God het sy enigste en innig-geliefde Seun gestuur om Sy hoogste en finale openbaring aan ons te wees. In hierdie openbaring sien ons absoluut betroubaar en akkuraat die essensie van wie en wat God is.
Wat sien ons as ons na die Seun kyk? Ons sien dat Hy "vol genade en waarheid" is. En daarom kan ons met absolute sekerheid weet dat ook die Vader vol genade en waarheid is; trouens, dat dit die wesenstrekke is van wie en wat Hy is. Per slot van rekening kies Johannes, van die duisend karaktertrekke van God wat hy sou kon gebruik, híérdie twee.
Hierdie deel van v.14 moet ons nie los van v.16-17 verklaar nie. Beide hierdie twee verse begin in die Grieks met die redegewende voegwoord, "want", wat uiteraard met die voorafgaande koppel.
Vers 16 sê dat ons uit Christus se volheid genade op genade ontvang het (kennelik Sy volheid van genade en waarheid volgens v.14).
Let ook op die verlede tyd wat gebruik word. Dit het reeds afgehandeld plaasgevind.
En v.17 stel hierdie genade en waarheid wat deur Hom gekom het naas die Ou Testamentiese wet van Moses - en dalk selfs daar teenoor.
Dit is betekenisvol dat die woord "genade" (Gr. "charis") - ten spyte daarvan dat dit aan die hart van die Nuwe Testamentiese boodskap lê - slegs 4 maal in die hele evangelie voorkom, en wel in die drie genoemde verse. Presies wat Johannes bedoel moet ons dus eerstens hieruit aflei, en tweedens uit die res van die Skrif.
Die woord "waarheid" daarenteen is een van die uitstaande begrippe in hierdie evangelie. Johannes gebruik dit 25 keer, en daarbenewens is dit swaar gelaai met betekenis.
Voorts moet ons hierdie twee begrippe, "genade" en "waarheid", nie los van mekaar probeer verklaar nie. Kennelik loop hulle hand-om-die-lyf, en dra hulle saam-saam één boodskap.
Ou Testamentiese wortels
In ons teks gaan dit oor God se selfopenbaring aan ons in die Persoon van die Woord, en oor die vertoning van Sy heerlikheid in wonderlike liefde, nederigheid en diensbaarheid. Dit laat onontkombaar mens se gedagtes loop na een van die mees uitstaande momente in die ganse Ou Testament: Eks 33-34.
Dit is ná die tragedie van die goue kalf. Moses begeer dan om God beter te leer ken (33:13). In die besonder wil hy God se heerlikheid sien (33:18). Uiteindelik lei dit dan daartoe dat die Here afkom na Moses toe en oor Homself uitroep: "Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag" (34:6-7).
Hoewel die Here ook oor Sy toorn teen sonde praat, is dit Sy onbeskryflike liefde wat voorop is in hierdie aangrypende stuk selfopenbaring. En uitstaande hierin is dat Hy Homself "vol liefde en trou" noem.
Hier is ons by twee begrippe wat óók saam-saam weer en weer in die Ou Testament gebruik word (Hb. "chesed" en "emet"). Vergelyk mens nou hierdie twee Hebreeuse begrippe met die twee woorde in ons teks - "genade" en "waarheid" - sien jy dat ons vir alle praktiese doeleindes sinonieme het. Dit word dan ook deur talle Skrifverklaarders aanvaar dat Johannes in 1:14 op Eks 34:6 sinspeel.
Wat beteken hierdie twee Ou Testamentiese woorde?
Kom ons benader dit só: ons kyk eers redelik uitvoerig na die eerste Hebreeuse begrip ("chesed"), asook sy Nuwe Testamentiese ekwiwalent ("genade"). Daarna kyk ons ietwat meer oorsigtelik na die tweede begrip ("emet") en sy Griekse ekwiwalent ("waarheid"). En uiteindelik besin ons dan oor 'n paar praktiese implikasies daarvan dat ons in Christus God se genade en waarheid by uitnemendheid sien.
God se verbondsliefde en ontfermingsgenade
"Chesed" is een van die skitter-begrippe in die woordeskat van die Ou Testament (240x). Dit word as 'n eienskap van menslike godsvrug genoem, maar veral is dit een van God se uitstaande karaktertrekke. Ps 136, wat as sentrale tema het dat daar aan Jahweh se liefde geen einde is nie, sê in elkeen van sy 26 verse dat die Here se "chesed" tot in ewigheid is.
Die OAV vertaal met "goedertierenheid", en die NAV gewoon met "liefde". Maar hierdie is 'n baie bepaalde soort liefde.
• Hierdie is nie maar 'n onpersoonlike soort liefde nie - liefde op 'n afstand nie. Dis verhoudingsliefde. Dit word ten nouste geassosiëer met die idee van verbond. In die geval van God is dit dus Sy verbondsliefde vir Sy geroepe en uitverkore volk - en veral vir diegene daarin wat erns maak met die verbondsbepalinge.
• Die begrip impliseer persoonlike betrokkenheid en toewyding wat bo die eise van plig, konvensie of wet uitstyg. Een woordeboek beklemtoon dat dit 'n liefde is wat gepaard gaan met krag en volharding - krag om die aandrange van die liefde te gehoorsaam; volharding om ten spyte van watter struikelblokke ook al daarmee vol te hou.
• Verder toon 'n studie van hierdie Hebreeuse begrip dat dit veral ook die idee van God se genade dra. Vandaar, waarskynlik, dat Johannes die Griekse woord vir "genade" in ons teks gebruik. En wie kan ontken dat die begrip "genade" aan die hart lê van die res van die Nuwe Testament? Tewens, haal genade uit die evangelie uit, en alles stort in duie.
"Chesed" dui dus op God se onwankelbare en vasbeslote toewyding aan die mense met wie Hy in 'n verbondsverhouding staan. J.I. Packer stel dit só: "it is essentially a matter of faithfulness to the covenant promise whereby He bound Himself to be Israel's God and to use all the resources of deity to bless them." Waarskynlik is die beste vertaling dus "verbondsliefde" of "ontfermingsgenade".
Genade
Soos reeds gesê, is "genade" nie 'n woord wat Johannes dikwels gebruik nie. Dis by uitstek Paulus se woord. Ruimte laat ons nie naastenby toe om op hierdie wonderlike en ryk begrip in te sak nie. Laat ons dus met 'n definisie volstaan:
God se genade is Sy vrye en ongedwonge liefdesguns in die gawe van die ewige lewe aan skuldige sondaars - wat nie alleen dit nié verdien nie, maar wat presies die teenoorgestelde daarvan verdien, naamlik die ewige oordeel.
God se genade is dus Sy soewereine en spontane goedheid, en reddende guns teenoor sondaars, wat daarin tot uitdrukking kom dat Hy (op grond van die versoeningswerk van Christus) hulle red van Sy toorn - en wel só dat Hy afstootlikes liefhet, hulle sondes vergewe, hulle aanneem as Sy kinders, Homself aan hulle openbaar, hulle in Sy volheid inlei, en alle struikelblokke in Sy pad oorkom om dit te bereik.
Genade op genade
Nou moet ons terugkeer na Jh 1. In v.15 val Johannes homself as 't ware in die rede. Die verbysterende stellings wat hy in v.14 maak, is nie oordrewe nie. Die gerespekteerde Johannes die Doper het soortgelyke dinge oor die mensgeworde Woord gesê, naamlik dat Hy van ewigheid af waarlik God was!
En indien die lesers steeds wonder of hulle nie dalk te doen het met 'n klompie wilde stellings van twee eksentrieke mans nie, herinner Johannes hulle dan in v.16 dat alle ware gelowiges proefondervindelik verstaan waarvan hy praat: want (Gr.) uit hierdie volheid drink hulle gedurig. En hy praat nie van 'n soebatstroompie nie; nee, hulle kry "genade op genade".
Hierdie uitdrukking is vol betekenis. Letterlik beteken dit genade in die plek van genade. Die beeld is die van branders wat onophoudelik een na die ander uitrol op 'n strand. Nooit droog die oorvloed van God se genade in Christus op nie. En vir elke situasie is daar meer as genoeg genade - keer op keer.
Voordat Johannes die duiselingwekkende wonder van God se selfopenbaring in Sy Seun in v.18 met 'n opsommende stelling saamvat, maak hy 'n finale stelling oor die genade en waarheid wat deur Christus gekom het: hoewel die heiliges van die Ou Verbond reeds al God se ontfermingsliefde (Sy "chesed") en Sy waarheid geken het, was dit soos 'n flou vlammetjie in vergelyking met die oorweldigende helder lig van Sy genade en waarheid wat nou uit Christus skyn.
God is waarheid
In die Griekse denke was waarheid (Gr. "aletheia") 'n intellektuele kwaliteit wat dui op werklikheid en egtheid teenoor valsheid, onrealiteit of blote skyn. Die Hebreeuse idee van waarheid, soos vervat in die begrip "emet", is egter baie ryker.
Sekerlik sluit dit die Griekse idee van die feitelike in. In die regspleging van Israel was dit byvoorbeeld kardinaal belangrik om seker te maak van die waarheid (die "emet") voordat 'n oordeel gefel is (Dt 13:14; 22:20; ens.).
Maar meestal het die woord ook 'n morele betekenis gedra - die van betroubaarheid en lojaliteit. So kon dit byvoorbeeld gebruik word vir 'n getuie, 'n vriend, 'n slaaf, 'n eggenoot. Iemand wat met "emet" optree, is iemand wat vertrou kan word - hy of sy is eerlik, lojaal en getrou (Gn 24:49; 42:16; Jos 2:14). Op 'n "emeth"-getuie kan jy staat maak en peil trek (Spr 14:25).
As die Bybel dus oor en oor van God sê dat Hy waarheid is, wil dit tuisbring dat Hy vertrou kan word. Sy optrede is nie onvoorspelbaar nie. Hy handel altyd in ooreenstemming met Sy karakter en beloftes. Mens weet presies waar jy met Hom staan. Sy ondernemings is vaster as die berge!
"Emet" praat van God se verbondsbetroubaarheid, Sy verbondslojaliteit!
Nou kan ons verstaan waarom Johannes die begrip "waarheid" so oor en oor gebruik. Sy Hoofkarakter is Jesus Christus - en hoe kan hy oor Hom praat sonder om aanmekaar te wys op die waarheid wat in Hom te vinde is. Nie alleen is Hyself eg en algeheel betroubaar nie; Hy openbaar God wat nie kan lieg nie. Trouens, Hy is bewys van God se betroubaarheid - want Hy was en is die vervulling van God se beloftes deur die eeue.
Luister na Johannes: Hy is "die ware lig" (1:9) - wat mens in Hom sien, wat Hy openbaar, stem absoluut ooreen met die werklikheid en onderstreep God se onkreukbare betroubaarheid. Hy is "die ware brood uit die hemel" (6:32) - wie Hom eet, wie in Hom invlug, kan sonder 'n sweem van twyfel daarop peil trek dat al God se beloftes in Hom ja en amen is.
En luister na die Here Jesus self: "Ek is die weg en die waarheid en die lewe" (14:6). "Ek is die ware wingerdstok" (15:1).
Wat sê die feit van God se ontfermingsgenade en verbondsbetroubaarheid vir ons?
1. Niks is meer eie aan God se karakter as om genade in waarheid te betoon nie.
Van alles wat waar is oor God, kies Hy twee karaktertrekke om by uitnemendheid oor Homself aan ons te openbaar: Sy ontfermingsgenade en Sy verbondsbetroubaarheid. Hierin sit die wonderlikste troos en aanmoediging vir ons, Sy kinders. Hierin moet ek en jy onsself weer en weer verbly.
God self het vreugde in die bewaring van diegene aan wie Hy liefdesgenade betoon het, asook in die waarmaking van Sy beloftes in hulle lewens.
Om die Here aan te roep, sowel in tye van voorspoed as van nood, is nie om lastig en opdringerig te wees nie. Dis om Sy selfopenbaring in Christus ernstig op te neem. Te dikwels is ons bang om die Here te vertrou, omdat ons voel ons verdien nie Sy goedheid nie. Te maklik dink ons ons pla Hom met nietighede. Maar as die Here se verbondstrou van ons verdienste moes afhang, sou nie een van ons ooit iets van Hom ontvang het nie. Nee, goedheid en getrouheid vloei spontaan uit Hom uit. Ons is immers Sy geliefde kinders.
En dis nie ons wat onsself aan Hom opgedring het nie; dis Hy wat die inisiatief geneem het. Wat sê Jesus vir Sy dissipels? "Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want dit was die wil van julle Vader om die koninkryk aan julle te gee" (Lk 12:32).
Ons hele wandel met die Here moet deurweek wees met hierdie waarhede. Laat ons nie tevrede wees met 'n afgewaterde en derderangse Christenskap nie, maar die Here in gebed bly vasgryp sodat Sy verbondsliefde elke dag soos branders oor ons rol.
Ons hemelse Vader het vreugde daarin as ons op grond van Sy Seun se verdienste onsself met die grootste vrymoedigheid weer en weer knuppeldik drink uit Sy fonteine van heil. Niks verheerlik Hom meer nie. Niks versier die evangelie meer nie. Niks maak die kerk meer aantreklik nie.
Kan jy dus sien: vrees vir die toekoms, benoudheid oor jou versorging, en angs vir die dood, is mosies van wantroue in die Here. Dis om Sy selfopenbaring in Christus te bevraagteken. Dis ten minste kleingeloof, en baie dikwels rou ongeloof. Waarlik, almal van ons het rede om ons hieroor voor die Here te verootmoedig.
Laat ons nie moeg word om mekaar aan hierdie dinge te herinner nie.
Nou kan ons dalk beter as ooit verstaan waarom die Here kompromieloos daarop aandring dat ons verlossing van A tot Z van Hom moet kom - sonder enige menslike verdienste hoegenaamd.
Die Christelike geloof verskil wesentlik van die godsdienste van hierdie wêreld - insluitende "churchianity". Die godsdienste - almal van hulle, sonder uitsondering - werk met moraliteit wat jou vir God aanvaarbaar moet maak. Dis 'n opklim na God toe teen 'n leer van goeie werke en religieuse seremonies. Die Christelike geloof, daarenteen, maak volkome staat op God se vrye genade en ontfermingsguns - wat gewortel is in Christus se verdienste alleen.
Hierdie twee benaderings verskil só radikaal, só hemelsbreed, dat hulle nie eers in dieselfde asem genoem moet word nie. In hiérdie sin kan - tewens, móét - dus gesê word dat Christene glad nie godsdienstig, oftewel religieus is nie. Ons weier volstrek om op selfs net 'n greintjie eie verdienste aanspraak of staat te maak. Ons rus met ons volle gewig op Christus - en op Hom alleen. En sou God dan blyk nié 'n God van "chesed" en "emet" te wees nie, sal ons sonder enige hoop 'n duistere ewigheid ingaan. Maar as Hy, soos Hy belowe, inderdaad betroubaar is, sal Hy - die Here ons God, besonderlik die Here Jesus Christus, ons Verlosser - ál die eer kry vir ons ewige redding!
Elke mens staan voor 'n verskriklike, meedoënlose, vlymskerp en onvermydelike keuse. Dis 'n keuse wat jou ewige bestemming bepaal. Gaan jy dit sélf probeer maak; gaan jy maar hoop vir die beste? Of gaan jy jouself volledig werp op Christus - God wat persoonlik, liggaamlik en histories mens geword het, gekruisig is en opgestaan het uit die dood?
Ek sê die keuse is onvermydelik. Miskien is dit nie heeltemal akkuraat gestel nie. Maar dít staan vaster as die berge: voordat jy nie 'n besliste en finale keuse vir Christus gemaak het nie, is jy nog op jou eie - dan moet jy self sien kom reg. Want volgens die eenstemmige en konsekwente getuienis van die Nuwe Testament sal Hy slegs 'n Verlosser wees vir diegene wat Hom, en Hom alleen, vertrou. Diesulkes sal Hy sonder uitsondering red.
Redding is uit genade alleen, op grond van Christus se verdienste alleen, deur geloof alleen.
2. Nooit kom God se genade en waarheid tot hoër uitdrukking as in die stuur van Sy Seun na hierdie wêreld toe nie.
Elkeen van ons het 'n eie aard wat ons eenvoudig móét bevredig en tot uitdrukking bring. Skrywers skryf, vrouens druk babatjies, en seuntjies klim boom.
So het God ook 'n wesensaard wat eie aan Hom is, en wat Hy tot uitdrukking móét bring. In respek gestel: God kan Homself as 't ware nie help nie - Hy móét eenvoudig in genade en waarheid optree. Niks is meer eie aan Sy wese en karakter nie. Niks gee Hom groter vreugde en vervulling nie.
Nooit kom hierdie wesensaard van God heerliker tot uitdrukking as in Christus se sending en versoeningswerk nie. En die voortgaande uitwerk van die implikasies daarvan - deur die eeue en tot in ewigheid - is 'n voortsetting daarvan.
'n Leeftyd van besinning en bepeinsing oor hierdie dinge bring jou nie tot 'n versadigingspunt nie. Inteendeel. Al wat dit doen, is om jou net meer en meer in verwondering en aanbidding te laat.
Dit moet ons egter nie verlei om die gestrenge kant van God se verbondstrou te vergeet nie. Die Bybel is vol daarvan dat die Here ook in Sy getrouheid die vloek van die verbond oor Sy volk bring indien hulle volhardend bly sondig. Ook dit is verbondstrou.
3. Laat ons in tye van swaarkry soos drenkelinge aan God se chesed-genade hang.
Laat ons in tye van krisis nie paniekerig van God se verbondsgenade en -trou vergeet nie. Onthou die verlede tyd in v.16 - ons het dit reeds afgehandeld ontvang! Hy sal ons deurdra. Male sonder tal het Hy dit trouens reeds gedoen; Hy sal dit weer en weer doen.
Selfs as ons hande dan tog gly, sal Hy ons nie in die steek laat nie. Want die Here se wese en die uitlewing daarvan is nie afhanklik van mý getrouheid nie. Dis van niks afhanklik nie! Hy het belowe, en daarby staan Hy. Mý ontrou kan Hom nie van hierdie wesenskaraktertrek beroof nie. Daarom kan Paulus vir Timoteus verseker: "as ons ontrou is - Hy bly getrou: Hy kan Homself nie verloën nie" (2Tm 2:13).
4. Ons moet die Here navolg in die betoning van chesed-genade.
Hoewel in die eerste instansie karaktertrekke van God, beteken dit nie dat liefdesontferming en verbondstrou tot Hom beperk is nie. Op ons, oor wie Sy troue guns soos branders spoel, rus daar 'n onontkombare verantwoordelikheid om dit deurgaans aan andere te betoon. Hoe lieflik beoefen Dawid dit nie in die lewe van Mefiboset nie - op grond van sy verbond met Jonatan.
Soos die Here ons God, moet ook ons die menslik-onmoontlike beoefen: ook mý trou moenie afhang van andere se prestasie nie. Hoe sal ek dit regkry? Die Here se chesed-genade sal my daarvoor toerus - as ek Hom waarlik daarvoor vertrou.
Mense wat God vrees - wat met ander woorde ontsag vir God het - is mense van "emet" (Eks 18:21; Neh 7:2). Hulle is eikebome van betroubaarheid, lojaliteit en integriteit.
Talle kere word Israel opgeroep om in waarheid en trou te leef. In Jos 24:14 maak die Here hierdie appél op die volk wat pas in die Beloofde Land gevestig het: "Betoon dan nou eerbied aan die Here en dien Hom met opregtheid en met trou (Hb. "Emet")."
Laat ons daarom standvastige mense wees; mense op wie staat gemaak kan word; mense van onkreukbare integriteit; mense wie se "ja" inderdaad "ja" is, wie se "nee" vir seker "nee" is.
5. Hoe dieper die feit van God se genade en waarheid in ons harte wortel skiet, hoe meer vrymakend is dit.
In Jh 8:31-32 sê die Here Jesus: "As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels; en julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vry maak."
Ken ons dit nie uit ervaring nie, hierdie vrymaking? Maak Godgesentreerdheid, Godsverankerdheid, Godskennis nie gesond nie? Bring dit nie toenemende oorwinning en sekuriteit nie? Dis omdat dit ons oë van onsself wegneem. Dis omdat dit ons vestig in die wese van geloof, naamlik om jou oë op die Here vas te nael.
Selfbeheptheid en geloof is wedersyds uitsluitend. En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag!
Baie predikers dink hulle moet meer moets en moenies preek as hulle 'n gemeente wil laat groei in heiligheid. Nee! Die teendeel is waar! Niks het die opheffende effekte van Godgesentreerde en Christusgefokusde prediking nie. Niks laat gelowiges so groei nie. Niks bring soveel standvastigheid nie.
6. Hoeveel aanmoediging sit daar nie in die karakter van God vir sondaars nie.
Laat sondaars weet dat die God van genade 'n vreugde daarin het om mislukkings en rebelle te red. Sy Woord leer uitdruklik dat Hy geen behae in die dood van sondaars het nie. Hy wil hê dat hulle hul moet bekeer en lewe - nie dat hulle hul verhard en gevolglik verlore gaan nie (Eseg 18:23, 30-32, OAV).
Daarom kan mens met volle Skrifmandaat elke sondaar oproep om hom of haar op grond van die Here se verbondsbeloftes op Jesus Christus te werp: "Erken dat jy 'n sondaar is wat die ewige verdoemenis verdien. Neem standpunt in teen jou sonde, bely dit teenoor die Here en pleit by Hom om jou op grond van Christus se middelaarswerk te vergewe - en om jou te verlos van die krag en gevolge daarvan!"
Niks gee die Here méér vreugde, en niks verheerlik Hom meer, as om die vuilste sondaars te red nie! Laat sondaars dus weer en weer die boodskap hoor: "Kom na Hom toe en weet vir seker: Sy chesed-genade sal jou soos die verlore seun se pa omhels!"
7. Hoe meer mens God se genade en waarheid sien, hoe meer fassineer dit jou.
Wat sien mens as jy lank en diep en weer en weer na God in Sy selfopenbaring kyk? Wat sien jy as Jesus Christus voortdurend jou blikveld vul? Hoe langer jy kyk, hoe meer sien jy dit: Ontfermingsgenade! Verbondstrou!
En hoe duideliker jy dit sien, hoe meer fassineer dit jou. En hoe meer dit jou aanspreek, hoe meer kry jy Hom lief. Ja, die Bybel praat oor 'n geweldige verskeidenheid van sake, maar algaande lees jy alles al hoe meer in die lig van hierdie wesenstrekke van God. Preke waarvan dit nie die hart is nie, bevredig jou net nie behoorlik nie. En as jy self 'n prediker is, is dít wat jy wil preek - oor en oor. Ja, die gemeente moet oor baie dinge lering kry, maar jy kan nie wag vir die volgende keer wat jy weer hieroor kan preek nie.
So het ook die apostels dit kennelik beleef. Dis hoekom Paulus kan sê dat hy niks anders as Christus wil preek nie - want dis in Hóm wat ons hierdie karaktertrekke van God by uitnemendheid sien (1Kor 2:2).
Moet dit ons verbaas? Hoegenaamd nie! As ons met God se genade en waarheid besig is, is ons besig met die hart van wie en wat Hy is. En het die essensie van ons heiligmaking nie te doen met 'n steeds dieper kennis van God nie? Is dit nie ons hoogste roeping nie? En is dit nie die wese van die ewige lewe nie (Jh 17:3)?
Ten slotte
Sagaria 8:3 is 'n wonderlike vers. As God na Sion terugkeer om in die midde van Sy mense te woon, sal Jerusalem genoem word: "Stad van Trou (Hb. "Emet"), Berg van die Here die Almagtige, Heilige Berg."
O Here, maak elke gemeente wat regtig aan U behoort tog meer en meer ‘n "stad van trou"!
Nico van der Walt

No comments:
Post a Comment