Foto: Erkenning aan Hester Hattingh (Sel.: 0723056132)

Friday, January 4, 2013

E-PREEK No. 238 - RM 13:1-7 : 'N EEUOUE MISTASTING [1]

Dit was sopas weer 16 Desember, oftewel Geloftedag. Kom ons gebruik dus die dag as die haak waaraan ons ons onderwerp ophang. Dit gaan oor hierdie dag, ja, maar onderliggend daaraan is kardinaal belangrike beginsels wat ons goed onder die knie moet hê.

Geloftedag vandag.

Dis 'n dag wat sterk religieus ingeklee en as sodanig tradisioneel hoog geag  word deur baie Afrikaners.
    Op 16 Desember 1838 is 470 Voortrekkers deur duisende Zoeloes by Bloedrivier aangeval. In die geveg is geen Voortrekker dood nie, terwyl meer as 3000 Zoeloekrygers gesneuwel het.
    Vooraf het die Voortrekkers híérdie gelofte afgelê: "Hier staan ons voor die Heilige God van hemel en aarde, om 'n gelofte aan Hom te doen dat, as Hy ons beskerm en ons vyand in ons hand sal gee, ons dié dag en datum elke jaar as dankdag, soos 'n sabbat, sal deurbring en dat ons 'n huis tot Sy eer sal oprig waar dit hom behaag, en dat ons aan ons kinders sal sê dat hulle met ons daarin moet deel tot nagedagtenis ook vir die opkomende geslagte, want Sy naam sal verheerlik word deur die roem en die eer vir oorwinning aan Hom te gee."
    Die Voortrekkers het hulle aan hierdie gelofte gehou. Die kerkgebou wat hulle opgerig het, staan steeds in Pietermaritzburg. En natuurlik het hulle  -  en ek glo meeste van hulle kinders  -  16 Desember daarna elke jaar as 'n Sondag beskou.
    Op hierdie dag dink baie Afrikaners inderdaad met verwondering en dankbaarheid teenoor die Here terug aan daardie dag. En baie van ons is deel van die "opkomende geslagte" waarvan die gelofte praat. Hoe anders kon ons geskiedenis nie verloop het nie!
    Tog is 16 Desember ook 'n dag waaroor uiteenlopende opinies en selfs verwarring in Afrikaner-Christengeledere bestaan. Eenvoudig gestel, is daar diegene wat glo dat álle Afrikaners tot in lengte van dae hierdie dag as 'n sabbat moet onderhou  -  ook die oorgrote meerderheid wie se voorouers nie by Bloedrivier was nie. En dan is daar diegene wat glo dat die gelofte as sodanig geensins op hulle betrekking het nie. Hulle voorouers was nie by Bloedrivier nie, en in elk geval was die gelofte net bindend op daardie 470 mense en miskien 'n paar geslagte wat na hulle gekom het. Ja, hulle sal die Here eer vir Sy soewereine raadsplan, maar van 1838 se gebeure gaan hulle vir seker nie méér maak as van 'n duisend ander lotsbepalende momente in die wêreldwye kerkgeskiedenis nie.

'n Klompie inleidende opmerkings

•    Die verhouding tussen kerk en staat was deur die eeue 'n bron van intense stryd, en een van die mees invloedryke faktore in die vorming van die kerk (en sekerlik die staat) soos ons dit vandag ken.
    Tot vandag toe heers daar baie verwarring in Christengemoedere oor hierdie saak. Spesifiek hier by ons hier in Suid-Afrika was skewe sieninge voor 1994 aan die orde van die dag, en sedertdien gaan die kerke  -  veral onder die Afrikaners  -  deur 'n moeilike identiteitskrisis in hul soeke na hulle plek in 'n nuwe Suid-Afrika.

•    Wat ook al ons oortuigings oor hierdie dag, laat ons eerstens dankbaar wees vir die seëninge van die Here in ons volksverlede. Laat ons soos dit Christene betaam, dankbaar wees vir elke geleentheid om gesamentlik voor die Here bymekaar te kom. En laat ons nie die Here se eer aantas deur broers en susters wat anders as ons oor die saak voel, te minag of kritiseer nie.
   
•    'n Versigtige lees van die gelofte mag dalk die verwarring oplos. Het die Voortrekkers bedoel dat ál hulle nageslagte tot in lengte van dae die gelofte moes hou? Hulle praat immers van hulle "kinders" as mense met wie hulle kon praat. En húlle viering van hierdie dag as Sabbat sou as 'n getuienis vir volgende geslagte dien. Wou hierdie klompie Voortrekkers regtig die gewetens van alle "opkomende geslagte" bind? Ons weet nie vir seker nie, en kan maar net daaroor wonder.

•    En dan, wie is vandag die voortrekkers se nageslag? Wie van ons kan sê dat daar slegs van húlle bloed in ons are vloei? Ék kan byvoorbeeld met sekerheid sê dat ek nie 'n druppel van hulle bloed dra nie. My voorgeslagte  -  soos ek  -  was almal kollonialers.

•    Hoe die Voortrekkers die saak ook al gesien het, is in die finale analise irrelevant. Sekerlik was hulle vroom, opregte en godvresende mense, maar dit beteken nie dat hulle noodwendig skerpsinnige en ingeligte prinsipiële denkers was nie. Ons mag dus nie toelaat dat hulle beskouing ons sonder meer aan die neus rondlei nie. Ons moet self die saak uitmaak en ons lewens volgens ons eie oortuigings inrig. Dít is die benadering wat die Here van 'n nageslag verwag. (Eseg 18:14-18 beskryf die beginsel).

Die verhouding tussen kerk en staat in die geskiedenis
‘n Historiese voëlvlug oor die verhouding tussen kerk en staat klaar baie vrae op.

Sakralisme

•    Deur die eeue was daar twee uiterste posisies wat hierdie verhouding betref - en nie een het gehelp om die verwarring op te klaar nie; inteendeel.
    Enersyds het sommige denkers die rolle van kerk en staat in die ordes van God laat oorvleuel en vervloei. Dit lei dan dikwels tot iets van 'n identifisering van kerk en volk - soos in die stelling: "die Afrikaners is 'n Christennasie."
    Andersyds was sommige in 'n oorreaksie teen bogenoemde. Hulle het gevolglik vir 'n radikale skeiding tussen die staat en die kerk betoog - tot so ‘n mate dat dit neergekom het op 'n skeiding tussen die staat en God. Hiervolgens het Christene niks met politiek te doen nie (piëtisme) en die staat heers outonoom met sy gesag gebaseer op die wil van die volk - die vox populi (humanistiese sekularisme).

•    Alle voor-Christelike gemeenskappe was sakraal van aard. Dit is wanneer 'n volk saamgebind word deur ‘n gemeenskaplike religieuse lojaliteit  -  wanneer almal toegewy is aan dieselfde godsdiens.
    Antieke Babilon is 'n voorbeeld hiervan. In Dn 3 lees ons hoe een en elkeen koning Nebukadnesar se goue beeld moes aanbid.
    Ook die Ou Testamentiese verbondsvolk was so 'n monolitiese, sakrale gemeenskap. Wat die godsdiens betref, was daar geen sprake van 'n vrye keuse nie.

•    Dis hulle sakralistiese denke wat die Jode van Jesus se dag in 'n krisis gedompel het oor die betaling van belasting aan 'n heidense Romeinse keiser. Toe hulle Jesus in 'n strik wou lei, het hulle Hom gevolglik gevra of Hy dink dis geoorloof om dit te doen (Mt 22:15-22). Maar die Here se antwoord is vol betekenis: "Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort." Die implikasie is duidelik: hier is twee afsonderlike lewenssfere wat mens uitmekaar moet hou; trouens, jy moenie dit laat vervloei nie.

•    Die Nuwe Testament, in die besonder die Here Jesus, het dus 'n radikaal nuwe idee in die wêreld van destyds ingedra. Wat vandag vir ons voor die hand liggend en alledaags is, was tóé rewolusionêr. Niemand het ooit vantevore godsdiens en owerheid só van mekaar geskei nie.
    Die gemeenskap is 'n samestelling van verskillende belangegroepe en lewenssfere. Dit is nie homogeen nie, maar heterogeen. Almal hoef nie in dieselfde tempel te aanbid nie. En al verskil twee mense religieus soos dag en nag, kan hulle rustig en in vrede op die markplein met mekaar handel dryf.
    Die samelewing is dus 'n gemeenskap waarin keuse ingebou is. Die voor-Christelike wêreld was voor die voet feitlik keuseloos. Maar die Nuwe Testament bring 'n totaal nuwe orde. Die samelewing bestaan uit twee groepe mense: hulle wat aan die Here behoort, en die res. So praat Mt 7 byvoorbeeld van twee poorte, twee paaie, twee huise, twee fondasies, twee bestemmings.
    Oor en oor vind ons hierdie radikaal nuwe beklemtoning in die lering van die Here Jesus.
    Sy dissipels is ín, maar nie ván die wêreld nie.
    Sy dissipels is die sout van die aarde. Sout is totaal anders as die vleis wat dit moet bewaar; en tog werk dit net as daar intieme kontak is.
    In die gelykenis van die onkruid tussen die koring (Mt 13:24-30), groei die onkruid tot en met die oesdag sy aan sy met die koring.

•    Die grens tussen koninkryksburgers en wêreldlinge loop regdeur gesinne en families: Jesus het gekom om tweedrag te bring "tussen 'n man en sy vader en tussen 'n dogter en haar moeder, tussen 'n skoondogter en haar skoonmoeder; ja, 'n man se huismense sal sy vyande wees" (Mt 10:35-36).
    Waarlik, die Here Jesus het gekom om 'n nuwe mensheid midde-in die ou mensheid te skep  -   vreemdelinge, bywoners en pelgrims in hierdie wêreld.
    Die vroeë kerk het dit verstaan. Diognetus skryf: "Hulle bewoon die land van hulle geboorte, maar as bywoners en reisigers; hulle neem aan alles as burgers deel, maar beleef dit tog soos besoekers. Elke vreemde land is vir hulle soos 'n vaderland, en elke vaderland soos 'n vreemde land. Hulle woon op aarde, maar hulle burgerskap is in die hemel."

•    Die grootste enkele rede vir die vervolging van Christene in die eerste eeue deur die Jode en die Romeine, is die feit dat sakrale stelsels geen vreemde boodskap kan duld nie. Dit bedreig die kulturele en godsdienstige homogeniteit.
    Die idee agter al die godsdienste wat vanuit die mens ontwikkel, is "do ut des": ek gee sodat jy sal gee. Mens dien dus die gode sodat hulle op hulle beurt weer na jou sal omsien.
    Nou volg dit noodwendig: godsdienstige afvalligheid vertoorn die gode en lei gevolglik tot straf. Natuurrampe en ander katastrofes beteken daarom dat die gode kwaad is. Volgens die Romeine het die Christene  - "ateïste"  deur hulle genoem  -  die gode uitgedaag. En, is geredeneer, as sodanig was die Christene se godsdienstige jukskeibrekery die oorsaak van min of meer alle rampe. Om sulke mense te vervolg, paai dus die gode en het as sodanig versoeningswaarde.

Slot

Kom ons hou vir eers hier op. Dan gaan ons DV volgende week verder. Dit sal goed wees as u die fundamentele beginsels wat ons aangesny het sal weeg en goed sal deurdink. Die waarhede wat ons hier aansny is van fundamentele belang. 'n Duisend ellendes in die kerk sou uitgeskakel word as alle Christene hierdie beginsels onder die knie sou hê.
                                                                                                                             Nico van der Walt

*    Nico v/d Walt onderskryf die historiese, internasionale en reformatoriese 1689 Baptistebelydenis, asook die Belydenis van Sola 5, 'n assosiasie van Godgesentreerde evangeliese gelowiges in Suider-Afrika.
*    Subskripsies, adresveranderings, kansellasies en korrespondensie: Postnet Suite No.148, Privaatsak X1, Northcliff, 2115.   E: nico.vanderwalt@reformed.org.za Tel. 011 476 2907; 082  848 9396.
*    Blogs: www.e-preke.blogspot.com (met skakels na nóg 4 blogs)
*    Weekliks word 'n preek soos hierdie wêreldwyd en gratis per e-pos gestuur aan mense wat dit persoonlik aangevra het.
*    Geen kopiereg.    Dupliseer gerus.    Of stuur elektronies verder.
*    Preekopnames: E: info@nunide.org.za ;  T: 012-808 3906