, die van prosa én poësie, van die allergrootste belang.

          +          Aan die een kant bewaar die historiese van 'n miskenning dat God self, persoonlik en bonatuurlik — en régtig — in die geskiedenis geskep het (Eng. hands-on). Dit bewaar ons van 'n algehele versimbolisering wat die historiese en God se persoonlike en praktiese betrokkenheid grootliks uit die prentjie haal.
          'n Ontkenning van die historiese is 'n halftree weg van die aanvaarding dat Gen 1-2 net 'n fabel is. Dan kan mens wel wonder of skriftuur en natuur hoegenaamd iets vir mekaar te sê het. Dan trek dit die mat onder my basiese uitgangspunt uit — naamlik dat skriftuur en natuur, vir soverre dit wel oorvleuel — veral hier in Gen 1-2 in volkome harmonie is. Dan word hierdie harmonie al dan nie heeltemal irrelevant.
          Nee, aan die historiese karakter van Gen 1-2 móét 'n Bybelgelowige vashou!
         
          +          Aan die ander kant bewaar die poëtiese en beeldspraak van 'n enkelvoudige, simplistiese en letterlike vertolking van die skeppingsgebeure wat die lesers laat vasloop teen teenstrydighede (soos byvoorbeeld die skepping van lig op die eerste dag, en die skepping van die son, die maan en die sterre op die vierde dag).
          'n Letterlike 24-uur vertolking hou ook nie rekening met al die gebeure nie. Dit word op sy duidelikste gesien as mens na die sesde dag kyk (hieroor meer hieronder).
          En les bes wil so 'n letterlike vertolking eenvoudig nie rym met die getuienis van die algemene openbaring nie — soos reeds vroeër geskryf is. Daarenteen bring 'n aanvaarding van die poëtiese in Gen 1 die skeppingsbeskrywing gemaklik in harmonie met die getuienis van die skepping om ons.

#        Ongelukkig kom enkelvoudige versimbolisering en enkelvoudige miskenning van die historiese wydverspreid voor in die wêreld van kerk en teologie van ons tyd. Nie een van die twee sienings is na my mening getrou aan die Skrifopenbaring nie.

Nadere aandag aan die poëtiese elemente in Gen 1

#        Die Ou Testament is boordevol van die simboliese en die poëtiese. Dit hoef geen verassing te wees nie. Die Hebreeuse taal — enige taal tot vandag toe — is ryk in beeldspraak en keer op keer word simbole en metafore gebruik om die boodskap oor te dra.
          Laat ons nie in die slaggat trap nie om te dink dat prosa feite oordra, en poësie beeldspraak en dus fiksie. Ons vind hierdie twee skryfwyses selfs hand-aan-hand om dieselfde boodskap oor te dra. Vergelyk Eseg 16 en Eseg 22 as voorbeelde.
          As mens in gedagte hou dat die Israeliete eenvoudige mense was, verstaan jy dat so 'n dubbelloop aanslag baie effektief kon wees. Dit is meermale steeds die geval. Inderdaad is beeldspraak soms vandag nog die beste manier om iets oor te dra.

#        Hoewel dit steeds in die letterkunde van ons dag voorkom dat 'n storie nie altyd letterlik en kronologiese vertel word nie, het ons baie gewoond geraak aan 'n formele manier van skryf in wetenskaplike artikels, juridiese verklarings, historiese beskrywings en ander formele dokumente. Ons is gewoond daaraan om 'n storie kronologies oor te dra — gewoonlik met 'n streng logiese ontwikkelingsgang.
          Maar die Bybel is in 'n radikaal ander wêreld geskryf. Logika en kronologie was nie altyd só belangrik nie. Ons sien dit selfs in die Nuwe Testament. So byvoorbeeld word die Evangelie van Johannes gekenmerk deur die afwisseling tussen verbandhoudende wondertekens en stukke lering van die Here Jesus. Kronologie is nie voorop nie. Die evangelie is logies geskryf, nie kronologies nie.
          En dalk is die beste voorbeelde die gelykenisse wat Jesus vertel het, juis ter wille van sy eenvoudige luisteraars. Al was dit stories, het dit diepsinnige waarhede oorgedra.

#        'n Kennelik doelbewuste en merkwaardige poëtiese struktuur is onderskeibaar in die beskrywing van die sewe dae. Aan onderstaande is dit duidelik dat die skrywer nie net noukeurig aandag gegee het aan die inhoud van wat hy geskryf het nie, maar vir seker ook aan die vorm of struktuur daarvan. Sonder twyfel spreek dit van volwasse nadenke en letterkundige vaardigheid.

          +          In Gen 1 word agt keer beklemtoon dat God met sy woord tot stand gebring het.[8] Elke keer is dit die inleiding tot 'n sukkie vier- of driereël poësie — gesamentlik die skeppingsgedig. Sonder twyfel is die "skeppingsverhaal" doelbewus so geskryf. Die uitleg word in Tabel 2 hieronder uiteengesit.

          +          Tweedens is die simboliese syfers, 3 en 10 prominent. Daar is 3 "probleme" op die aarde van Gen 1-2 wat aangespreek moet word ('n aarde wat woes en leeg is; duisternis; diep waters). Dit word reggestel tydens twee stelle van 3 dae elk (sien hieronder).
          Die werkwoord "om te skep" word op 3 plekke gebruik en die derde keer 3 maal (v.1, 21, 27, 27, 27).
          Die uitdrukking, "volgens hulle soorte", word 10 keer gebruik (v. 11, 12, 12,  21, 21, 24, 24, 25, 25, 25).

          +          Derdens is 'n sekere simmetrie bespeurbaar as mens aandagtig na die ses skeppingsdae kyk. Die herhaling van die lig-tema op dae 1 en 4 suggereer dit reeds.        Vroeg in die kerkgeskiedenis het Augustinus al hierdie raamwerk raakgesien. En twee eeue gelede het 'n sekere J.G. von Herder op die betekenisvolle simmetrie tussen die twee drielinge van dae gewys (dag 1-3 en dag 4-6). Hierdie simmetrie word baie algemeen aanvaar, hoewel verskillende kommentatore dit op verskillende maniere bewoord — maar elke keer kom dit maar op dieselde neer. Die uitleg word in Tabel 1 hieronder uiteengesit.
:
                      =          Dae 1-3: Skepping van die aarde as woonplek.

                      =          Dae 4-6: Skepping van die bewoners van die aarde (bewegende ligdraers gepersonifiseer — onthou, dis 'n gedig).

#        So 'n verdeling word waarskynlik bevestig deur Gen 2:1 —: "So is dan voltooi die hemel en die aarde (die woonplek) met hulle ganse leërmag (die bewoners)."

#        Opmerking: Dit mag die leser pla dat die ligdraers hieronder as "bewoners" geklassifiseer word. Ek begryp die beswaar. Maar miskien lê die antwoord in die feit dat die hemelliggame meermale in die antieke wêreld gepersonifiseer is. Mens kan dit verstaan as jy daaraan dink dat mense sekerlik gefassineer was deur die feit dat veral die son en die maan, maar ook die sterre, voortdurend beweeg. Onthou, hulle het nie ons gesofistikeerde sterrekundige kennis gehad nie.



Tabel 1
Die struktuur van Gen 1:3-23
Woonplek en Bewoners

                      Die woonplek                                          Die bewoners
Dag Geskep           Wat geskep                          Dag Geskep             Wat geskep
          1                      Lig en Donker                                     4                      Ligdraers
          2                      See en Lug                                         5                      Seediere, Voëls
          3                      Land, See, Plante                               6                      Diere, Mense
                            Dag 7: God se voortgaande rus van sy skeppingswerk

Tabel 2
Die agt "gediggies" van Gen 1

      Gedig   Dag                      Gedig                                             Vers      Aantal Reëls     Oop
          1          1          (a)  God het gesê: laat ...                                 3
                                  (b)  en daar was / en dit was so                       3             4                    
                                  (c)  toe sien God dit is goed                             4
                                  (d)  dit was aand en môre, die eerste dag        5         
                                                         
          2          2          (a)  God het gesê: laat ...                                 6
                                  (b)  en daar was / en dit was so                       7             3                      c
                                  (c)                                                                   
                                  (d) dit was aand en môre, die tweede dag        8
                                                         
          3          3a        (a)  God het gesê: laat ...                                 9
                                  (b)  en daar was / en dit was so                       9             3                      d
                                  (c)  toe sien God dit is goed                             10
                                  (d)                                                                   

          4          3b        (a)  God het gesê: laat ...                                 11
                                  (b)  en daar was / en dit was so                       11            4                   
                                  (c)  toe sien God dit is goed                             12
                                  (d) dit was aand en môre, die derde dag          13       
                                                         
          5          4          (a)  God het gesê: laat ...                                 14
                                  (b)  en daar was / en dit was so                       15            4                   
                                  (c)  toe sien God dit is goed                             18
                                  (d) dit was aand en môre, die vierde dag         19       

          6          5          (a)  God het gesê: laat ...                                 20
                                  (b)                                                                                     3                    b
                                  (c)  toe sien God dit is goed                             21
                                  (d) dit was aand en môre, die vyfde dag          23

          7          6a        (a)  God het gesê: laat ...                                 24
                                  (b)  en daar was / en dit was so                       24             3                    d
                                  (c)  toe sien God dit is goed                             25
                                  (d)                                                                   

          8          6b        (a)  God het gesê: laat ...                                 26
                                  (b)  en daar was / en dit was so                       26             4                  
                                  (c)  toe sien God dit is goed                             31
                                  (d)  dit was aand en môre, die sesde dag         31

Die struktuur is onmiskenbaar. Dis poësie! Ja, dis geskiedenis, maar dis nie letterlik nie. Dis geskiedenis in digterlike vorm.

Dae                                 1   2   3a   3b      4   5   6a   6b
Aantal reëls                            4  3  3  4       4  3  3  4
Oop reël                            c   d            b   d  


Derdens, die uitleg van Gen 1:1-2:3

Enkele opmerkings oor die samehang oftewel eenheid van Genesis 1 en 2

#        Dis redelik algemeen in Skrifkritiese kringe om Gen 1 en 2 as twee verskillende en weersprekende skeppingsbeskrywings te beskou — elkeen, sogenaamd, vanuit 'n ander tradisie. Maar so 'n beskouing het geen Bybelse mandaat nie. Dis bloot 'n geval van mense wat graag God se Woord onder verdenking plaas en 'n sug daarna het om iets nuuts te sê.
          Lees mens enigsins gelowig en baie aandagtig deur die twee hoofstukke, blyk dit duidelik dat presies dieselfde skeppingsgeskiedenis beskryf word — vanuit twee gesigshoeke beskou.
          Eers gee Genesis 1:1-2:3 die oorsigtelike groot prentjie.
          Dan fokus Gen 2:4-25 op die sesde dag en in die besonder op die mens as man en vrou, hulle woonplek en hulle verantwoordelikhede in die tuin — en veral ook die waarskuwing om hulle te onthou van die boom van die kennis van goed en kwaad.
          Die twee gedeeltes is dus onlosmaaklik verbonde. Die eerste trek groot buitelyne. Die tweede zoem in op die kroon van die skepping, die mens.

#        Daar is verskil van opinie oor waar presies die naat tussen die twee gedeeltes lê: tussen Gen 2:3 en Gen 2:4 (OAV; ESV; NASB; KJV) of tussen Gen 2:4a en Gen 2:4b (NAV). Daar is ook ander voorstelle, waarna ons nie hoef te kyk nie.
          Noukeurige bestudering van die teks maak dit duidelik waarom die beste vertalings, heeltemal korrek, die lyn tussen verse 3 en 4 trek.

          +          Die Hebreeuse frase in Gen 2:4, "die geskiedenis" (OAV; NAV) of "the generations" (ESV) word nog tien keer in Genesis gebruik (5:1; 6:9; 10:1; 11:10, 27; 25:12, 19; 36:1, 9; 37:2) as iets van 'n struktuurmerker en lei elke keer 'n nuwe paragraaf in.[9] Dit is daarom net redelik om te aanvaar dat dit ook hier in Gen 2 die geval is — wat sou beteken dat die breuklyn tussen v.3 en 4 is.

          +          Die uitdrukkings in Gen 2:4 "die hemel en die aarde toe hulle geskape is" en "die dag toe die Here die hemel en die aarde gemaak het" vorm 'n a-b-c spieëlpatroon ('n chiasme) in die Hebreeuse teks. Ons praat dus van 'n stilistiese eenheid. Ongelukkig vertoon ons Afrikaanse vertalings dit nie so goed soos die ESV en die NASB nie:

                                  " ... of the heaven and the earth when they were created ..."
..                                                        a                      b                                  c
                                  "   the Lord God made the earth and the heavens ..."
                                              c'                     b'                     a'

Kan jy die omgekeerde spieëlbeeld sien? Dis 'n tipiese manier van skryf in die Hebreeus. Die twee frases van die chiasme moet as 'n eenheid gesien word en wil iets onderstreep of beklemtoon. Dit geld soveel te meer as daar drie elemente (en nie net twee nie) in chiasme is soos hierbo. Dis die skrywer se manier om te sê: Het jy kennis geneem, baie goed kennis geneem? Dis belangrik!
          Om die chiasme in twee te deel (soos byvoorbeeld die NAV en die NIV) is duidelik eksegeties nie legitiem nie.
          Die twee gedeeltes, Gen 1:1- 2:3 en Gen 2:4-25 begin dus op dieselfde manier. Modernistiese beskouings wat dit as twee losstaande skeppingstradisies sien, slaan dus die bal mis.

          +          Daar is nog 'n aanduiding dat die breuklyn tussen v.3 en v.4 is. Genesis 1:1-2:3 gebruik konsekwent net "God" (die Skepper en Regeerder oor die ganse skepping) as dit na die Skepper verwys. Maar dan kom 2:4-25 en praat konsekwent van "Here God". "Here" is God se verbondsnaam (Jahweh), Sy persoonlike naam. Dit wil hier in hoofstuk 2 uitwys dat Hy in verhouding met die mens — oor wie dit grootliks in hierdie gedeelte gaan — wil leef (Eks 3:13-17).

Die struktuur van Gen 1:1-2:3

1:1-2             Die aanvanklike skepping vóór die "sewe dae"
1:3-5             Dag 1: Lig en donker, oftewel dag en nag
1:6-8.            Dag 2: Lug/atmosfeer en see
1: 9-13          Dag 3: Land, see en plantegroei
1: 14-19        Dag 4: Son, maan en sterre
1: 20-23        Dag 5: Seediere en vlieënde diere, oftewel visse en voëls
1:24-31         Dag 6: Landdiere en die mens na God se beeld
2:1-3             Dag 7: God skep nie; Hy rus. Hy seën die dag en heilig dit

Genesis 1:1-2 : In die begin


Gen 1:1

#        As vers 1 van "die begin" praat, moet ons dit werklik as die begin verstaan. Voor dit was daar absoluut geen skepping nie. Behalwe God self, was daar niks nie — niks, niks, niks nie! [10]
            Collins bevestig dit: "The words "the heavens and the earth" refer to everything; and "in the beginning" tells us when it happened — and in fact points to an absolute beginning. .... before the beginning there was — well, nothing." [11]

#        Hierdie eerste sin van God se Woord is kort, net sewe woorde in die Hebreeus. Was daar ooit, dwarsdeur die geskiedenis so 'n gelaaide uitspraak? Net sewe verbysterende woorde (in die Hebreeus). Niks méér word gesê nie. Nét dit: In die begin het God (Heb. Elohim) die hemel en die aarde geskep!
          Niks word gemeld oor die voorkoms of inhoud van die geskapene nie. Niks oor die werkswyse van die Maker nie. Niks word gesê of dit in 'n oomblik gebeur het, of oor 'n tydperk nie. Niks oor wanneer dit gebeur het nie — 'n paar millennia gelede, of 'n paar miljoen jaar, of 'n paar biljoen jaar terug nie. Daar is geen, maar geen aanduiding nie. Dit is per slot van rekening God die almagtige en ewig-tydlose wat dit doen.

#        Dadelik stel die eerste vers van die Bybel, word die groot metafisiese gaping tussen God die Skepper aan die een kant, en al die res aan die ander kant aan die orde gestel.
          Dis presies híérdie God vir wie Moses en die volk daar in die Sinaiwoestyn — persoonlik nou vir die eerste keer — toenemend as hulle Skepper, Redder, Bevryder en Versorger moet leer ken.

#        Nie 'n enkele poging word aangewend om die bestaan van God te bewys nie. Dis immers iets wat elke mens in sy diepste wese wéét (Rom 1:18-23).
          Tog word hier baie geopenbaar oor God: Hy is ewig. Reeds voor die begin was Hy daar. Hy is almagtig. Want wat Hy skep is duiselingwekkend groot en heerlik en kompleks. Hy is persoonlik; nie net 'n onpersoonlik eerste oorsaak of krag nie.

#        Vers 1 dra die idee van nuutheid en buitengewoonheid. Die Hebreeuse werkwoord, om te skep, word net van God gebruik in die Ou Testament, nooit van mense nie.[12] Benewens hier in v.1, word dit slegs nog in Gen 1:21, 27 in ons hoofstukke gebruik.
          Vir mense se kreatiewe werk word ander Hebreeuse woorde gebruik.[13]
          Ten spyte van wat in voetnota 10 gesê word, is híérdie skeppingswerk van God geensins die verwerking van iets wat reeds bestaan het nie. Daar was geen voorafbestaande materiaal nie. Nee, hier spreek die begrip van 'n Goddelike magswoord om iets vanuit niks, absoluut niks, tot stand te bring.

#        Die frase "die hemel[14] en die aarde" in Gen 1:1 is omvattend en alles-insluitend (dit word in Gen 2:4 herhaal). Behalwe die Skepper self, is niks uitgesluit nie. Die frase praat in die res van die Ou Testament altyd van die heelal soos ons dit tans al hoe beter leer ken.[15] Dit sluit die mikrokosmos en die makrokosmos in — dit wat ons bevoorreg is om al hoe beter "deur mikroskoop en teleskoop" te leer ken. Hoewel Moses en sy mense nie 'n benul gehad het van dit wat ons vandag alles van God se algemene openbaring weet nie, was hulle in ander opsigte meer bevoorreg as ons. Daar in die woestyn het hulle baie nader aan die natuur gelewe as vandag se stadsbewoners. Hulle kon hulle elke aand verkyk aan die sterrehemel in die droë en totaal onbesoedelde sterrehemel. Sekerlik was hulle verstom oor al die groter diere en en kleiner diertjies en ander lewende organismes wat in die woesteny gesien het. En God se wonderwerkende ingrypings het elkeen van hulle oor en oor beleef.

#        Sonder enige twyfel was hierdie pas-geskape hemel en aarde die heerlikheid en volmaaktheid van sy Skepper waardig. Aangrypend skets die Here dit poëties as Hy na Job se verwyte hom vermanend antwoord: "Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het? ... Wie het die aarde afgemeet? ... Wie het 'n maatlyn oor hom gespan? Waarop is sy voetstukke neergesit? Wie het hom aanmekaargesit daardie oggend toe die sterre saamgesing het en al die hemellinge gejubel het?"

#        Drie Nuwe Testamentiese uitsprake werp verdere lig op Gen 1:1.
          Johannes 1:1-3 (OAV): "In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie."
          Hebreërs 11:3 (DAV): "Deur geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is, met die gevolg dat dit wat gesien kan word, ontstaan het uit dit wat nie gesien kan word nie."
          Openbaring 4:11 (DAV): "U is waardig, ons Here en God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, omdat U alle dinge geskep het; deur u wil het alles ontstaan, is dit geskep."

Gen 1:2

#        Vers 2 kom na die wondere van v.1 as 'n ontnugtering, 'n skok! Vers 2 skets 'n onherbergsame, neerdrukkende toneel. Dis amper spookagtig!
          Hoe rym ons dit met vers 1 se heerlike triomf?
          Dit val uiteen in drie dele.

#        Een. Die woorde "woes en leeg" in v.2 (OAV; ESV: "without form and void"; Heb: tohu wabohu)[16] is belangrik. Hierdie woorde skets die lewelose, troostelose en onherbergsame toestand van spesifiek "die aarde" na die triomf van v.1, en voor die wondere van die skeppingsdae vanaf v.3.
          Dit geld ook vir die begrip, "duisternis", en dalk word dit ook deur die woord "wêreldvloed" geïmpliseer.

          +          Die Hebreeuse woord, tohu, word ook in die Psalms en profete aangetref. Dit word 19 keer in die Ou Testament gebruik (11 keer in Jesaja). Die basiese betekenis is leegheid, ydelheid, onbeduidendheid, nietigheid. Vir die Israeliete het hierdie woord 'n onheilspellende betekenis gehad. Dit word byvoorbeeld gebruik om die onherbergsaamheid van die woestyn te beskryf (Deut 32:10; Ps 107:40; Job 6:18; 12:24). Dit verwys ook na die futuliteit en leegheid van afgodery (1Sam 12:21; Jes 41:29; 44:9).

          +          Die Hebreeuse woord, bohu, word net in verbinding met tohu gebruik (Gen 1:2; Jes 34:11; Jer 4:23). Laasgenoemde twee Skrifgedeeltes bring die idee daarvan uit.

          +          In Jes 34 het ons 'n oordeelsaankondiging oor Edom. Die OAV sê dan in v.11 dat die Here die riglyn van tohu (woestheid) daaroor span, en die skietlood van bohu (vormloosheid). Die ESV vertaal onderskeidelik met confusion en emptiness. Op Edom wag dus chaos en 'n lewe gehul in sinloosheid en wanhoop.
          'n Ewe onheilspellende oordeelsaankondiging kry ons in Jer 4:23: "Ek het na die aarde gekyk en dit was tohu wabohu ..." Die wêreld waarin hierdie mense vorentoe gaan leef, sal vergelyk kan word met die skrikwekkende toestande op aarde Gen 1:2.

#        Twee: Die onheilspellende en troostelose toestand van die aarde word verder beklemtoon deur die "duisternis" en die "wêreldvloed".

          +          In die Ou Testament suggereer "duisternis" verlatenheid, uitsigloosheid, bedreiging, onheil, spookagtigheid. Dit dra sterk negatiewe konnotasies
          Daarenteen gebruik die Bybel uitdrukkings soos môre en oggend om van lig en lewe te praat (Ps 90:14). Dis die tyd van gebedsverhoring, heil en nuwe lewe (Ps 88:14).

          +          "Wêreldvloed" dui waarskynlik hier in v.2 op baie water — onder, op en bo die aarde. Eers later, in v.6-10, bring God orde wat dit betref.

#        Drie: Fassinerend is die feit dat die Gees van God oor die waters gesweef het.

          +          Dis 'n algemene idee dat "sweef" die idee dra, om te broei. Vergelyk mens dit egter met Deut 32:11, waar dieselfde woord gebruik word, blyk dit as waarskynlik nie korrek nie. Hier in Deuteronomium fladder of sweef 'n arend bokant haar kleintjies; sy is nie nog besig om op hulle te broei nie. Maar dis nodig om by te voeg dat die betekenis van die betrokke Hebreeuse woord nie absoluut seker is nie. Dis egter baie redelik om te aanvaar dat die OAV en NAV se vertaling, "sweef", die beste is. Die idee van fladdering is dalk nog nader aan die regte vertolking (die NIV en ESV vertaal met "hovering").
          Tog aanvaar sekere kommentatore dat dit wel daarop dui dat die Heilige Gees iets van 'n "bevrugtende werking op die ongevormde massa uitgeoefen het"[17]
          Nog Skrifuitsprake wat in hierdie verband betekenisvol is, is Job 26:13; 33:4; Ps 104:30; Jes 40:13; 1Kor 2:10).

          +          Volledigheidshalwe moet mens onthou dat die Hebreeuse woord wat met "Gees" vertaal word, ook "wind" kan beteken. En inderdaad is daar heelwat kommentatore wat reken dis eerder die idee hier.
          Selfs al sou eerder met "wind" vertaal word, is dit hoogs waarskynlik bloot 'n manier om na die Heilige Gees te verwys.
          Die OAV, NAV, ESV, NASB en NIV vertaal egter konsekwent met hoofletters — die Heilige Gees. Ek meen ons kan dit maar vashou.

#        Vers 2 skets dus 'n onherbergsame aarde voordat God vanaf v.3 sy verdere skeppingswoorde begin spreek het.
          Maar oor hierdie antieke aarde het die Heilige Gees gesweef — bes moontlik belofteryk en selfs dalk voorbereidend.

Die verhouding tussen Gen 1:1 en Gen 1:2

#        Is verse 1-2 een of twee sinne?
          Die OAV en NAV is korrek as dit v. 1 en 2 twee verskillende sinne maak (vgl. ook ESV; NASB; NIV; KJV; NKJV). Dit geld ook die tradisionele vertalings: die Griekse Septuaginta; die Latynse Vulgaat en die Peshitta in Siries. Dis 'n korrekte verstaan van die Hebreeus.
          Sou mens dit as een sin vertaal, soos sommige van die vryer vertalings en parafrases (Bv. Die Lewende Bybel; Good News Bible; The Living Bible), [18] word v.1 'n inleiding tot v.2. Dan skep dit die indruk dat die twee verse 'n vormlose "iets" praat — min of meer soiets: In die begin toe God die hemel en die aarde geskep het, was die aarde woes en leeg en donker. En die Gees van God het oor die waters gesweef.

          +          Suiwer grammatikaal is bogenoemde nuwer vertalings dalk, ek sê dálk, 'n moontlikheid, maar waarom vertaal feitlik alle gerespekteerde en betroubare vertalings v.1 en 2 apart (vandag en ook deur die geskiedenis)?
          Vers 1 is 'n volledige sin en v.2 'n volgende.
          Collins, 'n kenner van Hebreeus skryf: " ... the traditional one (translation) is what the Hebrew text actually says; you have to modify the text (be it ever so slightly) to get the newer version... the traditional rendering is good Hebrew grammar: it follows the conventions for giving us an event that took place before the main story ... and then telling us what the conditions were when the event in the main story get under way (that's what v.2 does)".[19]
          Let op dat die Skrif geen aanduiding gee hoe lank die toestand in v.2 geduur het nie — hoe lank die Gees ná dit wat v.1 sê, oor die waters gesweef het. Maar die Hebreeus wil amper vir seker suggereer dat v.2 die toestand was toe v.3, oftewel dag 1 aangebreek het.

#        Hoe moet ons die verskil tussen v.1 se triomf en v.2 se onherbergsaamheid verstaan? Hierop gee ons teks nie vir ons 'n antwoord nie. En geen uitdruklike antwoord vind ons elders in die Woord nie. Tog is daar Bybelse aanduidings wat dalk die probleem ontknoop. En totdat ek beter insig kry, aanvaar ek dit as 'n waarskynlike verduideliking vir die dramatiese verskil tussen v.1 en v.2.

          +          In plaas van v.2 se "die aarde was woes en leeg" kan dit ook vertaal word: "die aarde het woes en leeg geword ...".[20] Toegegee, die vertaling soos in ons vertalings is 'n meer natuurlike verstaan van die Hebreeus, maar as ons 'n tydsverloop tussen v.1 en v.2 aanneem (en dis heeltemal moontlik, dalk selfs waarskynlik) volg die vertaling "geword" baie maklik (vgl. Gen 19:26).

          +          In Gen 3 lees ons die eerste keer van die Satan, waar hy "die slang" genoem word. Daar verlei hy Adam en Eva om die proefgebod te oortree. En so misluk die mens in sy hoë en verhewe roeping — en die katastrofiese sondeval word 'n werklikheid.

          +          Ons weet nie hoeveel tyd verloop het tussen die mens se skepping en sy sondeval nie.
          Ook weet ons nie hoe lank die duiwel voor Gen 3 bestaan het nie. Maar dis gewis moontlik — dalk waarskynlik (?) — dat sy val vanaf sy verhewe posisie in die hemel, en sy gevolglike vyandskap teen God, tussen Gen 1:1 en Gen 1:2 kon plaasgevind het — dus vóór die skepping van die mens.
          As die mens se sondeval so 'n enorme negatiewe impak op die skepping gehad het (Rom 8:19-22), is dit nie dalk moontlik dat die val van die hoof van die engeleryk 'n soortgelyke katastrofe vir die oorspronklike skepping van Gen 1:1 kon meegebring het nie — met Gen 1:2 tot gevolg?

          +          As bogenoemde korrek is — ek vertrou dis méér as spekulasie — verduidelik dit die dramatiese verskil tussen v.1 en v.2.

#        Drie Nuwe Testamentiese uitsprake werp verdere lig op Gen 1:1.
          Johannes 1:1-3 (OAV): "In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie."
          Hebreërs 11:3 (DAV): "Deur geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is, met die gevolg dat dit wat gesien kan word, ontstaan het uit dit wat nie gesien kan word nie."
          Openbaring 4:11 (DAV): "U is waardig, ons Here en God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, omdat U alle dinge geskep het; deur u wil het alles ontstaan, is dit geskep."

'n Vinnige, maar betekenisvolle afdraaipaadjie

#        Tot en met die begin van die twintigste eeu is algemeen in wetenskaplike en filosofiese ongeloofskringe geglo dat die kosmos van alle ewigheid af bestaan — dat dit met ander woorde sonder 'n begin was. As sodanig, so is gehuldig, is die natuur verantwoordelik vir alles wat lewe. Het Darwin, so is geglo, nie bewys dat dit selfs vir die mens geld nie! Die natuur is dus vergoddelik. Ons noem díé filosofie panteïsme.
          Iets meer as 'n eeu gelede het Einstein se relatiwiteitsteorie — wat vandag in wetenskaplike gemoedere so vas soos die berge staan — hom egter in 'n rigting gedwing waarvan hy glad nie gehou het nie. Dit het sy ateïsme 'n doodskoot toegedien. Want sy baie gevorderde berekenings het onmiskenbaar bewys dat die kosmos níé ewig is nie. Praat van 'n knuppel in die hoenderhok van destyds se wetenskapwêreld! Waarom? Die groot geleerde het bewys dat die heelal — materie, tyd en ruimte — 'n begin gehad het. Die implikasie daarvan was en is steeds onontkombaar: dan moes 'n nóg groter Oorsaak, oftewel 'n almagtige Outeur, die kosmos geskep het!
          Dit lei dan die briljante geleerde tot 'n kostelike poging om sy ateïsme te red. Ons praat van Einstein se "Fudge Factor".[21] Of hy ooit by nabaat daaroor kon grinnik, weet ek nie. Hy het immers later daarna verwys as "the greatest blunder of my life".
      Die geniale wetenskaplike het op 'n plan besluit om van hierdie klip in sy skoen ontslae te raak. Hy het 'n kosmologiese konstante in sy berekenings ingewerk wat kwansuis sou bewys dat die heelal staties en ewig is en nie 'n begin gehad het nie. Mens kan dit beswaarlik glo, maar die groot wetenskaplike het iets gedoen wat selfs skoolkinders weet nooit mag gebeur nie — hy het deur nul gedeel!
      Nou kon die geleerde weer rustig in sy ongeloof slaap. Maar nie vir lank nie. Want in 1919 doen Arthur Eddington 'n eksperiment tydens 'n sonsverduistering wat bewys dat Einstein se aanvanklike berekenings korrek was — ook vir die ongelowige Eddington 'n onwelkome bevinding.
      Einstein se "fudge factor" (soos dit spoedig tong-in-die-kies bekend geraak het) is drie jaar later deur die Russiese wiskundige, Alexander Friedman, finaal aan die kaak gestel.
      Intussen het die Hollander, Willem de Sitter, bo alle twyfel bewys dat die heelal uitwaarts dy — sodanig dat dit op 'n ontstaansmoment vanuit 'n enkele punt dui[22]. En in 1927 het Edwin Hubble dit sterrekundig waargeneem.

#   Miskien is daar 'n leser wat nog nie mooi verstaan waarom iets wat nie ewig is nie, noodwendig 'n skepper vereis. Kom ons dink só daaroor:
      Vir iets of iemand om homself te skep, is dit nodig dat hy bestaan voordat hy bestaan. Hy, of dit, moet wees voordat hy is. Hy moet dus terselfdertyd wees en nie wees nie. Enigeen kan sien dat so 'n argument irrasioneel, onsinnig, absurd is.
      Nee, om te bestaan vereis 'n outeur. Die heelal vereis 'n Skepper. Omdat die heelal 'n feit is, is God die skepper ook 'n feit.

#   Dit lei noodwendig tot 'n volgende vraag: wat dan van God, is Hy ook geskep? Nee, Hy is die eerste ewig-bestaande, ongeskape Outeur van alles buite Homself. Dis nie net 'n geloofsaanname nie, dis 'n logies-onomstootlike feit dat daar sonder 'n ewig ongeskape eerste oorsprong niks sou bestaan het nie — geen syn nie, niks nie, absoluut niks nie.
      Hier kom geloof nou wel in die prentjie.[23] Christene glo dat hierdie eerste Oorsprong niemand anders is nie as die God van die Bybel. Of nog meer akkuraat gestel, hierdie selfopenbaring van die Skeppergod het tot hoogste openbaring gekom in die menswording van God die Seun, die Here Jesus Christus. Hy is die kroon, die piek, die kulminering en vervolmaking van God se selfopenbaring aan die mens.
      Samehangend met bogenoemde is nog 'n waarheid: as ons die woord "bestaan" as per definisie tydsgebonde verstaan, bestáán God nie. Die heelal bestaan. Dinge bestaan. Mense bestaan. Die geskapene bestaan. Maar God ís! Dis díé verbysterende waarheid wat Jahweh by ons wil tuisbring as Hy Homself in Eksodus 3 aan Moses openbaar as "Ek is wat Ek is"!

Nog 'n belangrike waarheid

#        As "God" die Skepper van die hemel en die aarde genoem word, moet ons waarskynlik in die eerste instansie aan God die Vader dink. Maar soos hieronder aangetoon sal word, beklemtoon die Bybel eweneens, naas die Vader, ook die betrokkenheid van die Seun, sowel as die Heilige Gees by die skeppingsproses. As sodanig sinspeel Gen 1:1 ten diepste op die Drie-enige God.

      +    God die Vader is die primêre Skepper, maar ook speel God die Seun en God die Heilige Gees 'n kardinaal belangrike rol.

      +    Die Seun word meermale beskryf as die Persoon deur wie die skepping tot stand gebring is. In die Nuwe Testament word Hy konsekwent voorgehou as die aktiewe agent deur wie die skepping tot stand gekom het (Joh 1:3; 1Kor 8:6; Kol 1:16; Heb 1:2). Let op die konsekwente herhaling (in al 4 verse) dat die heelal "deur" Hom geskep is.

      +    Wat die amper verrassende mededeling in Gen 1:2, dat die "Gees van God" oor die waters gesweef het, ook al wil sê, lyk dit of of Hy bewarend, instandhoudend, regerend oor die waters gewaak het.
      +    As gewese konstruksie-ingenieur dink ek onvermydelik aan 'n illustrasie uit daardie wêreld. Laat ons net onthou dat alle illustrasies te kort skiet, des te meer as mens aan die Drie-enige God dink.
     As 'n baie groot dam in 'n rivier gebou moet word, vereis dit die betrokkenheid van honderde mense. Elke persoon met sy eie rol. Hierdie funksies is oor 'n baie wye spektrum versprei. Op 'n manier kan ons hierdie mense in drie kategorieë indeel, die een so onmisbaar soos die ander.
      In die eerste instansie is daar die beplanners en ontwerpers. Hierdie mense konseptualiseer en bedink die projek. Meestal werk hulle ver van die bouterrein af, iewers in kantore. Hulle doen derduisende berekenings, kosteberekenings en sorg uiteindelik dat planne in die fynste besonderhede geteken word. Tenders en ander regsake moet aandag kry, serwitute en selfs plase moet uitgekoop word, ens. ens.
      Op die konstruksieterrein self kry jy dan 'n span ingenieurs en tegnici en rekenmeesters, stoormanne, mediese ordinanse, en nog meer. Hulle werk meestal onderdak in kantore en laboratoriums en magasyns, maar kom ook daagliks op die bouterrein self. Hulle moet die projek aan die gang kry en aan die gang hou. Hulle moet sorg dat volgens spesifikasies en voorskrifte gebou word. Hulle moet die geldvloei beheer. En daar is 'n honderd dinge meer.
      Derdens is daar die manne sonder wie niks gebeur nie — manne wat selde die eer kry wat hulle toekom. Ek praat van die voormanne, die skakel tussen die kantore teen die bult en die konstruksiespan. Niemand is belangriker om die "job" aan die loop te hou nie.
      Vierdens is daar diegene sonder wie daar nooit 'n dam sal wees nie. Werkers met pik en graaf, skrynwerkers, masjienoperateurs, werktuigkundiges, en nog talle meer. Sonder hulle kan dit ewe min.

      +    Miskien is bogenoemde konstruksieterrein 'n gelykenis van die koms van die koninkryk van God. Soos hierbo is daar ook vier partye, in dieselfde volgorde: die Vader, die Seun, die Heilige Gees, die medewerkende en gehoorsame liggaam van Christus.

      +    Mens sou uiteraard bg. illustrasie nog verder kon trek. Vir die oningewyde besoeker is die konstruksieterrein 'n onverstaanbare, chaotiese, stowwerige en lawaaierige plek. Dis ook 'n gevaarlike plek waar jy oopoë moet loop.[24] Maar in werklikheid loop die hele projek soos 'n klok, presies volgens plan en op skedule. Wanneer die dam eendag klaar is, laat honderde hektaar geil landerye die woestyn blom. En dit alles lei tot ongekende welvaart vir talle in die tye wat kom.

Nie almal stem saam nie

#        Voor my lê 'n dik, konserwatiewe en goeie kommentaar.[25]
          Op p.106 word aangevoer dat v.1 'n inleidende en opsommende neutedop-samevatting is van wat tydens die ses skeppingsdae gebeur het — dis die ses dae in 'n neutedop. Kyk mens egter goed na die Bybelteks, sien jy dat so 'n vertolking geensins water hou nie.

          +          As v.1 direk deur v.3 gevolg is, sou mens dalk nie van bogenoemde skrywer verskil het nie. Maar die stok in die speke van sy verklaring is v.2. As sy stelling korrek sou wees, wat maak mens van die feit dat v.2 sê die aarde was woes en leeg en in duisternis? Want die skeppingsdae vanaf v.3 skets juis die orde wat God bring. En alreeds op dag 1 word lig geskep. Wanneer was dit woes en leeg en donker?
          Daar is, lyk dit vir my, net één manier om hierdie eerste drie verse te verstaan: God het aanvanklik die hemel en die aarde geskep. Dan volg 'n toestand van woestheid, leegheid en duisternis. Eers daarna word lig op die eerste dag van die skeppingsweek voortgebring (oor  tydsduur van Gen 1-2 word niks aan ons geopenbaar nie).

#        Om soos hierbo 'n agtergrondskets te gee voordat die storie waaroor dit eintlik gaan, onderweg kom, is tipies, nie net in Hebreeus nie, maar waarskynlik in enige taal. Mens kry iets soortgelyk in Gen 16:1 & 24:1.

Wat is die verhouding van Gen 1:1-2 met Gen 1:3vv?

#        Die skeiding tussen v.1-2 en v.3 evv, is onmiskenbaar as jy behoorlik na die teks kyk.
          Die "hemel en die aarde" dui in v.1 op die ganse skepping, oftewel die ganse heelal (vgl. ook 2:4).
          Daarenteen fokus v.3vv op die "aarde" en sy "uitspansel" (v6-8). In v.8 word die uitspansel ook die "hemel" genoem. Die ESV sê dan in 'n voetnota dat die woord "heaven" ook met "sky" vertaal kan word. Ons kan dus aflei dat "uitspansel" dui op die atmosfeer rondom die aarde.
          Verse 1-2 en die verse vanaf v.3 is verskillend gerig. Die eerste twee verse praat van die ganse kosmos. Vanaf v.3 word spesifiek op die aarde gefokus.

#        Die volgende stukkie Hebreeuse eksegese is ongelukkig 'n bietjie tegnies en sal dalk nie so maklik verstaanbaar wees vir lesers wat nie Hebreeus ken nie.[26] Maar dis kardinaal belangrik en deurslaggewend vir die regte vertolking van die verhouding tussen Gen 1:1-2 en Gen 1:3vv. Jy kan dit rustig oorslaan, as jy wil, behalwe vir my kursiewe slotsom aan die einde van hierdie paragraaf. Ek sal dit nogtans so eenvoudig moontlik probeer verduidelik.

          +          In Hebreeus is daar verskillende werkwoordvorms. Elkeen vorm dra 'n bepaalde idee — 'n boodskap. Een so 'n vorm staan bekend as die "wayyiqtol-vorm" van die werkwoord. Sulke werkwoorde het altyd 'n bepaalde Hebreeuse letter vooraan gevoeg — die letter waw. Dis aanduiding van 'n tydsdimensie en beklemtoon die hoofgebeure waaroor dit eintlik gaan.
          Werkwoorde sónder die waw skets die agtergrond, die dekor wat reeds in plek is voordat die hoofgebeure — in die wayyiqtol — plaasvind.

                      =          Collins skryf in genoemde kommentaar op p.51-52: "Most narrative pericopes in the Pentateuch actually begin with a wayyiqtol verb, as in Genesis 12:1 ("now the Lord said"). A number do begin with a verb in the Perfect, and the do so in order to describe an event that precedes the main storyline. For example, consider Genesis 24:1. ... The action of blessing took place prior to the main action." [27]

          +          Genesis 1:1-2 het 3 werkwoorde: om te skep (v.1); om te wees (v.2a); om te sweef (v.2c). Vers 2b het nie 'n werkwoord in die Hebreeus nie, maar vertalings voeg "om te wees" in ter wille van verstaanbaarheid.
          Die eerste werkwoord, om te skep, is in die perfektum en dui op 'n handeling vooraf, steeds geldig as die hoofgedagte plaasvind. Dit is nie in die wayyiqtol-vorm nie.
          Die tweede werkwoord, om te wees, is ook in die perfektum. Dit is nie in die wayyiqtol-vorm nie.
          Die derde werkwoord, om te sweef (v.2a), is 'n deelwoord en beskryf 'n voortgaande handeling. Dit is nie in die wayyiqtol-vorm nie.

          +          Die eerste
wayyiqtol-vorm kry ons dan in v.3. God het gesê. En so hou dit konsekwent aan deur die volgende skeppingsdae. Dis 'n aanduiding dat hierdie gebeure volg na dit wat in v.1-2 beskryf word volg. In v.3 begin die hooffokus van Gen 1. Dis waaroor die skrywer eintlik wil skryf.

#        Slotsom: Onmiskenbaar duidelik wil Gen 1:1-2 die voorafgaande en reeds-bestaande toneel skets wanneer dag een in v.3 begin. Die hemel en die aarde het al bestaan toe dag een van die skeppingsweek aangebreek het!

Samevatting en slotsom

#        Vers 2 beskryf die toestand van spesifiek "die aarde" ná die aanvanklike skepping van die "hemel en die aarde" (v.1), maar vóór die gebeure wat vanaf v.3 beskryf word. Hoe lank hierdie toestand geduur het, sê die Bybelteks nie vir ons nie. Logies kan dit praat van 'n kort tydperk onmiddellik voor dag een in v.3. Maar dit kan óók dui op 'n baie, baie lang bedeling.
          Dit staan egter vas: hoe mens ook al dink oor die ouderdom van die skepping, en hoe jy ook al die "dae" van v.3vv vertolk, die Bybelteks sê vir ons niks oor hoe lank verloop het vanaf die oomblik toe God die hemel en die aarde geskep het totdat dit wat v.3vv beskryf, aangebreek het nie.

          +          Selfs die baie konserwatiewe A.W. Pink gee dit reeds 'n eeu gelede toe — ten spyte van sy baie sterk oortuiging dat Gen 1:3vv praat van sewe 24-uur kalenderdae, minder as 6000 jaar gelede. Hy skryf: " ... if the surmises of geologists could be conclusively established there would be no conflict at all between the findings of science and the teaching of Scripture. The unknown interval between the first two verses of Genesis 1, is wide enough to embrace all the prehistoric ages which may have elapsed ..."

#        Daar is dus geen noodwéndige konflik tussen Gen 1 en die universele konsensus in wetenskaplike kringe dat die skepping 13,7 biljoen jaar gelede ontstaan het nie (of hierdie syfer korrek is of nie). Wat ook al jou standpunt oor die regte verstaan van Gen 1, moet jy saamstem dat 'n baie óú skepping op grond van Gen 1:1-2 nie uitgesluit is nie. Om hierdie implikasie te ontkom, moet mens die eksegese van hierdie twee verse hierbo verkeerd bewys. En let op, wat hier gesê word het niks te doen met wat die wetenskap sê nie; dit gaan gewoon oor wat die Bybelteks sê.




Genesis 1:3-2:3 : Sewe dae


Die geskiedenis

#        Dwarsdeur die kerkgeskiedenis is geworstel met die vraag oor hoe die skeppingsdae verstaan moet word. Deurgaans was en is daar verskillende opinies wat dikwels met drif verdedig word. Dit het tot vandag toe nie verander nie.
          Wat wel waar is, is dat die onderliggende Aristotelies-Ptolemeïese wêreldbeeld min
of meer deur almal vir baie eeue aanvaar is.

          +          Aristoteles (384-322 v.C.) was 'n Griekse filosoof wat 'n enorme invloed in die vroeëre wêreld uitgeoefen het. Wat die astronomie betref, het hy geleer dat die aarde 'n bol is (onthou hy was nie 'n Bybelgelowige nie) wat onbeweeglik die middelpunt van al die hemelliggame is. Al hierdie sterre het, soos die son en die maan, sirkelvormig rondom die aarde geroteer. Hierdie beskouing word die geosentriese stelsel genoem.

            +          Ptolemaeus (100-170 n.C.) was 'n Griekse wiskundige, sterrekundige en algemene wetenskaplike. Hy het die geosentriese beskouing uitvoerig beskryf. Sy boek, Syntaxis Mathematica, sou díé handboek wees waarop alle sterrekundiges tot en met die sestiende eeu hulle navorsing gebou het.

#          Nie almal in die ou wêreld het aan die skeppingsdae as gewone weeksdae gedink nie. Ek noem 3 bekende ou vaders van die vroeë kerk.

            +          Die ou kerkvaders Justinus die Martelaar (100-165 nC) en Irenaeus (120/140-200/203 nC), biskop van Lyon, het al voorgestel dat Gen 1 se "dae" dalk lang epogte was, gebasseer op Ps 90:4: "Want duisend jaar is in u oë soos 'n dag ...."

            +          Origenes (185 -254 nC), die mees prominente teoloog van sy dag, het al daarop gewys dat lig reeds op dag een en die son eers op die vierde dag geskep is. Hy het dus 'n bloot kronologies-historiese vertolking van die ses skeppingsdae bevraagteken.

            +          Die versiende Augustinus (354-430 nC) skryf in sy Die Stad van God dat hy ernstige vrae het oor die vertolking van Gen 1 se "dae". En in sy Oor die letterlik verstaan van Genesis, skryf hy: "ten minste weet ons dat die dae (van Genesis) anders is as die gewone dae wat ons ken ..." Uiteindelik het hy geglo dat God alles in 'n oomblik geskep het.

#          Toe kom Nikolaus Kopernikus (1473-1543) met 'n radikaal nuwe beskouing. Hy beskryf in 1543 'n heliosentriese stelsel met die son as middelpunt, waarom die planete roteer. Hy verstaan ook dat die aarde elke 24 uur om sy eie as roteer.
            Hieraan neem die Rooms-Katolieke Kerk aanstoot. Die kerk hou by die tradisionele beskouing en letterlike vertolking van 'n klompie Bybeluitsprake, naamlik dat die aarde stilstaan en die son roteer. Hulle kan dit immers vers en kapittel aantoon![28]
            Ook die Reformatore verwerp Kopernikus se standpunt: Luther in sy Tafelpraatjies, en Calvyn in sy Psalms-kommentaar.

#          Min of meer 'n eeu later daag 'n Italianer op: Galileo di Vincenzo Bonaulti de Galilei, algemeen net bekend as Galileo Galilei (1564-1642). Hierdie sterrekundige, fisikus en ingenieur, word beskou as die vader van die sterrekunde en moderne fisika — trouens die vader van die moderne wetenskap. Hy ondersteun die beskouing van Kopernikus en ook hy kom in botsing met die Rooms-Katolieke Kerk, wat hom uiteindelik dwing om sy "dwaling" terug te trek (miskien is dit net 'n legende, maar daar word vertel dat hy direk nadat hy sy "belydenis" uitgespreek het, vir homself gemymer het: "dit verander niks aan die feit dat die aarde inderdaad beweeg nie!". Hy is nie gefolter nie, maar wel in huisarres geplaas.

#          Sedert die 1840's word die heliosentriese beskouing algemeen aanvaar en vandag staan dit aksiomaties vas. Niemand betwyfel dit meer nie dat die aarde om sy eie as roteer en jaarliks in 'n elliptiese baan om die son beweeg teen 30 km/sek, oftewel 108 000 km/h.

#        Miskien kan ek, om hierdie paragraaf af te sluit, noem dat talle uitstaande en regsinnige Bybelgelowiges in die resente geskiedenis, asook in die teologiese en kerklike wêreld van ons dag 'n baie ou skepping aanvaar. Almal hieronder is predikers en teoloë.
          Ek noem 'n paar bekende en gerespekteerde name: B.B. Warfield, R.A. Torrey, C.S. Lewis, Francis Schaeffer, Billy Graham, J.I. Packer, Wayne Grudem, Millard Erickson, Norman Geisler, William Lane Craig, Alvin Plantinga, Walter Kaiser, John Piper, Tim Keller.[29]
          Natuurlik is ek goed bewus daarvan dat ander ewe bekwame en beroemde teoloë 'n sewe kalenderdae skepping huldig. Ek haal bloot bogenoemde name aan om te toon dat daar vir seker ook 'n sterk saak uitgemaak kan word vir 'n ou skeppingsbeskouing, sonder om jou eie geloofsregsinnigheid of die algehele betroubaarheid van die Skrif onder verdenking te plaas.
          Wat my wel die hoenners in maak, is as aanhangers van 'n sewe-kalenderdae-vertolking diegene wat in 'n ou skepping glo onder verdenking plaas deur te suggereer dat hulle Bybelkrities is, die "glasheldere" getuienis van Gen 1 ignoreer en ewolusionisme aanhang — want dit is alles behalwe waar. Sulke mense is óf naïef en onkundig, óf kwaadwillig. En ongelukkig is daar baie gelowiges wat hulle uitsprake vir soetkoek opeet.

          +          Les bes is die ou skeppingsbeskouing, anders as die sewe dae beskouing, nie belas met die aanklag dat dit feitlik die ganse natuurwetenskaplike konsensus oor ons onderwerp geringskat nie.


Enkele opmerkings oor die dae in Gen 1:3-2:3

#        Sonder om 'n historiese dimensie in uiteensetting van die skeppingsdae dae te ontken, moet ons dit nie oorspan nie. Laat ons steeds die poëtiese karakter in die bespreking van hierdie verse in gedagte hou.

Die eerste dag (Gen 1:3-5)

#        "En God het gesê": Hier, onmiddellik, is die Bybel in onversoenlike konflik met Darwinistiese evolusionisme.[30] God is die Skepper!

          +          Dis net Hy wat dit doen. En Hy skep deur slegs 'n bevel te gee. So is dit deurgaans (v.6, 9, 11,14, 20, 22, 24, 26). Die Hebreeuse woord (amar) het meer as een betekenis, maar hier dui dit op God se skeppende bevel: Hy praat en dit gebeur!
          Só stel Ps 33:9 (NAV) dit: " ... Hy het gepraat en dit was so, Hy het beveel en dit was daar." Psalm 148:5: "Hy het bevel gegee — en hulle is geskape." Ook Heb 11:3 sê, die wêreld is deur die woord van God geskep.

#        Laat ons daarteen waak om in ons besinning oor die skeppingsbeskrywings vorentoe dit anders as Godgesentreerd te lees. Dis Hy en net Hy wat skep. En Hy doen dit ter wille van Homself en Sy verheerliking.

#        Vers 2 het van duisternis en onheil gepraat. Maar in so 'n toestand laat God nie sy skepping bly nie. Die uiteinde daarvan sal veel heerliker wees. Dit sal 'n skepping in die lig wees!

#        Lig is meermale in die heidendom van destyds as ewig en goddelik beskou. Maar hierdie verbysterende natuurwonder ontbloot dit onmiskenbaar nou as net nóg 'n geskapene. Ten diepste wys v.3-5 heen na die almagtige en soewereine Skepper — Hy en Hy alleen is die Lig.

#        "Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis." Dis oorwinningskrete. God het mag oor die duisternis — oor tohu wabohu, oor onheilspellende leegheid, sinloosheid, onbeduidendheid, onherbersaamheid.
          Daar is waarskynlik 'n rede waarom lig eerste aan die orde is. Ten diepste wil hierdie verse oor méér praat as energiegolwe of -partikels wat teen 300 000 km/sek beweeg. Ja, natuurlik. Maar dit wil ons ten diepste herinner aan die Skepper, die almagtige Skepper van lig, die Oorwinnaar oor duistere boosheid.
          Só stel Joh 1:5 dit: "Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie."
          Só stel Joh 8:12 dit: Jesus het vir die mense gesê: "Ek is die lig vir die wêreld. Wie my volg, sal nooit in die duisternis leef nie, maar sal die lig hê wat lewe gee."
          Só stel 2Kor 4:6 dit: God wat gesê het: "Laat daar lig skyn uit die duisternis, het ook in ons harte 'n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal."
          Die drie uur lange pikdonkerte op Golgota spreek van die helse smarte, leiding en onheil wat die laaste Adam moes verduur toe Hy finaal diegene wat in die mag van die duisternis was daarvan verlos het. Hy het verduur wat hulle toegekom het, sodat hulle vir ewig kon kry wat Hy verwerf het — ewige lig en lewe!

Die tweede dag (Gen 1:6-8)

#        Weer vind hier skeiding plaas — tussen waters bo en waters onder — met die uitspansel as skeiding tussenin. Weer moet ons dit lees in die lig van v.2, die "wêreldvloed". Dit wat onheilspellend was se mag word gebreek.
          Maar dit word nog nie totaal verwyder nie. As God sy oordele oor die wêreld bring, word tydens die sondvloed "die sluise van die hemel" oopgetrek (Gen 7:11; 8:2).

#        Die woord wat die OAV vertaal met "uitspansel" en die NAV met "gewelf" (ESV: "expanse" en in die voetnota, "canopy" of "sky") is verwant aan die Hebreeuse werkwoord "om uit te sprei".  Dis 'n beskrywing van die semisferiese atmosfeer wat ons vanaf die aarde van horison tot horison sien. Hier in Gen 1 kom dit meermale voor, sewe keer (v. 6; 7; 8; 14; 15; 17; 20).

Die derde dag (Gen 1:9-13)

#        Nogeens is daar skeiding: God skep 'n woonplek vir die mens en landdiere op droeë grond deur die waters eenkant te versamel. Hierin sit nog 'n voorlopigheid, 'n voorwaardelike, maar na die vloed word die skeiding 'n permanente (Gen 9:11vv). Die belofte word elders in die Skrif herbevestig (Job 26:12; Ps 89:10; Ps 104:7-9; Jer 5:22).

#        Daar gebeur egter méér op die derde dag. Plante word op die land geskep — elkeen na sy eie aard, wat drie maal herhaal word. Die skepping sal onder meer gekenmerk word deur 'n verbysterende verskeidenheid.

Die vierde dag (Gen 1:14-19)

#        Die aarde is reeds versier; nou volg die atmosfeer. Die hemelliggame word geskep, maar hulle sal gewoon tekens en diensknegte sal wees — net "ligdraers". Ja, die son en die maan sal wel 'n prominente rol speel, elkeen op sy manier. Binne die grense van sy skeppingsrol sal elkeen tog 'n heersersfunksie hê. Maar dit sal dienende heerskappy wees (v.14-15).

#        Betekenisvol is dat die son en die maan bloot die "groot lig" en die "klein lig" genoem word. Waarskynlik is dit om Israel se godsdiens duidelik te onderskei van die talle heidense godsdienste wat veral die son en die maan vergoddelik het (Deut 4:19; Job 31:26-28).

Die vyfde dag (Gen 1:20-23)

#        Nou breek die skepping van die allerlei diere aan — waterdiere en lugdiere. Die aarde is besig om bevolk te raak met lewende wesens.

#        Opvallend is dit dat spesifiek van die "groot seediere" gepraat word. Die vertaling "seemonsters" sou ook in orde wees. Die bepaalde Hebreeuse woord dui elders op bose en onheilspellende magte in die waters. Weereens is hierdie wesens deur van die heidenvolkere aanbid, en hier word uitdruklik daarop gewys dat ook húlle niks meer is as skeppinge van die ware God nie.
          'n Verder bevestiging van bogemelde is die feit dat nou eers weer vir die eerste keer na v.1 die die woord "om te skep" (Heb. bara) gebruik word. Na alle waarskynlikheid is dit nog 'n beklemtoning dat die reuse van die see niks anders as skepsele van die ware lewende God is nie. Dit herinner aan Ps 148:7: "Loof die Here ... groot seediere en alle dieptes."

#        Nog iets wat waarskynlik betekenisvol is, is dat God hier vir die eerste keer sy seën uitspreek oor een van sy skeppingsdade. En let op, die seën hou verband met die seediere en voëls se voortplanting. En inderdaad is verwekking en geboorte een van die wonderlikste verskynsels in die skepping. Keer op keer as mens dit beleef en bepeins, staan jy in verwondering. Sekerlik kan ons ook hierin God se waarborg sien dat lewe op hierdie aarde sal bly voortbestaan.

Die sesde dag (Gen 1:24-31; vgl. ook Gen 2:7, 21)

#        Nou bereik ons die hoogtepunt van God se skeppingswerk.
          Die sesde dag, soos die derde, word in twee verdeel. Eers word die skepping van die landdiere beskryf (v.24-25). Dan word die skepping van die mens beskryf (v.v.26-31). Let daarop hoe duidelik, met 'n aparte "En God het gesê" in v.27, die mens se skepping onderskei word van die van die diere.

#        In die hele skepping is die diere naaste aan die mens; anatomies nader as enige ander skepsel. Tot so 'n mate gee God se Woord erkenning daaraan dat selfs die verbond met Noag ook met die diere gesluit word (Gen 9:9-10).

#        Maar ewe wáár is dit dat mens en dier wesentlik verskil. [31] Die dier is verreweg die mens se mindere — daar is 'n wesensverskil tussen hulle. Afgesien daarvan dat dit voor die hand liggend vir ons is, blyk dit ook in die volgende:

          +          Genesis 2:20 deel ons mee dat Adam nie 'n metgesel onder die diere kon vind nie.

          +          Vir die eerste keer lees ons dat die drie Persone van die Drie-eenheid as 't ware saamstem, trouens dalk eers onderling oorleg pleeg voor die skeppingsdaad: "Laat ons mense maak ..." (v.26). Van al die skeppingshandele is hierdie die gewigtigste.

          +          As dit oor die mens gaan, word die woord, om te skep sterk beklemtoon. In teenstelling met die amper huiwerige gebruik van die woord tydens die voorafgaande dae (slegs v.21), word dit nou as 't ware uitbundig drie maal in 'n enkele vers herhaal en dus beklemtoon (v.27): God het die méns geskep! (v.27). Hier is ons by die kroon van die skepping!
          Maar, laat ons goed kennis neem daarvan, hoewel man en vrou die kroon van die skepping is, bly hulle niks meer as net skepsele nie.

          +          Verreweg meer aandag aan die skepping van die mens word in hoofstukke 1 en 2 gegee as aan enige ander skeppingswerk.

          +          Hier is die klimaks van die totale skeppingsgebeure. Die mens word radikaal van al die ander skepsele onderskei — hy word na die beeld van God geskep! Hierdie kwalifikasie is 'n kardinaal belangrik vir die regte verstaan van ons onderwerp. Dit word onmiskenbaar duidelik onder die leser se aandag gebring deur die driedubbele herhaling daarvan (v.26-27).[32]

#        Beswaarlik kan dit sterker beklemtoon word: Die mens is wesensverskillend van al die ander skepsele! Trouens, hy word geskep om oor die aarde te heers. (v.26).
          Die mens is die kroon, die piek, die kulminering van God se skeppingswerk.

#        Betekenisvol is dit dat hier, reeds voor hoofstuk 2 se meer uitgebreide aandag daaraan, baie uitdruklik gemeld word dat die mens as man en vrou geskep is (v.27).
            Maar hulle is verskillend — hulle is nie net mense nie; hulle is man en vrou. Saam moet hulle oor die aarde regeer (v.26), maar elkeen het 'n eie rol. Ja, hulle is baie dieselfde; en tog só anders. Voor God het hulle dieselfde status, maar hulle verskil terselfdertyd ook wonderlik. Vive la difference!: Lett.: Lank lewe die verskil!
         
Die sewende dag (Gen 2:1-3)

#        Daar is 'n wesensverskil tussen die eerste ses dae en die sewende dag. Die twee periodes word onmiskenbaar onderskei.

          +          Die skeppingswerk van dae 1-6 word baie uitdruklik en formeel in 2:1 afgesluit voordat oorgegaan word tot mededelings oor die sewende dag: "So is dan voltooi die hemel en die aarde met hulle ganse leërmag."

          +          Die fokus skuif nou weg van die geskapene na die Skepper self. Waarskynlik is te veel van die debat oor hoe Gen 1-2 verstaan moet word skeppingsgesentreerd, in plaas van Godgesentreerd. Ten diepste en in die finale analise gaan alles oor Hom, sy soewereine almag, sy eer! Dis sekerlik betekenisvol dat in Gen 1 die Godsnaam 32 keer voorkom en 14 keer in Gen 2.

          +          Opvallend is die feit dat daar nou geen mededeling is dat die sewende dag afgesluit is nie. Daar is geen aand nie. Meeste kommentatore vertolk dit as 'n aanduiding dat God se skeppingswerk inderdaad afgehandel is en dat sy rus steeds voortduur.
          Natuurlik moet ons nie onaktiwiteit hierin lees nie. God se aktiewe instandhouding van die skepping en sy regering daaroor gaan voort. Maar die verhoog vir die afspeel van die Godverheerlikende drama wat moet volg, is in posisie geplaas. Alles is nou gereed om te begin.

#        Uitdruklik word beklemtoon dat hierdie sewende dag deur God geseën en geheilig word (2:3). Nie alleen die skeppingswerk self nie, maar ook die verdere verloop van die geskiedenis (insluitende Gen 3) sal die eer en verheerliking van die Drie-enige Skepper dien!
          Hier lê die wortels van die Sabbatsgebod. Dis is 'n skeppingsverordening. Dit kom nie vir die eerste keer in die Tien Gebooie voor nie. En geensins is dit bloot 'n tydsgebonde en kulturele saak nie (Gal 3:28).


Die betekenis van "dag" (Heb: yômˆ)

#        Daar is reeds vroeër beklemtoon (en hopelik oortuigend uitgewys) dat Gen 1 'n onmiskenbare poëtiese karakter het (sonder dat die historiese uitgesluit is). Ons sou dit Die Skeppingslied kom noem. En 'n tipiese karaktertrek van poësie is dat gewone alledaagse begrippe simbolies gebruik word om 'n 'n dieper betekenis te dra.
          Dit behoort ons te waarsku dat die duur van die skeppingsdae glad nie voorop is in Gen 1 nie. Of die skeppingsdae 24-uur lank was, of nie — hoe lank die "dae" dus geduur het — is glad nie wat God se Woord hier wil beklemtoon nie. Eintlik is dit nie ter sake vir die hele argument nie. Dit sou goedskiks lang tydperke kon wees — selfs baie, baie lang bedelings. Mens mag jou opinie hieroor hê, maar op Gen 1 kan jy dit nie begrond nie.
          Wat myself betref, handel dit die dag-kwessie af.

#        Maar dalk is daar lesers wat steeds nie oortuig is van die poëtiese aard van Gen 1 nie en gevolglik daarop aandring dat ons in terme van gewone en letterlike 24-uur dae moet dink.
          Baie mense redeneer só: "Die Bybel praat van ses dae, en vir my is dit genoeg! So, en net so vat ek dit! God het alles binne 'n week afgehandel! Dit staan geskrywe en daarvan kan niemand verskil nie. 'n Dag is tog 'n dag. Hoe kan mens daaroor stry?"
          Maar so eenvoudig is dit nie!
          Kom ons praat dus kortliks oor die begrip "dag" in die Ou Testament (ek doen dit amper teensinnig, na aanleidig van die vorige paragraaf).

          +          In enige taal word letterlike uitdrukkings aanmekaar gebruik as beeldspraak. En almal verstaan dit. Ek sou kon sê: Op sy dag was hy 'n haan onder die henne! Let op, in hierdie sin gebruik ek gewone woorde met letterlike betekenisse. Maar niemand dink ek praat van 'n regte haan en hoenders nie.
          Net so kan "aand" en "môre" dui op die aanvang en einde van 'n korter of langer periode: Oom Klaas het nou die aand van sy lewe bereik; hy durf nie langer sy kar self bestuur nie. Dis beeldspraak wat almal verstaan. Trouens, 'n kind kan begryp dat dit nie letterlik bedoel word nie.
          Die Bybel — en waarskynlik alle tale — is van hoek tot kant vol sulke beeldspraak. Woorde met 'n letterlike betekenis word gebruik om allerlei idees te kommunikeer.
          Dit geld ook vir die begrip yom in die Ou Testament, waar dit dosyne kere voorkom en talle inhoude het. Reeds in ons twee hoofstukke kan ons drie verskillende betekenisse onderskei.

                      =          Een rotasie van die aarde om sy eie as — dus 24 uur. Ons praat van die refrein, "dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die soveelste dag," Sekerlik word hier gepraat van 'n dag van 24uur (Gen 1:5b; 8; 13; 19; 23).
          Genesis 2:2, 2; 2:3 kan dalk ook hier ingesluit word. Maar tog is dit betekenisvol dat die tipiese refreine ("dit was aand en dit was môre") wat gebruik word om dae 1-6 af te grens, heeltemal verswyg word in die geval van dag 7. Dit word gevolglik baie algemeen aanvaar (ook in regsinnige kringe) dat hierdie rusdag van God steeds voortduur — dat Hy dus nie voortgaan met skeppingswerk in dieselfde sin as dit waarvan die vorige verse praat nie. Indien korrek, beteken dit dat God al vir baie, baie lank "rus". In so 'n geval hoort hierdie verse eerder by die derde kategorie hieronder.

                      =          Die tyd van daglig teenoor die tyd van donkerte: "God het die lig toe dag genoem, en die donker het Hy nag genoem". Kom ons praat van 12 uur, hoewel dit by die pole amper 6 maande kan wees (Gen 1:5; 14; 16; 18).

                      =          Enige tydperk waar horlosietyd nie ter sprake is nie — gewoonlik langer as 24 uur (benewens Gen 2:2, 2; 2:3, ook Gen 2:4; 2:17). Dis gewoon 'n tydperk, ongeag hoe lank. Tydsverloop is gladnie ter sprake nie.

          +          Hoe lank was die skeppingsdae dus?
          Al wat ons tot nou toe uitgewys het, is dat die skeppingsdae nie noodwéndig net 24 uur geduur het nie; suiwer volgens die betekenis van die woord kan mens nie uitsluitsel kry nie. Want die woord kan ook van langer tydperke of selfs bedelings praat.
          Die vraag bly dus: hoe lank was dit inderdaad? Kan ons weet? Of moet ons onseker bly? Op grond van die eerste vyf dae se beskrywing lyk dit nie vir my mens kan met sekerheid uitsluitsel gee nie. Maar 'n behoorlike oorweging van die sesde dag (Gen 1:24-31; 2:7-25), gee na my mening vir ons klarigheid.

          +          Op die sesde skeppingsdag het ontsaglik baie gebeur. Wat beskryf word het duidelik meer as 'n dag beloop. Daarmee sê ek nie, let op, dat Gód nie alles in een dag kón gedoen het nie. Natuurlik kon Hy! Maar alles wat uit die skeppingswerk voortgevloei het — op 'n gewoon menslike vlak soos ons dit goed ken — het sonder twyfel baie tyd vereis. Ons praat nie net van 'n paar dae nie; ons praat van jare, bes moontlik van dekades, selfs dalk baie langer.
          Kom ons kyk daarna.

          +          God skep "uit die grond" (NAV) drie soorte diere — mak diere, kruipende diere en wilde diere — al die verskillende soorte (Gen 1:24-25; 2:19-20; NAV).
          God het ál die wildediere en al die voëls na Adam toe gebring (2:19-20). Die indruk word geskep dat ons nie net aan 'n paar soorte moet dink nie, maar bes moontlik aan 'n groot getal spesies.
          Dit lyk verder asof Adam die diere en voëls volgens hulle aard moes benaam. En dit sou sekerlik impliseer dat hy hulle eers sou moes dophou en leer ken. Die NAV vertaal: hy moes vasstel hoe hy elkeen sou noem (Heb. "om te sien" hoe hy hulle sou noem. Vgl. ESV, NASV, NIV: "to see"). Hy moes hulle dus bestudeer en volgens hulle karaktertrekke benaam. Dit moes baie tyd geneem het, bes moontlik jare en selfs langer.
          Dit lyk verder of Adam terwyl hy met hierdie taak besig was 'n verlange gehad het na 'n vrou (soos wat hy in die dierewêreld gesien het). Maar onder diere kon hy nie een vind nie (Gen 2:20).

          +          Eers het God Adam geskep; nog nie vir Eva nie (2:7). Ons kan dit nie met sekerheid sê nie, maar dit lyk of Adam dan 'n tuin plant wat hy moes bewerk en bewaak (2:15). Let daarop dat verse 15-16 van Adam in die enkelvoud praat (vgl. ESV). Dit lyk verder of die bome groot geword het en begin vrugte dra het, wat Adam kon geniet (2:8-9; 16-17).
         
          +          Eers dán, na die naamgee van die diere, word die vrou geskep. Dan eers skep God vir Eva (1:26-29; 2:7; 2:15-18; 2:21-25). In hoofstuk 1 word die skepping van Adam en Eva in dieselfde asem genoem (1:26-29). Maar lees mens Gen 2 sien jy hulle skepping was twee verskillende gebeurtenisse.

          +          In v.23 is daar 'n mededeling wat mens maklik miskyk. As God, as Hy in reaksie op Adam se eensaamheid en behoefte aan 'n maat, in v.22 vir Eva na die mens toe bring, roep Adam uit, "eindelik"! Die Hebreeus sê letterlik, "nou uiteindelik!". Die ESV vertaal, "This at last is bone of my bones ...". Onmiskenbaar impliseer dit 'n lang wag op híérdie vrou!

          +          Sou dit alles binne 24 uur gebeur het? Nee, ek kan die indruk nie ontkom — as sommige lesers dan daarop aandring om oor die duur van die skeppingsdae te praat — dat ten minste die sesde dag nie net 'n dag geduur het nie, maar baie langer. Ons mag dalk van dekades praat, of nog langer, selfs dalk baie, baie langer. Daar was baie tyd voor, want Adam het horingoud geword — 930 jr (Gen 5:5).
          En as dit dan van die sesde dag geld, waarom nie ook van die voorafgaande dae nie?

#        Ek sluit af met 'n aanhaling van die Bybelgelowige Charles Hodge. Sy nugterheid en gesonde verstand blyk duidelik as hy skryf: "It is of course admitted that, taking [the Genesis creation] account by itself, it would be most natural to understand the word ["day"] in its ordinary sense; but if that sense brings the Mosaic account into conflict with facts, and another sense avoids such conflict, then it is obligatory on us to adopt that other .... The Church has been forced more than once to alter her interpretation of the Bible to accommodate the discoveries of science. But this has been done without doing any violence to the Scriptures or in any degree impairing their authority."[33]
          Let op, wat Hodge hier sê, is dat ons nie maar sommer in 'n geval soos hierdie wetenskaplike bevindings moet geringskat en afskryf nie. Sy implikasie is duidelik: laat ons maar nederig wees en onsself afvra of ons die Skrif nie dalk nog altyd verkeerd verstaan het nie. Hy gaan voort om sy geloof in die Bybel se inspirasie en gesag te bevestig. Maar dis één saak. Of ek die geïnspireerde en daarom gesagvolle Woord van God reg verstaan is egter 'n ander vraag. En dis 'n baie gesonde en volwasse vraag om maar gedurig te vra. Les bes impliseer Hodge dat ons die getuienis van die algemene openbaring, en dus van verantwoordelike wetenskap, ernstig moet opneem.
          En gewis was hy reg!



[1]           My verduidelikende byvoeging.
[2]           Hodge verwys hier na Copernicus wat in 1543, en Galileo wat in 1632 getoon het dat die son nie om 'n plat aarde roteer nie, maar dat 'n bolvormige en roterende aarde om die son roteer. Hierdie nuwe insigte was natuurlik strydig met wat vir eeue vers en kapittel op grond van 'n letterlike vertolking van 'n hele klompie Bybelverse geglo is. Vandag weet ons dit is poëtiese uitdrukkings, oftewel beeldspraak.
            Lees maar die geskiedenis, en jy sal sien dat die genoemde twee manne nie baie gewild was in die kerk van destyds nie. 'n Letterlike vertolking van poëtiese Skrifgedeeltes doen nog steeds skade!
[3]           Kenneth D. Keathley & Mark F. Rooker: Forty Questions about Creation and Evolution; Q20: What are the Evidences that the Universe is old?; Kregel; 2014.  
[4]           Deïsme is die geloof in 'n oppermagtige, maar onbekende en afsydige wese wat wel geskep het, maar wat nie werklik betrokke is by hierdie wêreld en die gebeure daarin nie. Hy is wel die Skepper, maar nie die Bestuurder van die heelal nie. Dis bloot 'n filosofiese skepping.
[5]           Naby verwant aan Deïsme. Die beskouing dat, as daar dalk 'n God is, ons niks oor Hom of die hiernamaals weet nie.
[6]           Daar is 'n eeu-oue beginsel en spreekwoord wat deur die jare sóveel vir my beteken het. Dis so oud dat dit eerste in Latyn gesê is — waarskynlik in die sestiende eeu (vroeër is dit waarskynlik verkeerdelik aan Augustinus toegeskryf): in necessariis, unitas; in dubiis et nonnecessariis, libertas; in omnibus, caritas. Ons kan dit so vertaal: in die noodsaaklike dinge, eenheid; in die twyfelagtige en nie-noodsaaklike dinge, vryheid; in alles liefde. Wat dit wil sê, is dat daar Bybelwaarhede is wat ononderhandelbaar deel is van reddende geloof. Maar daar is ander dinge waarvan dit nie geld nie. Wat hierdie dinge betref is daar vryheid en ons moet andere wat van ons verskil nie verketter nie. En deurgaans moet daar liefde onder ons heers.
            Hoewel ek baie oortuig is dat ons huidige onderwerp baie belangrik is, glo ek nie dat ons standpunt daaroor bepalend vir ons saligheid is nie. Die regte verstaan daarvan mag egter wel — ek is oortuig daarvan — bydraend instrumenteel wees in die redding van mense. En, helaas, mag 'n verkeerde verstaan daarvan aanleiding wees — hiervan is ek ewe oortuig — dat talle 'n wantroue en selfs 'n weersin in die Bybel ontwikkel. 
[7]           C John Collins: Genesis 1-4, p.243, goedkeurend aangehaal deur Lennox: Seven Days that divide the World; Zondervan. 2011. p.127.
[8]           In vers 22 is die Hebreeus ietwat verskillend (vgl ESV). Maar dit verwys steeds na God se spreke.
[9]           Die uitstekende vertaling, die ESV, vertaal die Hebreeus konsekwent en bring die punt mooi na vore.
[10]         As ons sê dat niks voor die skepping bestaan het nie, praat ons uiteraard nie van God self nie. God is ewig. Sonder so 'n ewige ongeskape Skepper van alles, sou niks bestaan het nie. Absoluut niks nie. Niks kan uit niks ontstaan nie! As God nie ewig sou wees nie, vereis Sy bestaan 'n ánder ongeskape en ewige skepper vóór Hom, groter en heerliker en magtiger as Hy. Maar nee, die Bybel openbaar God as die absoluut almagtige éérste Skepper — ongeskape en van ewigheid tot ewigheid!
[11]         C. John Collins; Science and Faith — Friends or Foes?; Crossway Books; 2003; p.68.

[12]         Die Hebreeuse woord (bara, om te skep), beteken nie op sigself om vanuit niks iets tot stand te bring nie; dit beteken om iets nuut, vars en volmaak tot stand te bring. Maar in die Skrif word dit wel net vir God se handelinge gebruik.
[13]         Asa (om te maak); yasar (om te formeer); bana (om te bou).
[14]         Die meervoud, hemele, in die Hebreeus (vgl. ESV, Niv).
[15]         Daar word wel weer van "die hemel" gepraat in v.9; 14; 15; 17; 20; 26; 30 (weer die meervoud), maar alleen — sonder "die aarde". Maar híér dui dit op die atmosfeer om die aarde. Vgl. voetnota 24.
[16]         Die voorvoegsel "wa" beteken gewoon die Afrikaans, "en".
[17]         Du Toit, p.73.
[18]         'n Parafrase is 'n poging om die Bybel sin vir sin, of selfs soms paragraaf vir paragraaf (en nie woord vir woord nie) op 'n populêr-bevatlike wyse te vertaal — meermale deur net een persoon. Die vertaler besluit wat die oorspronklike skrywer eintlik bedoel het, en skryf dit dan in sy eie woorde om dit maklik verstaanbaar te maak. Die probleem is dat die vertaler dan nie anders kan as om sy eie subjektiewe verstaan en vertolking — en sy eie teologie — in so 'n parafrase in te bou nie. Sulke baie gewilde parafrases mag dalk lekker lees, maar is nie betroubaar nie. In elk geval is hulle beswaarlik geskik vir behoorlike in-diepte bybelstudie. Ek beveel hulle gebruik nie aan nie — in elk geval nie as jy wil seker maak jy verstaan die Bybel korrek nie.
[19]         C. John Collins; Science and Faith — Friends or Foes?; Crossway Books; 2003; p.67.
[20]         Sien die voetnota by Gen 1:2 in die NIV. Die bekende en regsinnige Skotse predikant, Dr. Thomas Chalmers (1780-1847), het al hierop gewys.
[21]         "Fudge" hier dui nie op die lekkergoed wat ouma maak nie. Die Engelse woord beteken ook nonsens, onsin, kompromis. Twee Engelse uitdrukkings sê dit presies soos dit vir Einstein se flater gebruik is: "cover-up", "cop-out".
[22]         Sien die aanhangsel vorentoe: Die skeppingsmoment.
[23]         Dit beteken nie dat geloof irrasioneel is nie; inteendeel.
[24]         Ek het ongelukkig meer as een keer die pynlike ervaring gehad dat van die werkers verongeluk het — een slag selfs ons algemene werksvoorman.
[25]        Allen P. Ross: Creation and Blessing — A Guide to the Study and Exposition of Genesis, Baker Books, 1996 (eerste gepubliseer in 1988).
[26]         Ek skryf hier veral aan die hand van C. John Collins: Genesis 1-4, A Linguistic, Literary, and Theological Commentary; P&R Publishing; 2006; p.42.
[27]         Vgl. ook Gen 3:1; 4:1; 15:1; 16:1; 21:1; 39:1; 43:1; Eks 5:1; 24:1; Num 32:1
[28]         Vergelyk 1Kron 16:30; 1Sam 2:8; Ps 19:4-6; Ps 93:1; Ps104:5; Pred 1:5.
[29]         Kenneth D. Keathley & Mark F. Rooker: Forty Questions about Creation and Evolution; Q20: What are the Evidences that the Universe is old?; Kregel; 2014.  
[30]         Let op dat ek spesifiek van Darwinistiese ewolusionisme praat. Die "-isme" suggereer dat ons van 'n hele filosofie praat, in hierdie geval feitlik altyd ateïsties. En die kwalifikasie, Darwinisties, beteken dat die wortels hiervan in die leringe van Charles Darwin (1809-1882) gewortel is. Ek praat m.a.w. nie van Teïstiese Ewolusie nie. Daar is wel Bybelgelowiges wat so 'n beskouing huldig. Van hulle is trouens baie toegewyde Christene en net 'n onkundige sal hulle verketter (sien die lys van webwerwe vroeër in hierdie skrywe).
[31]         God se skeppingswerk kan in vier ryke ingedeel word: stof, plant, dier, mens. Wat ook al in terme van natuurlike ontwikkeling en aanpassing in elke sfeer gebeur, bly hierdie grense tussen hierdie vier ryke ondeurdringbaar.
[32]         Oor hierdie kardinaal belangrike kwalifikasie, later meer uitvoerig.
[33]          Aangehaal deur C. John Collins, Science & Faith, Friends or Foes?; p.81.