Foto: Erkenning aan Hester Hattingh (Sel.: 0723056132)

Saturday, March 12, 2011

ANTIPAS HEROUT No.1 : WAT ELKE CHRISTEN MOET WEET - 'n Bespreking van Rm 8:28-30


FONDAMENTSTENE VAN DIE GELOOF

Dit is opvallend dat die apostel Paulus, as hy vir die gemeentes bid, soos klokslag vir Geesgewerkte begrip en geheiligde kennis bid (Ef 1:17-18; Fil 1:9-10; Kol 1:9-10). En as hy ná die fundamentele lering van die eerste elf hoofstukke, in Romeine 12 begin met sy praktiese oproepe, "op grond van die groot ontferming van God", beklemtoon hy onmiddellik die absolute noodsaaklikheid van waarheidsbegrip vir 'n lewe wat God behaag (Rom 12:2). 'Ware waarheid' is nie 'n randsaak nie, dit is lewensbelangrik vir 'n godvrugtige lewe en ware kerkwees. Dit is waarom die apostels, naas sonde, niks met meer felheid weerstaan het as dwaalleer nie.
            Die Skrifgedeelte onder ons vergrootglas begin dus uiters betekenisvol: "Ons weet ...". Hy aanvaar elke Christen weet en verstaan die dinge waarvan hy praat. En inderdaad is die waarhede wat in ekstrakvorm in hierdie drie verse saamgeknoop is, deel van die ABC van die Christelike geloof - nie omdat dit so maklik is nie, maar omdat dit so fundamenteel is. Hy in wie se hart dit gegraveer is, het greep op van die belangrikste hoekpenne van God se heilsopenbaring. Hy het 'n lopersleutel wat een na die ander Skrifgedeelte oopsluit. Hy het 'n kompas wat keer op keer koers gee deur die doolhof van hedendaagse leringe. Hy het 'n onuitputlike bron van innerlike sekuriteit, vrede en vreugde wat hom deur 'n duisend storms dra.
            Dr. Martyn Lloyd-Jones sê oor hierdie verse: "We are considering here one of the most remarkable statements that even this apostle ever made. It is also one of the most comforting statements in the whole range of Scripture. We are surely entitled to say that in respect of the statement of exalted doctrine there is really nothing higher than this. Here is ultimate doctrine." (The Final Perseverance of the Saints, p.159). Hy gaan dan voort en wy 208 bladsye aan die behandeling van verse 28-30 (17 van sy preke op skrif).

DIE KONTEKS

In hierdie hoofstuk wil die apostel diegene wat deur geloof geregverdig is, verseker van hulle uiteindelike redding. Al is daar dus nog baie worstelinge met sonde (7:7 e.vv.) en baie lyding (8:17 e.vv.), moet hulle weet dat die almagtige en ewig-soewereine God self onfeilbaar besig is om hulle verlossing in hulle uit te werk. Daar is dus hoegenaamd níks wat hulle tot in ewigheid van Sy liefde kan skei nie. Hierin, in die finale analise, lê hulle sekuriteit - en nie in hulle eie vermoëns nie.
            Dit is waarom Paulus, wanneer hy in v. 28-30 vyf van die hoofelemente van die reddingsproses noem (hieronder een vir een behandel), hom beperk tot dinge wat God alléén doen. [Daar is uiteraard ook elemente van die reddingsproses waarby die mens wel aktief betrokke is (soos geloof, bekering, heiligmaking, volharding). Maar daarin is op sigself geen grond vir sekuriteit te vind nie, aangesien dit vanweë die mens se betrokkenheid altyd gebrekkig en feilbaar is. Gevolglik werk die apostel nie nou daarmee nie. Nadat hy egter die spyker van 'die groot ontferming van God' behoorlik ingeslaan het, laat hy wel vanaf Hoofstuk 12 die aksent op die mens se verantwoordelikheid en rol val.]

STAP VIR STAP DEUR DIE VERSE

         Die gelowige se hele lewe, "alles", moet gesien word in die lig van wat die apostel hier sê. Dit geld dus alles wat or sy pad kom, sonder uitsondering - ook die lyding en gebrokenheid (v. 17 vv) wat sy lewe nou nog kenmerk.

         Die Grieks van "ten goede meewerk" dui op 'n samewerking 'na die goeie toe'. Wat is hierdie goeie? Vers 29 is duidelik: gelykvormigheid aan die beeld van die Seun (Vgl. Heb 2:10 e.vv.). God is besig om vir Homself 'n huisgesin te skep en Hy gebruik alle lewensomstandighede en -gebeure as instrumente in die proses. Daar is dus planmatigheid, koers, bestemming in die lewe van elkeen wat deel het aan hierdie proses! En vanuit die konteks (v. 31 e.vv.) is dit duidelik dat die Here God self sal toesien dat dit uiteindelik volmaak-suksesvol uitwerk.

         Maar dit geld nie van alle mense nie. Dit is net waar van diegene wat (vir) "God liefhet" (Grieks).
            Wat beteken dit om Hom lief te hê? Hoe kom dit tot uitdrukking? 1Joh 5:3 gee die antwoord: liefde vir God is om Sy gebooie te bewaar. En om Jesus lief te hê, beteken ook presies dieselfde (Joh 14:21, 23-24; 15:9-10).
         Waarom het net sekere mense Hom lief? Omdat hulle "volgens Sý besluit geroep" is! Hier is géén sprake van menslike inisiatief, willekeur of meriete nie. Agter diegene wie se lewens gekenmerk word deur innige verlange, inspanning, worsteling en trane om hulle liefde vir die Here in gehoorsaamheid tot uitdrukking te bring, sit die uitverkiesende en herskeppende genade van 'n soewereine God.

         Vers 29 begin met "want" (Gr.). Hy motiveer dus sy stelling in die vorige vers. Waarom is v. 28 van hulle waar? Omdat hulle opgeneem is in God se ewige verlossingsplan! En oor hierdie plan gaan die apostel nou in  v. 29-30 wonderlike dinge sê.

         Die mense van wie hier gepraat word, is "vantevore geken" (die NAV se "lank tevore verkies" is 'n parafrase, maar teologies in orde). Die idee is nie dat God vooraf bloot van hulle geweet het nie, maar dat Hy hulle liefgehad het en hulle dus uitgekies het - dat Hy 'Sy hart op hulle gesit het'.
            'Om te ken' dui in die Bybel ten diepste op liefhê, eerder as op verstandelike kennis. [Gen 4:1: "die mens het sy vrou, Eva, bekén"]. Ander gedeeltes waarin dit duidelik blyk, is o.m. Eks 2:25; Amos 3:2; Jer 1:5; Matt 7:22-23 (Jesus sê nie Hy het nie van hulle geweet nie; Hy het juis 'te veel' van hulle geweet); 1Kor 8:3; 2Tim 2:19. Vgl. Joh 17:3.
            Die bepaalde begrip, 'vooraf ken', word ook op vier ander plekke in die N.T. met God as subjek gebruik: Hand 2:23 en 1Pet 1:20 (Jesus Christus as objek); Rom 11:2 (Jode as objek); 1Pet 1:2 (uitverkorenes as objek). Duidelik beteken dit meer as om bloot vooraf van iets of iemand kennis te dra - dit dui op liefhê, op verkiesing.

         Nie alleen het God hierdie mense lief nie, Hy het hulle ook "verordineer" of "bestem". Hy het dus 'n plan met hulle. Die Engelse predestine (NIV) vat die idee goed vas: om 'n 'destinasie' of bestemming vooraf vas te maak.
            Hierdie eindbestemming word dan eksplisiet deur die apostel genoem: "om gelykvormig te wees aan die beeld van Sy Seun".

         Tydens hulle lewe word hulle dan deur God "geroep". Hoewel die Bybel soms van 'n 'algemene roeping' praat as dit verwys na die Evangelie-uitnodiging wat tot alle mense gerig word (vgl. Matt 20:16; 22:14), dui 'roeping' in die Nuwe Testament meestal, soos ook hier, op 'effektiewe roeping'. Dit is God se skeppende en lewendmakende spreke wat die wedergeboorte in 'n sondaar bewerkstellig en hom so uit sy geestelike dood opwek tot die ewige lewe in Christus. Presies hier begin die toepassing, die verwerkliking van redding in 'n sondaar se lewe. Só skep God immers altyd - deur sy gesagvolle spreke. Reeds in Gen 1 kom dit nege maal soos 'n refrein: "God het gesê: Laat ... ". Vgl. ook Rom 4:17.
            Ander Skrifgedeeltes waar 'roeping' so gebruik word, is o.a.: Rom 1:6-7; 1Kor 1:9,26; Gal 1:15; Ef 1:18; Fil 3:14; 2Tim 1:8-9; Heb 3:1; 2Pet 1:10.
            Hierdie lewendmakende werk van God geskied, wanneer en soos dit Hom behaag, deur die verkondiging van die Evangelie (Rom 1:16; 10:13-15; 1Kor 1:21; 2Tess 2:14). Die 'effektiewe roeping' werk dus deur die 'algemene roeping' - deur die lewende (1Pet 1:23) waarheidswoord (Jak 1:18).

         Geestelik lewend gemaak, stel hierdie mense nou hulle geloofsvertroue in Christus en word hulle deur God "geregverdig" (die NAV se "vrygespreek" laat nie reg geskied aan die ryk en positiewe inhoud van hierdie begrip nie, soos hieronder sal blyk).
            Regverdiging (ook regverdigmaking genoem) moet gesien word teen die agtergrond van die feit dat die gevalle mens 'n dubbele probleem voor God het. 'n 'Dubbelkuur' is dus nodig om 'n sondaar te red. Enersyds moet die vloek van sy skuld voor God uitgedelg word; andersyds moet sy onvermoë om God te behaag, aangespreek word.
            Regverdiging is dus 'n dubbele juridiese uitspraak van God t.o.v. alle mense wat waarlik in Christus as Saligmaker glo. [As uitvloeisel van God se lewendmakende roeping, is selfs hierdie geloof 'n gawe van Hom (Ef 2:8-9; Fil 1:29; 2Pet 1:1)]. Agter hierdie uitspraak lê die beginsels van plaasvervanging en toerekening (Vgl. Rom 4 en 5). Die Seun van God, as Hoof van die nuwe mensheid, het in die plek van God se uitverkorenes kom staan. Negatief is hulle sondeskuld aan Hom toegereken, 'teen Sy rekening afgeskryf'. Hy is dus met hulle skuld 'gedebiteer'. Dit is egter nie al nie! Positief word Sy onuitputlike rykdom (Sy volmaakte geregtigheid, Sy gehoorsaamheid aan die Vader) aan hulle toegereken, 'na hulle rekening oorgeboek'. Hulle word dus met Sy gehoorsaamheid 'gekrediteer'. Regverdiging is iets wat 'in God se boeke' gebeur!
            As God hierdie opgestapelde sondeskuld aan Sy Seun straf, sterf Hy daaronder - maar in die proses bewerkstellig Hy vryspraak vir sondaars, sodat hulle onskuldig voor God staan (Matt 20:28; Rom 3:25; 2Kor 5:21; Gal 3:13; Kol 2:13-15; 1Tim 2:5-6; 1Pet 2:24). Dis egter net die helfte van die wonder van regverdiging. Christus se toegerekende geregtigheid maak óók dat hulle in God se boeke die status het van mense wat Sy wet volkome gehoorsaam het (Rom 1:16-17; 3:21-28; 8:33-34; 10:3-4; Fil 3:9) - en wat, as sulks, kwalifiseer vir die ewige lewe!
            Jesus se passiewe gehoorsaamheid red sondaars dus van die ewige verdoemenis; en Sy aktiewe gehoorsaamheid verwerf vir hulle die ewige saligheid.

         Uiteindelik word hierdie mense dan deur God "verheerlik". Dit verwys na die opstanding uit die dood, wanneer hulle verlossing in Christus tot volmaakte afronding sal kom. Die lang proses van redding kulmineer dan in volkome gelykvormigheid aan die beeld van die Seun (vgl.1Joh 3:2-3).
            Die 'profetiese verlede tyd' word, soos hier, gebruik om te beklemtoon dat iets, hoewel dit nog nie plaasgevind het nie, in God se ewige raadsplan vasgelê is en daarom verseker sal gebeur. Só seker sal dit gebeur, dat dit so goed as reeds gebeur het.

TEOLOGIESE IMPLIKASIES

         Paulus se sinsbou maak dit duidelik dat hierdie vyf elemente van verlossing soos die skakels van 'n onbreekbare ketting is: diegene vir wie God vantevore geken het, hulle (en nét hulle, maar inderdaad hulle álmal) word vantevore verordineer; en hulle wat vantevore verordineer is, hulle (en nét hulle, maar inderdaad hulle álmal) word geroep, ens. Hieruit volg 'n paar waarhede van onberekenbare teologiese belang - waarhede wat orals in die Skrif geleer word.

         As God Drie-enig 'n mens verlos, is dit iets wat Hý alléén soewerein inisiëer en deurvoer. Soos reeds gesê, is daar wel elemente in 'n persoon se verlossing waarby hy volledig betrokke is, maar hierdie vyf handelinge van God vorm die raamwerk waarbinne al die res plaasvind.

         In God se verlossingswerk gaan dit om spesifieke mense.

         'n Uitverkorene se verlossing is 'n ewige verlossing: dit strek vanuit die ewige verlede en vloei in die ewige toekoms in.

         So 'n verlossing is onverbreekbaar geïntegreerd: as jy dit hoegenaamd ontvang, ontvang jy alles, sonder uitsondering. Met 'alles' word al die elemente van die 'heilsorde' bedoel: uitverkiesing (as 'n sambreelterm), roeping en wedergeboorte, geloof en bekering, regverdigmaking, aanneming, heiligmaking, volharding en heerlikmaking. Om dit in Engels te stel: "It is a package deal - if you have it at all, you have it all"!

TWEE SOORTE WAARHEID

         Seersekerlik beleef ons die realiteite van ons eie geloofslewe en van wat om ons aangaan meestal anders. Ware gelowiges is pynlik bewus van die gebrokenheid van hulle lewens en van die stryd om op die pad te volhard. En as ons om ons kyk, hoe mense links en regs 'tot bekering kom', net om na verloop van tyd weer terug te val in wêreldgelykvormigheid - dan maak die gelykenis van die saaier veel meer sin as die verse waarna ons kyk.
            Dit is uiters belangrik om te begryp dat Skrifwaarheid op twee vlakke aan ons gegee word. Enersyds is daar 'belewingswaarheid' - soos ons dit beleef. Andersyds is daar 'wesenswaarheid' - dit wat regtig 'agter God se skerms gebeur'. En hoewel lg. dikwels strydig met die gelowige se belewing is, aanvaar hy dit in die geloof, wetende dat die twee vlakke van waarheid mekaar nie uitsluit nie - omdat beide deur die Heilige Gees geopenbaar is.
            'n Alledaagse voorbeeld mag help. As ons sê, 'die son gaan onder', is dit 'n belewingswaarheid. Tog weet ons 'die storie agter die storie', die wesenswaarheid, is eintlik dat die aardbol roteer en die horison tussen my en die son inskuif.
            Die gelykenis van die saaier is belewingswaarheid; Rom 8:28-30 is wesenswaarheid. Trouens, die eerste elf hoofstukke van Romeine (soos ook die eerste gedeeltes van die meeste van sy ander briewe) is grootliks wesenswaarheid. Dis die wonderlike geheimenisse van God se raadsplan en heil wat Hy met Sy kinders deel om hulle tot oorstelpte aanbidding te dring en tot dankbare gehoorsaamheid te bemoedig.
            Waarom sukkel Christene tog so om God se openbaring oor Sy uitverkiesingsliefde te glo? Ander wesenswaarhede, dikwels op dieselfde bladsy geskryf en wat eweneens net in geloof aangeneem kan word (soos dat God hulle regverdig verklaar op grond van Sy Seun se Middelaarswerk), aanvaar hulle dan sondermeer!

PASTORALE EFFEKTE

         Sodra 'n gelowige die geïntegreerdheid van God se verlossingsplan begryp, dit werklik in die geloof aanneem en vir homself toe-eien, bring dit 'n innerlike sekuriteit, vreugde en dankbaarheid wat geen geld kan koop nie.
            Hy (of sy) weet dat die voortgang en ontwikkeling van sy lewe veilig verpak is in God se ewige en onfrustreerbare raadsplan. Rom 8:31-39 word dan vir hom nie net objektiewe waarheid nie, maar inderdaad belewingswerklikheid. Níks, dit weet hy, kan hom van God se liefde skei nie!
            Hierdie vertroostende waarheid maak mens vry om die Here te dien op die enigste manier wat Hom behaag - in dankbare vrede en liefdesvertroue volgens Sy wil, soos duidelik in die Bybel beskryf.
             Soveel Christene is gedurig krampagtig op soek na 'die Here se wil' (gewoonlik buite die Skrif om), omdat hulle bang is hulle sal 'God se wil vir hul lewens' mis en teëspoed kry as hulle nie in die 'sentrum van God se wil', die 'veiligste plek', bly nie. Watter vrymaking hou gelowige omhelsing van Rom 8:28-30 nie vir hulle in nie!
            Maar, mag sommige nou wonder, sal dit nie 'n traak-my-nie-agtigheid oor gehoorsaamheid en volharding veroorsaak nie? Sal mense nie dan maar terugsit in die waan dat God alles moet doen nie?
            Die ervaring van derduisende deur die eeue is presies die teenoorgestelde. Waarhede soos dié van ons verse sus nie wáre gelowiges nie, dit lanseer hulle! Dis immers waarom die Heilige Gees dit geopenbaar het. Baseer die apostel sy oproep tot heilige toewyding aan die Here nie júís op "die groot ontferming van God" nie? Is 'vernuwing van denke' nie júís die sleutel tot 'n lewe volgens God se wil nie? (Rom 12:1-2)
            Leser, het jy die Here waarlik lief? Bevestig jou lewe van daaglikse, intelligente, bewustelike en verantwoordelike gehoorsaamheid dit? Werk jy jou eie heil uit - "met vrees en bewing"? Weet dan, dis omdat God in jou "werk om te wil sowel as om te werk na Sy welbehae" (Fil 2:12-13). En Hy doen dit, omdat Hy jou van ewigheid af liefhet en sal toesien dat jy in gelykvormigheid aan die beeld van Sy Seun tot in ewigheid deel van Sy huisgesin sal wees!
            Dien dan die Here met 'n onverdeelde hart!

Thursday, March 10, 2011

KNIBBEL No.1 : MR. ETERNITY

Dis 'n koue aand in 1956 as die predikant van Burton Street Baptist Church in Sydney die skimagtige figuur van 'n knielende man raaksien. Dié is besig om iets op die sypaadjie te skryf. "Is jý tog nie Mnr. Ewigheid nie!", roep die pastor uit. Die kerk se skoonmaker kom regop ‒ 'n skraal en besondere kort figuurtjie ‒ en antwoord met 'n sagte stem: "Ja, ek is die skuldige, meneer!"
Na 26 jaar se gissings is die geheim van "Mr. Eternity" uiteindelik opgelos. Deur die dekades heen was die woord "Eternity" gereeld soggens orals op Sydney se sypaadjies geskryf ‒ 'n stuk of 500 000 keer in netjiese groot bordkryt-letters.
Arthur Stace se verhaal is 'n uitstaande getuienis oor God se genade vir 'n sondaar en hoe Hy met die kromste stok die reguitste houe kan slaan.
Arthur is in 1884 in Sydney gebore. Hy, sy twee broers en twee susters, moes dikwels onder sakke buitenshuis slaap om hulle dronk ouers se geweld te ontkom. Die kinders het oorleef deur afgelewerde melk en brood van stoeptrappies af te steel, en deur afvalkos uit vullisdromme op te diep. Van skoolgaan was daar nie eintlik sprake nie en Arthur is die lewe ongeletterd binne. Op veertien begin hy in 'n steenkoolmyn werk (sy susters word prostitute) en kort voor lank is hy 'n volslae alkoholis. Hy steel om vir sy drank te betaal en op vyftien is hy vir die eerste keer tronk toe. Later sou hy vertel: "Ek was voortdurend dronk, altyd platsak, deur en deur sleg en totaal sonder uitsig of hoop."
In 1914 sluit hy by die weermag aan en word 'n voetsoldaat aan die Franse front in die Eerste Wêreldoorlog. Na 1918 se vrede sit hy sy beskonke lewe in Sydney voort. In die aanloop tot die depressie verloor hy sy werk en al wat oorbly, is om bedelaar te word.
Uiteindelik word die ses-en-veertigjarige dronkaard in Augustus 1930 deur God se genade gearresteer. Saam met nog 'n klompie boemelaars is hy een aand na die St. Barnabas Kerk waar kos uitgedeel sou word. Hulle moes egter eers na die besoekende prediker luister. Onder die preek kyk hy na die Christene om hom ‒ en 'n diep begeerte om te kry wat hulle het, pak hom beet. Dan bid hy die eerste keer in sy lewe. Na die diens gaan pleit hy soos die tollenaar van ouds in 'n nabygeleë park om God se vergiffenis. En soos dit altyd gebeur as 'n sondaar hom werklik gebroke en werklik opreg voor God verootmoedig, word hy deur die Here se herskeppende krag oorspoel. Hy het koek en tee gaan soek, maar hy het die Verlosser gekry.
Dit was die einde van Arthur Stace se drinkery. Hy het spoedig weer 'n werk gekry. En sy voete was vasbeslote onderweg na selfrespek, lewenssin, bruikbaarheid en koninkryksnut.
Net meer as 2 jaar na sy bekering gaan woon Arthur 'n diens by in die Burton Street Baptist Church. Die prediker is die vurige evangelis, John Ridley. Tydens sy rede sê Ridley hy wens hy kon die enkele woord "Eternity" in Sydney se strate loop en skreeu ten einde mense te herinner dat daar 'n ewigheid vir elkeen van hulle voorlê en dat jou lewe hier en nou bepaal waar jy dit gaan deurbring. Met díé roep die prediker toe uit volle bors: "Eternity! Eternity! Eternity!"
Eensklaps het die eenvoudige Arthur geweet wat sy lewensroeping is: wat Ridley nie kon doen nie, sou hý doen ‒ so ietwat aangepas. Hoewel ongeletterd, het hy huis toe gegaan en geoefen totdat hy die woord "ETERNITY" netjies in groot blokletters kon skryf.
Onder aanmoediging van sy vrou, Pearl, het hy soggens vieruur opgestaan, met 'n baadjiesak vol bordkryt Sydney se strate ingevaar, en elke paar honderd meter die woord "eternity" op die sypaadjies geskryf. Hy het die Here biddend vertrou om hom daagliks te lei oor watter deel van die stad hy moes dek.
Streng gesproke was Arthur se skrywery teen die wet ‒ en talle kere is hy amper uitgevang ‒ maar wat hom betref, het hy toestemming van die Hoogste Gesag gehad. Die koerante het begin gis oor die geheimsinnige evangelis. Dag na dag is honderde Jan Allemans aan ewigheidsrealiteite herinner. En kort voor lank was "Mr. Eternity" so deel van Sydney soos die hawebrug en Waltzing Mathilda. Hoewel verskeie mense die polisie en media geskakel het met aansprake oor die sypaadjie-profeet se identiteit, het niemand buite Arthur se huiskring geweet wie die skuldige was nie. So het dit vir baie jare aangehou.
Toe "Mr. Eternity" uiteindelik ontmasker is, het sy kollegas onthou hoe hy gereeld met die aanbreek van middagete die werksplek met 'n tas in die hand verlaat het. Hy het die uur gebruik om traktate in die stad uit te deel ‒ veral aan die minderbevoorregtes en boemelaars
Arthur Stace is in 1967 op drie-en-tagtigjarige leeftyd aan beroerte dood. Hy het sy liggaam aan die Universiteit van Sydney bemaak en versoek dat die betaling daarvoor aan liefdadigheid geskenk moes word. Toe sy liggaam 'n paar jaar later ter ruste gelê is, het honderde mense hulde kom betoon aan hierdie nederige dienskneg van Christus.
Dit word vertel ‒ hoe betroubaar weet niemand nie ‒ dat die woord "Eternity" op die klok in die Algemene Poskantoor se toring geskryf is. Die gebou is in 1965 herstel en die klok is blykbaar vir 'n enkele nag op grondvlak gehou voordat dit in die toring teruggehys is. Die volgende oggend egter, so lui die storie, het die voorman ontdek dat iemand gedurende die nag hierdie veelseggende woord daarop gegrafeer het.
Wat wel daar is vir almal om te sien, is 'n gedenkplaat naby die Sydney Operahuis met bloot die woord "Eternity" in koperletters daarop. So word die stad se inwoners herinner aan die merkwaardige mannetjie wat 'n tydlank in hulle midde was ‒ maar veral aan die enkele boodskap wat hy vir dekades lank aan hulle verkondig het. Hierdie eenvoudige maar aangrypende verhaal verskaf ook die antwoord op 'n raaisel wat miljoene mense onlangs stomgeslaan het. Net na middernag op 1 Januarie 2000 het die kleurrykste en duurste vuurwerkvertoning wat Sydney ooit beleef het, bokant die hawebrug afgespeel. Omdat hierdie stad een van die eerstes was om die nuwe millennium binne te gaan, het nie net 'n miljoen Australiërs daarna gekyk nie, maar ook TV-kykers rondom die aardbol. En reg teen die einde, as hoogtepunt, word die grootse skouspel toe só afgesluit: agt reuse vuurletters verskyn voor dermiljoene oë teen die kant van die brug: E-T-E-R-N-I-T-Y. Arthur Stace het baie liefgehad, omdat hy baie vergewe is. Hy het sy baie beperkte gawes voluit gebruik. Hy was getrou en volhardend daarin. Hy het die tyd uitgekoop. En hy het miljoene op sy manier ge-evangeliseer. Mag ook mý lewe ‒ en joune ‒ so 'n rimpeleffek soos syne hê. Mag dit dekades na my dood steeds Godverheerlikende vrug voortbring en baie, baie meer mense ten goede raak as wat ek ooit in hierdie lewe kon bereik.Laat ons die fundamentele waarheid van 2Kor 12:9-10 nooit vergeet nie: Sy (die Here se) antwoord was: 'My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.' Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.

(Erkenning en bron: Jim Cromarty, Mr. Eternity, Evangelical Times, March 2000)

Tuesday, February 15, 2011

E-PREEK No.1 - Lk 12:1-59 : DIE LES VAN DIE RYK DWAAS

Derduisende mense dring om Jesus saam om te hoor wat Hy sê. Hy waarsku hulle teen skynheiligheid en huigelary — die suurdeeg van die Fariseërs (12:1-3).
Dan spreek Hy 'n kwelvraag aan wat in baie van Sy luisteraars leef: ons durf nie teen die Fariseërs en die godsdienstige sisteem draai nie — ons sal vervolg word. En hierdie godsdiensleiers se onverdraag-saamheid teenoor jukskeibrekers blyk duidelik uit hulle latere hantering van Jesus. Dis waarom die Here dan vanaf v.5 met die mense begin praat oor Sy hemelse Vader se liefdesorg vir mense wat ter wille van Sy Seun vervolg word. En dis hoekom Hy voornemende dissipels waarsku om Hom nie te verloën nie (9-10).
Terwyl die Here Jesus egter besig is met hierdie ernstige lering, val 'n man Hom kru in die rede. In plaas van diep nadenke oor die Here se woorde, is hierdie kêrel met iets heel anders behep: sy en sy broer se getwis oor erfgeld (13).
Jesus ontken nie dat dit 'n ernstige probleem kan wees nie. Maar daarvoor is daar 'n regstelsel. Hierdie man het egter 'n dieper en groter probleem: hebsug! En na aanleiding hiervan vertel Jesus dan die gelykenis. In die proses spreek Hy iets aan wat deur die eeue, maar in die besonder ook vandag, die lewe uit groot dele van die kerk uitwurg en ontelbaar baie kerkmense die ewige saligheid kos.

DIE GELYKENIS IN 'N NEUTEDOP

'n Ryk man het 'n geweldige oes gehad. Hy het 'n probleem wat meeste mense dikwels wens hulle kan hê: sy skure is te klein. Dan doen hy die voor die hand liggende en bou groot genoeg stoorruimte. Daarmee klaar, sit hy by wyse van spreke vergenoegd agteroor en klop homself op die skouer: "Ou bulperd, uiteindelik het jy genoeg om af te tree. Daar is genoeg om jou oudag sorgeloos tegemoet te gaan. Jy het goed gedoen vir jouself. Nou is dit vir alles waaroor jy nog altyd net gedroom het. Jy het hard gewerk; geniet nou jou lewe!"
Dis waaroor ons samelewing droom, nie waar nie; dis waarvoor miljoene hulleself afsloof.
Maar daardie nag sterf die man onverwags. En hy kan nie 'n sent, nie 'n kriesel, nie 'n rafel saamneem die ewigheid in nie.
Die ergste het egter nog gewag. Niks kan erger wees as God se beoordeling van hom nie: "Jou dwaas!" Bulperd het één lewe en één kans gehad — maar dit verspeel. Al wat nou oorbly, is onuitspreeklike smarte tot in die verste ewigheid.

WAAROM IS HIERDIE MAN 'N DWAAS?

Wat is dwaasheid? Dis die weiering om die wêreld om jou te sien en te beoordeel vir wat dit werklik is. Dis om met 'n vals maatstaf te meet; dis om verkeerde prioriteite na te jaag; dis om jouself wys te maak die goeie is sleg en die slegte goed; dis om jouself te bluf.
Hierdie man is 'n dwaas, omdat hy met twee stelle beskouings werk wat baie ver van die waarheid is. En dit gaan nie oor sekondêre sake nie; dit gaan oor sake wat tot in alle ewigheid gewig dra.
Sy beskouing oor besittings slaan die bal op 'n bedenklike wyse totaal mis.
En Sy siening op wat ware lewe is, hou noodlottige gevolge vir hom in.

Wat besittings betref, dwaal hy op 4 maniere:

• Eerstens maak hy homself wys dat sy aardse besittings aan hóm behoort — dat hy dus volle seggenskap daaroor het. Dit blyk daaruit dat hy praat van sy oes, sy skure, sy graan, sy goed, sy siel. Maar hy bedrieg homself. In die absolute sin is niks syne nie. Op wie se grond het sy gewasse gedra? Wie het die reën gestuur? Selfs, wie het hom wysheid en vaardigheid en krag gegee? Wat het ons wat ons nie ontvang het nie?
Waarlik, as die Here gee, en as Hy neem, doen Hy dit as soewereine Eienaar — en wie kan dit betwis? Ons is net diensknegte, rentmeesters — uiters bestuurders, in die Here se diens.

• Tweedens maak hy homself wys dat sy besittings noodwendig vir altyd sal hou — in elk geval "vir baie jare" (19). Maar brande breek soms in pakskure uit, aardbewings vernietig huise, aandelebeurse tuimel inmekaar.

• Derdens maak hy homself wys dat sy besittings daar is vir sy plesier — om van hierdie wêreld 'n lekker plek te maak. Maar die Here gee vir ons besittings om daarmee te woeker — in Sý belang, vir Sý eer, Sý evangelie, Sý kerk, Sy armes.

• Vierdens maak hy homself wys dat sy besittings sy siel kan bevredig. Dis immers sy siel wat hy aanspreek as hy dink aan al die lekker wat op hom wag (19). Maar 'n mens se siel kan nie biefstuk eet, of goeie wyn waardeer nie. Die vrede van jou siel is nie afhanklik van goue ringe en syjaponne nie. Adrienalienopwellings het 'n siel nog nooit bevredig nie.

Wat die lewe betref, dwaal hy op 3 maniere:

• Wat die lewe hier en nou betref, dink hy net aan 'n liggáámlike bestaan. Al spreek hy sy siel aan, wil hy dit bloot beloon met lyflike bevrediging: rus, eet, drink, plesier. Die innerlike mens en sy geestelike welstand kry geen plek op sy voorkeurlys nie. Maar dis die mens se gees wat eintlik belangrik is. Dís die deel van ons menswees wat onvernietigbaar en blywend is.

• Voorts lewe hy asof hierdie lewe al is wat daar is. Hy leef, soos die Prediker sê, "onder die son." Hy berei homself hoegenaamd nie voor op die hiernamaals nie. Hy vee hom af aan die feit dat daar 'n intieme verband bestaan tussen ons lewe hier, en ons lewe hierna — dat ons lewe nóú bepaal waar en hoe ons die ewigheid gaan deurbring.

• En, derdens, soos dit met almal gaan wat soos hierdie man lewe, weier hy om rekening te hou met die komende dood. As hy van tyd tot tyd daarmee gekonfronteer word, skreeu hy vir homself dat sý heengaan so ver in die toekoms lê dat dit so goed soos nooit sal plaasvind nie.

So is 'n dwaas. Hy jaag die verkeerde dinge na. Hy leef in sy eie sprokieswêreld. Hy werk net met daardie realiteite wat hom pas. Hy kies altyd die weg van minste weerstand.

OM RYK TE WEES IN GOD

Lees mens die gelykenis oppervlakkig, lyk dit asof Jesus hierin 'n waarskuwing rig, maar niks positief in die plek daarvan stel nie. Maar die trefreël lê in die laaste vers (21). Met hierdie gelykenis plaas die Here 'n onontkombare en radikale keuse voor ons. Dit sny regdeur tot in die hart van ons bestaan. Wil jy skatte vergader, óf wil jy ryk wees in God?
As mens deur al die opsies van hierdie lewe gewaad het, bly daar uiteindelik één groot en finale keuse oor wat jy móét maak: gáán jy vir hierdie wêreld, of gáán jy vir die lewe hierna? En 'n kompromie is nie moontlik nie. Jy gaan óf vir die een, óf vir die ander. Dis wat Jesus sê.
En dis hieroor wat Hy dit het in die res van die hoofstuk. Ons tyd is te beperk om in besonderhede daarna te kyk. 'n Oorsigtelike benadering sal egter ook nuttig wees — om 'n geheelbeeld te kry.

• Eerstens sê Jesus dat Sy dissipels nie bekommerd hoef te wees oor hulle versorging as hulle dit najaag om ryk in God te wees nie (22-34). Dis mos so dat hierdie wêreld se kompensasies amper altyd te doen het met geld en besittings. Sal mens dus nie krepeer as jy nie met alle ywer opgaar nie? Nee, sê Jesus, julle Hemelse Vader sal tot in die fynste besonderhede na julle omsien — mits, natuurlik, julle allesbeheersende gerigtheid die koninkryk van God is (31).
Daarom, sê Jesus, moenie vergader nie, maar wees uitbundige uitdelers (33). Nie alleen is dit die manier om die suigkragte van hierdie wêreld te smoor nie, dis ook 'n wonderlike manier om in die hemel te belê, en dus ryk in God te wees.
Onthou, sê die Here ten slotte, alles gaan oor die gerigtheid van jou hart — en dis 'n onontkombare wetmatigheid: waar jou skat is, sal jou hart wees (34).

• Tweedens, sê die Here, moet ons verstaan dat Hy nie hier van 'n stokperdjie praat nie — iets waaraan mens net nou en dan aandag gee as jy tyd en lus het (35-48). Nee, nee! Hy praat van 'n ywer en 'n afwagting wat elke dag uitkoop vir die eer van die Here en die koms van Sy koninkryk. Dis soos 'n slaaf wat weet sy baas kan enige dag terugkeer, en daarom sorg dat alles dag na dag deur 'n ring getrek kan word. Niks is vir hom belangriker as om sy baas tevrede te
stel nie.
Anders as die ryk boer wat nou agteroor wil sit en die lewe geniet, lewe Jesus se dissipels dus met enkelhartige toewyding in die lig van die ewigheid.

• Derdens, hou so 'n lewenstyl en -gerigtheid gewigtige implikasies in (49-53). Dit bring jou in stryd met die mense en waardes van hierdie wêreld. En hierdie sondegevalle wêreld is alles behalwe verdraagsaam teenoor stroomop-lopers — teenoor mense wat 'n appél op hulle gewetens maak.
Jesus se dissipels moet daarom weet dat die lewe meestal die teenoorgestelde vir hulle sal oplewer as wat die ryk boer met sy groot oes op hoop. Hulle belê immers in die hemel en nie hier op aarde nie.

• Die Here Jesus sluit dan hierdie lewensbelangrike stuk lering in die vierde plek af met 'n verwyt en 'n dringende oproep (54-59).
Waarom is hulle blind vir die belangrikheid van die oomblik? Waarom besef hulle nie dis die langverwagte Messias wat met hulle praat nie? Waarom dring dit nie tot hulle deur dat God se ryk met radikaal nuwe waardes en prioriteite op hulle gedaag het nie? Waarom wil hulle aangaan soos nog altyd? Waarom wil hulle steeds op die tromslag van hierdie gevalle wêreld bly voortmarsjeer?
Kom, roep Jesus die mense op, oordeel self. Is wat Ek sê nie in pas met wat God se Woord nog altyd leer nie? (57). Maak dit nie sin nie? Natuurlik! Natuurlik!
Daarom moet mense dringend besin en nie uitstel om kwaliteitsbesluite te neem nie. Niemand weet hoe lank hy of sy nog het om uit hierdie wêreld se gelid te breek nie. En om in die hiernamaals op te daag sonder 'n belegging in die hemel, is té skrikwekkend om te bedink. Om nakend voor God se regbank te moet verskyn — omdat al jou besittings in die graansuiers van hierdie wêreld lê en verrot — sal erger wees as enigiets wat in hierdie lewe met jou kan gebeur. Uit die tronk van God se oordeel sal jy nooit weer kom nie!
Een woord wat eendag, wanneer ons voor die Here se regterstoel verskyn, weer en weer deur die hofsaal sal eggo, is die vyfletterwoord: Dwaas! Dwaas! Dwaas!
Waarlik, niks, maar niks, is in hierdie oomblik vir jou en my belangriker as om die woord van Koning Jesus glashelder duidelik te hoor, en om daadkragtig daarvolgens te leef nie!